. Nadat dit maande lank deur onbewoonde dele van die eiland beweeg het, het dit vandeesweek Pahoa bereik. Dit het ’n straat in ’n woongebied oorgesteek, ’n tuinskuur uitgebrand en beweeg ál nader aan huise en ’n hoofweg wat deur die middedorp lei.

Die lawa is van Kilauea, een van die wêreld se aktiefste vulkane. Dit bars al sedert 1983 aktief uit.

HOE VOORSPELBAAR IS SY PAD?

Wetenskaplikes van die Amerikaanse Geologiese Opname se vulkaan-observatorium in Hawaii het die hulpbronne om aktiewe vulkane te monitor om te bepaal of ’n uitbarsting op hande is en die pad van lawavloei te voorspel.

Maar lawa is steeds ’n natuurlike verskynsel en soos met ’n orkaan is daar steeds onsekerheid.

Die eiland se topografie dra by tot afwykings in die lawa se roete, het die vulkanoloog Loyc Vanderkluysen, ’n mededosent aan die Drexel-universiteit in Philadelphia, gesê.

Die lawa het in Junie by ’n opening begin uitloop. Dit het deur digte plantegroei begin beweeg, wat dit soms moeilik gemaak het om afwykings in topografie te sien, het hy gesê.

Maar dit wil voorkom of die lawa op pad is na Pahoa Village-weg, wat deur die middedorp loop.

“Lateraal sal dit dalk effe links of regs beweeg, maar dit sal die pad bereik”, tensy dit skielik tot stilstand kom, het Loyc gesê.

Nog minder voorspelbaar is waar ’n nuwe tak lawa sal uitspruit en in ander rigtings begin beweeg.

“Ons het nie ’n goeie idee van waar vertakkings sal gebeur nie,” het hy gesê.

HOE WARM IS DIE LAWA?

Sowat 1 148 °C, volgens Janet Babb, ’n woordvoerder vir die vulkaan-observatorium in Hawaii. “Dit is 10 keer warmer as kookwater.”

Maar die temperatuur begin daal sodra die lawa aan lug blootgestel word.

“Die kors koel af; ná ’n paar dae kan jy daarop stap,” het Loyc gesê.

KAN ENIGIETS DIT KEER?

“Lawa-wegkering is ’n baie ingewikkelde saak,” het Janet gesê. “Dit is ’n ingewikkelde wetlike, politieke, tegniese en kulturele kwessie.”

Inwoners het woede uitgespreek oor voorstelle dat die lawavloei weggekeer word; hulle meen dit is kultureel onsensitief om in te meng met die wil van Pele, die Hawaise vulkaan-godin.

Vore en betonmure is gebruik om lawavloei van berg Etna in Italië te probeer keer, maar dit was net deels suksesvol.

Sulke opsies is ook uiters duur, het Loyc genoem.