’n Ouma reik uit

’n Radelose ouma in ons SuperMa-gemeenskap het onlangs haar verhaal gedeel nadat haar gesin uitgevind het haar kleindogter word by die skool gemolesteer. Die meisie is in gr. 2 en die ouma skryf: “Ek wil ander ook bedag maak op molestering by skole omdat hierdie skool ons tot dusvêr absoluut niks hulp aangebied het nie. Ons het die kind uit die skool gehaal en die polisie in kennis gestel; die saak word al vyf maande lank ondersoek, die oortreder is nog ie n hegtenis geneem nie en die berader wat die skool aanbeveel, vra R800 per sessie, wat ons nie kan bekostig nie.”

’n Helpende hand

Lynne Cawood, die direkteur van Childline Gauteng, sê dit is ’n aaklige situasie vir enige ouer of kind; sy beveel aan die ouers kontak Childline so gou moontlik met die besonderhede van die saak. Childline gaan hulle ’n terapeut na aan hulle help vind en leiding gee met dié spesifieke saak. “Ons beradingsessies is gratis en die Childline-hulplyn kan ook die saak met die polisie help opvolg as hulle die saak se besonderhede het,” sê Lynne.

Maak so

Volgens Lynne is belangrikste hulpmiddel tot die kind se herstel ’n oop, sterk verhouding tussen ma en kind, en dat die ma dit ernstig opneem en onmiddellik optree. “ ’n Hartlike verhouding tussen ma en kind beperk die kind se sielkundige skade,” voeg sy by.

Sodra dit aangemeld is en die kind van die gevaarsituasie verwyder is, moet jy dit n gedagte hou:

  • Laat hulle praat, maar wees sensitief vir hul behoeftes. Party kinders wil daaroor praat, terwyl ander eers ná ’n ruk praat. Sien die tekens raak en laat jou kind se gedrag jou lei. Praat is deel van die herstelproses, maar die kind moenie gedwing word soos hulle in die molestering gedwing is nie; hulle moet ’n mate van outonomiteit terugkry. Onthou, hulle sal die storie ook aan verskeie mense in die regstelsel moet vertel en dit kan baie traumaties wees. Berading kan hier baie help.
  • Maak seker hulle voel veilig. Vermeerder die sekuriteit by die huis, maak seker die kind is die alleen as hulle bang voel nie en vergesel hulle na die polisie- en mediese ondersoek. Probeer jou eie pyn wegsteek; dit kan die kind verder ontstel.
  • Hou die kind ingelig. Verduidelik aan hulle wat gebeur wanneer hulle die ondersoeke moet ondergaan sodat hulle voel hulle is deel van die proses, maar doen dit op ’n ouderdomsgepaste wyse. ’n Kind in gr. 2 gaan byvoorbeeld nie soveel soos ’n voortiener moet weet nie.
  • Verwelkom vrae. Lynne sê al is die kind se vrae oor die mishandeling dalk vir ouers traumaties, moet hulle dit verwelkom omdat dit wys die kind is gereed om daardeur te werk. Vertel jou kind altyd die waarheid om vertroue vas te stel, maar doen dit op ’n duidelike, ouderdomsgepaste wyse.
  • Respekteer jou kind se reg op privaatheid en vertroulikheid. Jy gaan jou kind kwesbaar laat voel as jy met ander oor die voorval praat.
  • Wis skuldgevoelens uit en bied ondersteuning. Maak seker die kind verstaan die mishandeling is nie hul skuld nie en dat jy hulle deurentyd gaan ondersteun. Dit gaan hulle help herstel en die lewe weer in ’n positiewe lig kan sien.
  • Wees sensitief vir veranderinge in die kind se gedrag. Party kinders vaar uit as ’n manier om negatiewe emosies te hanteer. Reageer sagkens, maar hou by jou grense en reëls. Die kind voel dan veilig en weet hul veilige ruimte (die huis) is steeds veilig. Probeer so gou moontlik weer in jul gewone roetine kom.
  • Kry berading. Ook vir jouself. Dit gaan help dat jy jou kind, jouself en jou familie beter ondersteun.

Meld dit aan

Hier is die stappe wat jy te wagte kan wees wanneer jy die seksuele mishandeling van ’n kind moet aanmeld:

  1. Meld die voorval by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan.
  2. Die SAPD gaan die ouers dan na die plaaslike eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe verwys.
  3. ’n Beampte gaan die kind na ’n mediese wettige kliniek neem vir ’n forensiese verslag, die toedien van anti-retrovirale middels en ’n pil wat swangerskap voorkom indien nodig. Die polisie moet die kind ook vir berading verwys.
  4. As daar genoeg bewyse is, gaan die SAPD die saak na die Nasionale Vervolgingsgesag vir vervolging verwys en die oortreder gaan in hegtenis geneem word. Die skool moet dan ook rakende die voorval stappe doen.

Childline kan met bogenoemde proses help; hulle kan ook berading in jou gebied opspoor. Hul nasionale hulplyn is 08000-55-555 en hul webtuiste, www.childline.org.za, bied meer spesifieke telefoonnommers vir elke provinsie. Hulle kan ook help met die soek na ’n plek van veilige bewaring indien nodig.

Tekens van seksuele mishandeling by kinders

Volgens Childline toon kinderslagoffers van seksuele mishandeling hierdie tekens:

  • Onvanpaste kennis van seksuele sake.
  • Seksuele of verleidelike gedrag, insluitend kompulsiewe masturbasie en seksuele interaksie met jonger kinders.
  • Trek baie lae klere aan.
  • Afwesigheid van skool sonder verskoning of met ongewone verskoning.
  • Verlies van of toename in eetlus.
  • Urienweginfeksies of gejeuk in die privaat area.
  • Selfdoodneigings of selfvernietigende gedrag insluitend selfskending.
  • Verandering in gemoed, insluitend prikkelbaarheid, depressie of ongewone woede.
  • Swak konsentrasie en gevolglike swak skoolprestasie.
  • Hulle isoleer hulself.
  • Toon regressiewe gedrag.
  • Hulle maak die bed nat of vuil.
  • Aggressie.
  • Slaapprobleme, insluitend nagmerries.
  • Psigosomatiese klagtes.

- Dalena Theron

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.