Polisistiese ovariële sindroom (POS) raak miljoene vroue oor die hele wêreld, onder wie ook Victoria Beckham en Jamie Oliver se vrou, Jools.  Een van die belangrikste simptome van polisistiese eierstokke is dat jy sukkel om swanger te raak, hoewel Victoria en Jools albei die trotse ma’s van vier kinders elk is.

Hormone speel ’n rol in hierdie siekte wat veroorsaak word deur klein siste wat op ’n vrou se eierstokke groei en so ’n hormoonwanbalans veroorsaak. Dit lei op sy beurt tot ongereelde maandstonde, wat dit natuurlik moeilik maak om swanger te raak. As dit nie behandel word nie, kan dit ook lei tot ander gesondheidsprobleme, soos diabetes, hartsiektes, depressie en slaapapnee.

Dr. Israel Ortega, ’n POS-spesialis by die vooraanstaande Spaanse kliniek IVI Fertility, het lig gewerp op hierdie onderwerp en verduidelik wat dit vir vrugbaarheid beteken.

“Verwarring bestaan ongelukkig nog in die mediese wêreld oor die oorsaak van POS. Daar word allerweë gedink daar is ’n genetiese skakel, maar dit moet nog wetenskaplik bewys word,” het Israel benadruk.

“Ons weet reeds baie van die vroue wat aan POS ly, ly ook aan ’n hormonale wanbalans en dit is moontlik ’n bydraende faktor. Vroue met POS toon ook ’n verhoogde vlak van testosteroon, prolaktien en luteïniseringshormoon, en hulle het dikwels ’n gebrek aan sekshormoon-bindingsglobulien, wat ook die uitwerking van testosteroon verhoog.

Soos by alle siektes, wissel die simptome en hewigheid van geval tot geval. Die vernaamste simptome is gewigstoename, ongereelde menstruasie, verlies van kophare, buitengewone haargroei op die res van die liggaam en ’n onvermoë om swanger te raak.

“As jy enige van die simptome wat an POS gekoppel word, ervaar, is dit in die eerste plek raadsaam om ’n afspraak met jou huisdokter te reël sodat hulle die nodige toetse kan doen en enige ander siektes kan uitskakel. Hulle kan selfs in party gevalle ’n ultrasoniese skandering en/of bloedtoets laat doen as deel van die ondersoekproses. Ná ’n diagnose kan jy verwys word na ’n POS-spesialis wat jou sal raad kan gee oor die beste manier om die simptome te beheer,” het Israel verduidelik.

Daar is ongelukkig nie ’n kuur vir POS nie, maar jy kan die simptome in toom hou. ’n Gewigsbeheerprogram kan doeltreffend wees aangesien studies getoon het dat ’n gewigsverlies van slegs 5 persent ’n positiewe uitwerking kan hê op die POS van vroue wat oorgewig is.

Voorbehoedpille kan help om menstruasie gereelder te maak, en vroue wat wil swanger raak, word aangeraai om ’n vrugbaarheidspesialis te spreek.

Hulle sal kan uitvind of enige ander probleem, soos geblokkeerde fallopiese buise, bestaan en jou dan raad gee oor die beste soort medikasie. Klomifeen word dikwels eerste voorgeskryf. Dit word gebruik om die gereelde vrylating van die eiertjie uit die eierstokke aan te moedig. As hierdie metode onsuksesvol is, is daar nog ’n klomp ander opsies wat oorweeg kan word,” het Israel gesê.

Vir nog inligting, gaan na www.ivi-fertility.com.