Daar is hoofsaaklik drie dinge wat jy met jou geld kan doen – jy kan dit bestee, spaar of weggee – en dit is belangrik dat jou kind dit met hul eie geld kan doen. Die onafhanklike finansiële raadgewer Sheldon Loxton gee raad oor hoe jy jou kind hiermee kan help.

Sheldon verduidelik ouers vra dikwels wat kinders op verskillende ouderdomme moet weet. “Alle kinders moet dieselfde dinge weet; dit raak net meer indiepte namate hulle ouer raak. Ouer mense sê baiekeer ‘Ek wens iemand het my dit geleer toe ek jonger was.’ Ek verwys altyd hierna wanneer ek mense se vrae beantwoord.”

Hoekom moet kinder geld bestee?

Sheldon glo kinders moet die geleentheid kry om hul geld te bestee, nie net om dit te spaar nie. “Geld in ’n rekening opgaar, gee nie jou kind die geleentheid om oor geld te leer en te leer hoe om dit reg te behandel nie. Hulle moet op ’n jong ouderdom leer hoe om slim te bestee en foute met ’n klein bedrag geld te maak,” sê hy. “Hulle moet ook leer geld bestee is deel van die lewe en hulle sal dit eendag met hul swaarverdiende geld doen.”

Sheldon sê baie kinders kry nie gereeld die geleentheid om hul eie geld te bestee nie en voel dan oorweldig wanneer hulle dit wel moet doen, soos op universiteit. “Hul geld oorweldig hulle en mors dit dan omdat hulle nie aan ’n begroting gewoond is nie. Dit is voordeliger om geld reg te bestee as om dit swak te spaar.”

Hoekom moet kinders spaar?

Volgens Sheldon is Suid-Afrikaners bekend vir hul swak spaarkultuur. “Ek glo baie daarvan stam uit dissipline wat nie vroeg genoeg vasgelê word nie. Spaar is ’n gewoonte wat gevorm moet word.”

Hy voeg by kinders wat van kleins af leer om op hul eie te spaar, leer vertraagde bevrediging. As dit oor tyd gedoen word, sien hulle die voordele van vir iets spaar. “Spaar is nie ma of pa wat gereeld geld in ’n rekening sit nie. Ek verwys na wanneer jou kind in beheer is en betrokke by die proses is. Hulle is dus bewus van die geld en hoekom hulle spaar. My oudste dogter is agt en spaar nou getrou; sy deel haar weeklikse sakgeld op in bestee, spaar en gee. Sy was nie altyd so nie!”

Hoekom moet kinders leer gee?

Sheldon meen gee is (net soos spaar) iets wat ons nie altyd vanself doen nie. Bestee is maklik, maar spaar en gee benodig leiding en bystand van ons ouers.

“As ’n ouer wil ek nie net hê my twee dogters moet slim bestee en spaar nie, ek wil ook hê hulle moet verstaan hulle kan met ’n deel van hul sakgeld ’n verskil in iemand se lewe maak wat minder bevoorreg is as hulle. Weereens moet dit nie ma of pa wees wat rondkrap vir kleingeld nie; dit moet geld wees wat aan jou kind behoort. Dit is maklik om iemand anders se geld weg te gee, maar is ’n opoffering wanneer dit jou eie geld is.

Sheldon moedig ouers aan om betrokke te wees en hul kinders te leer slim bestee, te spaar en te gee sodat hulle finansieel gesond kan leef.

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.