Na wat berig word, was mense in kontak met dié diere wat met hierdie uiters aansteeklike siekte gediagnoseer is.

Wat is hondsdolheid?

Volgens Nios se webtuiste is hondsdolheid ’n voorkombare virale siekte. Die hondsdolheidsvirus affekteer die sentrale senuweestelsel en veroorsaak siekte in die brein.

Daar is geen doeltreffende behandeling vir hondsdolheid nie en sodra die simptome eers begin, is die dood onafwendbaar.

Lees ook: Rooikop Carlie (6) reeds tweede slagoffer van hondsdolheid vanjaar

Die hondsdolheidsvirus word oorgedra van besmette diere na mense deur krapmerke, byte of lek op die slymmembrane van die lippe of oë.

Hoe voorkom ’n mens hondsdolheid?

Hondsdolheid kan op vier maniere voorkom word:

1. Immunisering vir mense teen hondsdolheid is beskikbaar. Dit is veilig en doeltreffend.

2. Ent jou troeteldiere in teen hondsdolheid. Dit is die wet. Honde en katte moet op drie maande en nege maande ’n inenting kry en dan elke drie jaar daarna.

3. Sorg dat ’n dier jou nie byt nie, veral ’n rondloperdier, ’n siek dier of een wat vreemd optree.

4. Wanneer jy blootgestel word aan ’n dier wat vermoedelik hondsdolheid het, was die wond minstens 10 minute met water en seep om die virus uit te was.

5. Kry so gou moontlik mediese hulp nadat jy blootgestel is aan ’n dier wat moontlik hondsdolheid het.

Waarna moet jy uitkyk?

Die eerste simptome is soos dié van griep. Dit sluit in koors, hoofpyn en moegheid. Die persoon sal later probleme ervaar met sy asemhaling, spysvertering en/of sentrale senuweestelsel.

Daar kan ook tekens wees van hiperaktiwiteit of verlamming wat later kan veroorsaak dat die persoon in ’n koma verval. Die pasiënt sal binne die eerste sewe dae van die siekte sterf.

Ekstra bronne: Netwerk24, www.nicd.ac.za