Ander mense kry kinders, hy kry inspirasie, sê Nataniël. “Ek het nie stokperdjies nie; my werk is my stokperdjie. Alles waarvan ek hou – kook, ontwerp, skryf en sing – het my loopbaan geword, so ek werk heeltyd,” sê die geliefde kabaretkunstenaar, storieverteller, skrywer, etiketkenner en TV-persoonlikheid.

“Wanneer ek soggens wakker word, begin ek werk. Ek werk sewe dae per week; ek weet nie hoe om iets anders te doen nie. Ek gaan soms met vakansie, maar dan is ek binne ’n middag so verveeld dat ek terugkom.” Is hy nie bang hy ooreis hom nie? “Jy moet jou spanning minder maak, maar jy hoef nie minder te werk nie – dis ’n mite. As dit vir jou lekker is, moet jy dit doen. Ek doen waarvan ek hou. Baie mense het nie daardie voorreg nie. Hulle moet strandhuise hê, rook, rondslaap of drink, want hulle haat hul werk. Ek is in ’n toestand van absolute vryheid en 99 persent van wat ek doen, maak my gelukkig.” Nataniël is tans hard aan die werk aan sy nuutste verhoogproduksie, Mannequin, wat sedert gister (18 Augustus) by Emperors Palace in Johannesbug te sien is.

“Die storie is al langer as 10 jaar in my gedagtes. Ek het dit gehou vir my eerste roman en toe besef ek aan die begin van die jaar ek gaan nooit ’n roman skryf nie, want ek het nie die tyd of die vaardighede daarvoor nie.”

Dis toe dat hy besluit om die verhaal, wat een van sy persoonlikste vertellings nog is, op die verhoog lewe te gee.

“Die storie is letterlik wat ek in die stadium met my lewe in die land sou doen as ek die guts gehad het en die vaardighede om ’n lewe te maak sonder om sigbaar te wees,” vertel hy oor sy 79ste verhoogproduksie.

“Dit handel oor ’n groep kleremakers wat baie ongelukkig is oor die land waarin hul leef. Dan maak hulle ’n plan en begin hul avontuur vir ’n tweede lewe.”

Die vertoning is vir “enigiemand wat hou van lag en mooi musiek. Dis ’n fassinerende storie wat enige plek ter wêreld kan gebeur. Die wêreld was nog nooit in so ’n gemors soos nou nie; dis ’n Derde Wêreldoorlog waarin ons is, maar dié keer word jy van binne aangeval. Dit bekyk die situasie van hoe ’n mens leef in ’n wêreld wat nie gesond is vir jou nie. Wat kan jy doen?”

Behalwe vir oorspronklike musiek sluit die produksie ook verskeie van Nataniël se weergawe van bekende liedjies van die 1960’s en 1980’s in.

Hy deel die verhoog met Charl du Plessis (klavier), Juan Oosthuizen (kitaar), Werner Spies (baskitaar), Hugo Radyn (tromme) en die sangers Nicolaas Swart en Dihan Slabbert.

[caption id="attachment_134518" align="aligncenter" width="600"]Van links is die sanger Dihan Slabber, Nataniël en Nicolaas Swart. Foto verskaf. Van links is die sanger Dihan Slabber, Nataniël en Nicolaas Swart. Foto verskaf.[/caption]

Aanhangers kan weer uitsien na ’n verhoogprodukise was visueel inspireer. “Dis ’n fantastiese stel met pragtige kostuums en ekstras. Floris Louw (die veelbekroonde ontwerper) het ’n jaar lank daaraan gewerk,” vertel Nataniël. Die stories word in Engels en Afrikaans vertel. Mannequin is van 18 August tot 25 September 2016 op die Theatre of Marcellus-verhoog by Emperors Palace op die planke, Woensdag tot Saterdag om 20:00 en Sondae om 15:00. Save