Een van die land se mees opspraakwekkende moordverhore begin eersdaags wanneer Henri van Breda (21) op 27 Maart teregstaan op drie aanklagte van moord, sowel as een van poging tot moord en een van regsverydeling.

[caption id="attachment_136330" align="aligncenter" width="600"]Henri van Breda Vrydagoggend buite die hof in Kaapstad. Foto: Misha Jordaan. Henri van Breda buite die hof in Kaapstad.
Foto: Misha Jordaan.[/caption]

  Sy ouers, Martin (54) en Teresa (55), en broer, Rudi (22), is in die vroeë oggendure van 27 Januarie 2015 met ’n byl vermoor in hul huis op die luukse De Zalze-gholflandgoed buite Stellenbosch. Sy suster, Marli (18), het die aanval met ernstige wonde oorleef. Regter Siraj Desai, ’n gesiene regter van die hooggeregshof in Kaapstad, sal Henri se lot bepaal. Desai was onlangs in die nuus omdat hy op die kortlys was om Suid-Afrika se nuwe openbare beskermer te word.  

 

Adv. Busisiwe Mkhwebane is eindelik as Thuli Madonsela se opvolger aangewys.

Desai is al langer as 20 jaar ’n regter en het in sy loopbaan talle hoëprofielsake aangehoor, soos die moordverhoor van Najwa Petersen. Sy is in 2009 28 jaar tronkstraf opgelê weens haar aandeel in die moord op haar man, die musieklegende Taliep Petersen.

"Terwyl ek die Najwa Petersen-saak aangehoor het, moes ek die oorledene en die beskuldigde oordeel. Hulle was my portuurgroep en mense wat ek geken het," het Desai later aan News24 vertel.

Dié boorling van die werkersklasbuurt Soutrivier in Kaapstad het ook die nadoodse ondersoek gelei nadat die voormalige Protea-krieketkaptein Hansie Cronjé in 2002 in ’n vliegongeluk omgekom het. Hy het ook die mans wat die 14-jarige Valencia Farmer in 1999 verkrag en 53 keer met ’n mes gesteek het, se verhoor behartig.

Sy loopbaan is egter nie sonder omstredenheid nie en in 2004 het ’n vrou in Indië hom daarvan beskuldig dat hy haar probeer verkrag het. Sy het later dié klag teruggetrek en die hof in Indië het die saak uitgegooi. Hy en die vrou is albei Suid-Afrikaners wat daar was om ’n konferensie by te woon.

Henri se saak begin op 27 Maart in die hooggeregshof in Kaapstad. Hy staan ook tereg op ’n klag van dwelmbesit nadat hy en sy meisie, Daniellé Janse van Rensburg, verlede jaar met dagga betrap is. Hulle moet op 11 April weer in die landdroshof in Kaapstad voorkom.

Kyk hier na ’n onderhoud met Desai toe hy op die kortlys was om die nuwe openbare beskermer te word: