Glo dit of nie, maar die Highveld-omroeper Sam Cowen kyk die troue saam met vriende, in haar eie twaalf jaar oue trourok! (En sy is nie min trots nie op die feit dat sy steeds pas in die uitrusting wat sy op haar eie troudag gedra het!)

“Die koninklike troue is die mees romantiese ding wat ek nog ooit gesien het,” sê sy. “Maar dit lyk vir my Harry het nogal ‘n harde nag agter die rug?”

Sy is gek oor die eenvoud en elegansie van die hele seremonie, sê die Generations-aktrise Sophie Ndaba. “Daar was ‘n bietjie uitspattigheid aan die begin, maar dis darem te wagte. Hulle is immers koninklikes! Hulle kan seker nie soos ons gewone spul dinge doen nie.”

Die TV-persoonlikheid Doreen Morris, meen Kate lyk pure bloubloed. “Sy het ons almal verras met haar keuse van ‘n rok. Sy lyk asof sy haar lewe lank al ‘n koninklike is,” sê sy.

Die Survivor-deelnemer Roxy Burger, wat haar eie bruid-webblad het, is ewe beïndruk. “Dit is ‘n troue so reg uit ‘n feëverhaal. Die gewone meisie het die prins gekry!” sê sy. Sy was veral meegevoer toe William vir Kate gesê het sy lyk mooi.,

Liezel van der Westhuizen, die omroeper, sê sy was só opgewonde toe Kate in die paadjie afgestap het, dat sy skoon gevoel het asof dit háár troue is. “Ek het  hoendervleis gehad.”

Selfs Liezel, wat bekend is vir haar flambojante haarstyle, was verstom oor party van die ongelooflike hoede wat die gaste gedra het.

Edith Venter stem saam. “Kate lyk pragtig en die rok pas by haar. Maar ai, die hoede wat Andrew se twee dogters aanhet!”

Die ontwerper Simon Rademan, wat ‘n spesiale trou-partytjie hou om die koninklike huwelik te vier, sê Kate het mooi gelyk, maar hy sou gehou het van ‘n langer sleep. Hy was verbaas dat sy besluit het om haar hare los te dra.

“Ek is mal oor al die tradisie en protokol. Die Britte  wys ons hoe ‘n troue moet lyk!”