Dié fliek, met sy swaarwigtige temas van vaderskap en vergelding, is gebaseer op ware gebeure tydens die verwoestende Grensoorlog van die 1980's.

Die rebelse Dap (Edwin van der Walt) verkwalik sy pa (Stian Bam) omdat hy destyds in die oorlog gaan veg het. Hy voel sy pa het vir die Apartheidsregering geveg, en hierdie geskil lei tot ’n hewige woordewisseling tussen pa en seun.

Ons het die vervaardigers genader vir ’n paar kitsfeite oor dié rolprent:

1. Heelwat van die oorlogstonele in die fliek is gebasseer op ware gebeure. Die opblaas van die brug oor die Cuitorivier in Angola was byvoorbeeld deel van die millitêre operasie Coolidge wat in 1987 plaasgevind het. Die eerste oorlogstoneel beeld ook die militêre operasie Firefox uit wat in Desember 1983 gebeur het.

2. Die vervaardiger van My Father's War, Peter Lamberti, het self in die Grensoorlog geveg.

3. My Father's War is byna 50% Afrikaans en 50% Engels. Tog het die vervaardigers gekies om ook die 50% Afrikaanse tonele oor te skiet sodat daar ’n 100% Engelse weergawe van die fliek bestaan. Die Engelse weergawe van die fliek gaan oorsee uitgereik word; plaaslike markte ontvang die weergawe met 50% Afrikaanse tonele.

4. Twee van die hoofakteurs, Edwin van der Walt en Stian Bam, het per helikopter by die fliek se bekendstelling in Fourways, Johannesburg, opgedraag. Hulle het aangekom met die presies dieselfde Aérospatiale Alouette III-helikopter as wat tydens verfilming gebruik is.

Kyk hier na ’n lokprent vir die film: