Daar het vandeesweek ’n ontstellende nuwe gier onder leerders in Kaapse skole kop uitgesteek. Kinders van so jonk as 10 speel ’n “verkragting”-speletjie.

Die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, Debbie Schäfer, het Maandag gesê as kinders, laerskoolleerders inkluis, ’n speletjie speel waar seuns meisies jaag en maak hulle hulle verkrag, dui dit op ’n ernstige probleem in ons samelewing.

Die speletjie is soortgelyk aan die aan-aan-speletjie, maar seuns jaag meisies en “verkrag” hulle 20 sekondes lank. Daarna is sy uit die spel. Die speletjie hou aan tot al die meisies “verkrag” is.

Wat moet ouers hul kinders vertel?

Debbie het ouers gevra om hul kinders by die huis te leer oor die verskil tussen reg en verkeerd. Maar wat moet aan jou kind sê as jy vermoed hulle speel hierdie speletjie?

Dit is ’n goeie idee om met jou kind te gesels oor wat toegelaat word, of jy vermoed hulle speel die speletjie of nie, sê Elise Fourie, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria.

Sy raai egter af dat jy aan kinders onder 10 verduidelik wat verkragtig is, want dit kan lei tot vrees en angs.

“Selfs met ouer kinders sal ek voorstel dat jy eerder praat oor ‘slegte aanrakings,’ ” sê Elise.

Sy stel voor jy vertel jou kinders die volgende:

  • Jou liggaam is privaat; alles wat jou swemklere bedek, is privaat.
  • Enige soort aanraking wat jou ongemaklik laat voel, is onaanvaarbaar.
  • As jy ’n ander kind aanraak en dit laat hulle ongemaklik voel, is dit onaanvaarbaar.
  • Jy mag nie aan ander kinders se privaat dele vat nie.
  • Dit maak ander kinders se gevoelens seer wanneer jy aan hul privaat dele vat.
  • Ons moenie lelike dinge met ander se liggaam doen nie.
  • Wanneer ’n seun so aan ’n meisie vat, maak dit haar ongelukkig.
  • Die meisie moet aan ’n seun sê: “Nee, dis verkeerd” en onmiddellik haar ouers daarvan vertel.
  • Seuns moet hul vriende keer as hulle sien hulle maak meisies se gevoelens seer.

- Shané Barnard

Ekstra bron: Sapa.co.za