Geboortebeperking is so ’n persoonlike saak en vir party ma’s kan dit nogal ’n sensitiewe onderwerp wees. Opsies vir geboortebeperking het ook onlangs opskrifte gehaal toe die nuus van ’n mikroskyfie as voorbehoedmiddel  vroue laat regop sit. Ons gee jou die feite oor die intra-uteriene apparaat (IUA).

Wat is ’n IUA?

Die IUA kom uit die 1900’s. Dit is ’n T-vormige plastiekapparaat wat óf in koper omhul is óf hormone bevat. Dit word in die uterus geplaas en maak dit ’n onherbergsame omgewing vir bevrugting.

Watter soorte IUA’s is beskikbaar?

Die twee algemeenste IUA’s is die volgende:

  1. Die koper-IUA (byvoorbeeld Paraguard) stel koper van ’n draad vry wat om die basis van die IUA gedraai is. Dit bevat geen hormone. Koper tree as spermdoder op en inhibeer die sperm se beweeglikheid en lewensvatbaarheid; dit keer ook dat die sperm deur die baarmoedernekslym beweeg of dit vernietig soos dit deurbeweeg.
  2. Die hormonale IUA (byvoorbeeld Mirena) stel die hormoon progestien van die vertikale deel van die T vry en voorkom bevrugting die sperm te beskadig en die slym in die serviks te verdik sodat die sperm nie kan deurkom nie. Dit hou ook die uterus se voering (endometrium) dun, wat dan ’n swak plek is vir ’n bevrugte eier om in te plant en te groei. In party gevalle het hierdie IUA menstruele bloeding en krampe help verlig.

Hoe word ’n IUA ingesit?

’n IUA moet deur ’n professionele gesondheidswerker (verkieslik ’n ginekoloog) ingesit word. Jy gaan eers ondersoek word om die posisie, grootte en beweeglikheid van jou uterus te bepaal en seker te maak daar is geen tekens van infeksie.

In sommige gevalle kan jou dokter ’n plaaslike verdowingsmiddel aansit om moontlike ongemak by die insit van die apparaat te verminder. Die IUA word met die behulp van ’n spekulum ingesit. Jou dokter gaan moontlik ook ’n sonarskandering doen om seker te maak die apparaat sit stewig en in die regte plek.

’n IUA word so ingesit dat die toutjies van die uterus in die vaginale holte hang, maar jy behoort niks te voel nie.

Is dit pynlik?

Ons het met ’n paar SuperMa’s gepraat en die meeste meen die insit van die IUA us meer ongemaklik as pynlik. Een ma het dit met ’n papsmeer vergelyk.

Moontlike newe-effekte van ’n IUA

Soos met die meeste soorte geboortebeperking het die IUA sy eie newe-effekte. Die koper-IUA het in sommige gevalle swaarder en pynliker maandstonde en rugpyn tot gevolg. Die hormonale IUA het in sommige gevolge hoofpyn, teer borste en ’n ongereelde maandstonde tot gevolg.

Let wel:

  • By albei soorte IUA is daar ’n baie klein kans dat dit kan loskom en uit die liggaam gewerp word.
  • Soos met alle ander soorte geboortebeperking (behalwe onthouding) kan dit IUA jou kanse vir swangerskap nie heeltemal uitskakel nie, net uiters laag maak.
  • ’n IUA beskerm jou nie teen seksueel oordraagbare siektes nie.
  • IUA’s kan minstens vyf jaar in plek bly, maar kan maklik verwyder word sou jy die newe-effekte as onuithoudbaar ervaar of weer swanger wou word. Sodra dit verwyder is, behoort jou vrugbaarheid onmiddellik na normaal terug te keer.
  • As geld ’n faktor is, moet jy in gedagte hou die koper-IUA is aansienlik goedkoper as sy hormonale eweknie.

- Lindsay de Freitas

Bronne: contraception.about.com, medicinenet.com, webmd.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.