Die dag het eindelik aangebreek om al die prag en praal van die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro se asemrowende openingseremonie te aanskou.

A photo posted by The Olympic Games (@olympics) on

Tog besef jy dalk nie, maar van die items by vanjaar se spele het reeds Woensdag afgeskop en Suid-Afrika het ook al deelgeneem!

Twee dae gelede het ons vrouesokkerspan ongelukkig 0 – 1 teen Swede verloor. Maar ons manne met die goue stewels het hard gespeel en kon daarin slaag om nul elk gelykop teen die gasheerland te eindig.

Vanaand gaan alle oë egter op die reuse 78 000-sitplek Maracanã-stadion gevestig wees vir die skouspelagtige openingseremonie wat tradisioneel gesien word as die ware afskop van dié sportbyeenkoms.

Vanweë die aansienlike tydsverskil tussen Suid-Afrika en Brasilië, gaan jy maar jou voorraad koffie moet aanvul indien jy dit regstreeks wil kyk. Die seremonie begin skuins voor 01:00 en sal regstreeks op SABC2 en verskeie SuperSport-kanale, insluitend SS4, SS5, SSM en SSM3, uitgesaai word. Die seremonie sal na verwagting tot 05:00 aanhou. As jy egter nie ’n naguil is nie, kan jy eerder vroeg opstaan, want SS5 gaan die hele seremonie weer 06:00 Saterdagoggend begin uitsaai. Hoogtepunte van die geleentheid sal ook Saterdag deurlopend op die SuperSport-kanale wys. Om presies te wees om 10:20, 11:20, 12:20 en 13:20 op SS6 en ’n laaste keer om 14:25 op SS4. Die SABC-kanale gaan ongelukkig nie hoogtepunte wys nie.

A photo posted by The Olympic Games (@olympics) on

Hier is ’n paar kitsfeite oor die seremonie:

Die organiseerders beplan allerhande prettighede vir die seremonie wat beloof om die kultuur van Brasilië, en spesifiek dié van Rio de Janeiro, vas te vang.

Van die vertonings wat beplan word, sluit in:

  • Die Brasiliaanse model Gisele Bündchen gaan kammakastig op die loopplank beroof word! Dit is glo om die “verstedeliking van Brasilië” uit te beeld. Die dief gaan glo tussen die skare inhardloop en deur die “polisie” rondgejaag word.
  • Meer as 6 000 dansers gaan in kleurvolle kostuums ’n versigtig gekoreografeerde dans uitoefen waaraan hulle al sedert Mei oefen.
  • Die bekende Suid-Amerikaanse krotbuurte – of favela’s – gaan ook uitgebeeld word.

Die organiseerders het wel besluit om, anders as in Londen in 2012, nie uitspattig baie van die spele se begroting aan die openingseremonie te spandeer nie. Volgens bronne is net 10% van die begroting aan die opening- sowel as die eindseremonie afgestaan.

Drie van Brasilië se mees talentvolle filmmakers, Fernando Meirelles (City of God), Daniela Thomas (Linha de Passe) en Andrucha Waddington (Lope), verleen hul kreatiwiteit aan die seremonie.

Maar as die fleur, kleur en klank van die opening vir jou bloot ’n bysaak is en jy eintlik net na al die lekker sportitems wil kyk, kan jy hier loer om te sien wat alles hierdie naweek gebeur.

Watter items vind die naweek plaas?

Swem: Almal se gunsteling-item, swem, skop reeds in alle erns hierdie naweek af. Saterdag om 18:00 begin die 400m-vryslag uitdunne op SS4 en SSM. Ons Olimpiese hoop Chad le Clos swem in sy eerste item, die 200m-vryslag, Sondag om 18:19. Hierdie item sal uitgesaai word as deel van SS5 se algemene dekking van swemitems op Sondag en begin reeds om 17:55.

A photo posted by The Olympic Games (@olympics) on

Sokker:

Hoogtepunte van Woensdag se wedstryd tussen SA se sokkerspan en Brasilië sal Saterdag om 05:45 op SS4 te siene wees.

Ná ons vrouesokkerspan se nederlaag teen Swede kan jy Sondag uitsien na hul tweede kragmeting, hierdie keer teen China. Dit word Saterdag 23:50 op SABC1 en SS4 uitgesaai.

Die manne in die goue stewels speel ook weer Sondagaand om middernag teen Denemarke. SABC1 saai dié stryd regstreeks uit. Gimnastiek: Tydens 2016 se spele is almal se oë op die ratse Amerikaner Simone Biles. Dié talentvolle gimnas neem Sondag aan haar eerste gimnastiekitem deel. Vroulike gimnaste begin om 14:50 deelneem en jy kan die aksie regstreeks op SS5 dophou. As jy egter gek is oor gimnastiek kan jy al van Saterdag om 15:25 die manlike deelnemers op SS4 en SSM kyk.

A photo posted by The Olympic Games (@olympics) on

Ander items wat die naweek begin:

SATERDAG:

Boks skop om 22:00 op SS5 af. Vrouelike skermkuns begin 20:55 op SS4 terwyl manswaterpolo om 13:50 op SS7 afskop.

SONDAG:

Gesinkroniseerde duik (vroue) begin om 20:55 op SS4 en Kroasië speel basketbal teen Spanje om 23:50 op SS6.

Het jy nie DStv nie? Moenie bekommerd wees nie!

  • SABC2 gaan deur die loop van die spele elke oggend om 06:45 ’n insetsel uitsaai wat jou op hoogte gaan bring van die jongste uitslae en oor medaljes wat gewen is.
  • Elke dag vanaf 10:00 tot 12:00 kan jy ook uitsien na hoogtepunte van die dag se sportgebeure, deelnemersprofiele en die lewe in en om Rio de Janeiro.
  • Die openbare uitsaaier saai ook saans vanaf 22:00 tot 05:00 die uitdunne in die verskillende sportitems uit.
  • Op SABC3 kan jy daagliks vanaf 23:30 tot 04:30 kyk na hoogtepunte van veral tennis, vlugbal en golf.
  • SABC1 gaan deur die loop van die spele alle belangrike sokker- en basketbalwedstryde uitsaai.