Die nuus dat hertogin Catherine vanoggend met kwaai oggendnaarheid hospitaal toe gejaag is, het die skindertonge onmiddellik laat klap dat sy nog ’n troonopvolger in die lewe gaan bring. Dit is immers oggendnaarheid wat die vorige keer daarop gewys het dat sy swanger is met klein George.

Maar waarom kry vroue oggendnaarheid, en waarom is party vroue se simptome soveel erger as ander s’n? Ons het raad.

Wat is oggendnaarheid?

Oggendnaarheid is naarheid en braking wat by swanger vroue voorkom. Dit gebeur tipies snags of soggens en raak deur die loop van die dag minder – vandaar die term oggendnaarheid – maar dit kan enige tyd van die dag voorkom.

Hoe lank duur dit?

Oggendnaarheid verskyn algemeen om en by die sesde week van swangerskap, en duur vir die meeste vroue tot 14 weke. Ander, wat minder gelukkig is, moet tot sowat 18 weke wag voor verligting begin.

Is daar rede tot kommer?

In die meerderheid van gevalle dui oggendnaarheid op ’n gesonde en ontwikkelende baba. Maar enkele vroue ly aan ekstreme gevalle van oggendnaarheid wat so intens is dat dit tot ontwatering lei. Raadpleeg jou dokter as jou naarheid daardie punt bereik.

Verlig die simptome so:

• Rus genoeg.

• Staan stadig op – te vinnige bewegings kan lighoofdigheid en naarheid aanspoor.

• Vermy kosse wat ryk of vetterig is.

• Eet kleiner, meer gereelde porsies eerder as groot porsies.

• Drink genoeg water.

• Dra gemaklike, los klere.

Bronne: Mirror.co.uk, webmd.com, babycenter.com, medicalnewstoday.com