Altesaam 20 kinders is Vrydag dood in ’n gru-botsing tussen ’n vragmotor en ’n minibustaxi op die R25 tussen Verena en Bronkhorstspruit in Mpumalanga, bevestig ER24. Toe die ER24-paramedici op die toneel aankom, was die brandweer besig om die brandende vragmotor, wat op sy sy gelê het, te blus.  

Daar was luidens berigte minstens 20 kinders in die minibustaxi toe die botsing gebeur het.  

Paramedici kon eers ná die vuur geblus is, bevestig dat 13 kinders in die minibustaxi vasgekeer was wat nie betyds gered kon word nie. Hulle is op die toneel dood verklaar.

Van die leerders is glo deur lede van die gemeenskap uit die brandende voertuig gehaal. Dié kinders het van geringe tot ernstige beserings opgedoen. Hulle is op die toneel behandel en daarna na verskillende hospitale in die gebied geneem. Sedertien het verskeie instansies bevestig dat die dodetal tot 20 gestyg het.  

Die plaaslike owerheid ondersoek die voorval.