Dit kan in ’n oogwink gebeur: Iemand los jou tuinhek oop, en wanneer jy Wagter vir aandete roep, is daar net stilte. Jou hond is weg...

Dit is ’n traumatiese ervaring as jou hond wegraak, maar daar is stappe wat jy kan doen om die kans te vergroot om ’n verlore troeteldier op te spoor.

Dit is altyd ’n goeie idee om vir jou hond ’n naamplaatjie met jou telefoonnommer te hê, maar dit kan afval. Jou beste keuse is om vir jou troeteldier ’n mikroskyfie te laat insit.

468-X-60-HG

Wat is ’n mikroskyfie?

Die skyfie is ’n piepklein transpondeerder wat met ’n spuitnaald onder die vel ingeplant word, gewoonlik agter die nek.

Die skyfie bevat ’n unieke kode wat op die vervaardiger se databasis geregistreer is en ook deur jou veearts in jou troeteldier se lêer aangeteken word.

Dit het geen kragbron nie en hoef nie herlaai te word nie. Dit word van onaktiewe materiaal gemaak wat nie ’n reaksie in die liggaam sal veroorsaak nie.

Wanneer ’n verlore troeteldier na ’n veearts, skuiling of reddingsgroep geneem word, word ’n skandeerder gebruik om te kyk of die dier ’n skyfie het. As een bespeur word, word die mikroskyfieregister gebel en die unieke kode op die skyfie gebruik om die eienaar se inligting op te spoor.

Hoeveel kos dit?

Mikroskyfies se pryse wissel. Liefdadigheidsagentskappe bied goeie pryse (die Dierebeskermingsvereniging vra sowat R250) en baie reddingsgroepe bied afslagpryse by sekere veeartse. Daar is gewoonlik ’n jaarlikse dienstarief (Identipet s’n is sowat R55).

Wie kan die databasis sien?

Gemagtigde gebruikers soos veeartse, die Dierebeskermingsvereniging en dierewelsynorganisasies het toegang tot mikroskyfie-ondernemings se databasisse.

Sal dit my troeteldier seermaak?

Die insit van ’n mikroskyfie vereis nie ’n operasie of verdowing nie. Die naald is dikker as die een wat vir inentings gebruik word, en al ervaar party diere ’n bietjie pyn, is die prosedure vinnig verby.

Watter diere kan mikroskyfies kry?

Alle diere kan ’n mikroskyfie kry, van ’n koi-vis of papegaai tot ’n hond of kat.

BRONNE: PUBLIC.HOMEAGAIN.COM, WWW.IDENTIPET.COM