Die meeste van die swanger SuperMa’s het reeds kinders, dus is dit nie die eerste keer dat jy ’n geboortesakkie pak nie. Maar dit is ongelooflik hoeveel jy vergeet tussen die geboorte van jou eersteling en die volgende een se geboorte. Vir dié wat die eerste keer die uitstappie beplan en dié wat dit al voorheen gedoen het, is hier ’n lys van alles wat jy op daardie dag gaan nodig kry.

Daar is so baie dinge waaraan jy moet dink wanneer jy vir ’n nuwe baba voorberei. Dis lekker om te weet die hospitaalsak is iets wat jy vooraf kan afhandel. Joann Lugt is ’n geregistreerde vroedvrou en praktiseer in Kaapstad. Sy bied voorgeboorteklasse aan en sê jou hospitaalsak hang af van of jy natuurlik geboorte gaan skenk en of jy ’n keisersnit gaan kry.

Dit gaan nuttig wees vir ’n natuurlike geboorte:

  1. Die regte klere: Dit sluit in gemaklike pantoffels, ’n kamerjas vir wanneer jy in die kraamsaal rondstap (veral wanneer jy ’n aktiewe geboorte sonder epiduraal beplan), warm sokkies, ’n weggooibare kraambroekie of ou broekie, ’n bra vir borsvoeding en minstens twee stelle nagklere, vir voor en ná die geboorte. Maak seker die nagklere is so ontwerp dat jy maklik kan borsvoed. Sluit ook ’n uitrusting in waarin jy huis toe kan reis – dit moet steeds kraamklere wees.
  2. ’n Toiletsakkie: Sluit in lipsalf vir droë lippe, ’n haarrekkie as jy lang hare het, waslappe, kraamdoekies, borskussinkies en al die gewone dinge wat jy op ’n naweek weg sal saamneem, soos ’n tandeborsel en haarborsel (dalk sal jy nie grimering nodig hê nie).
  3. Masseerolie: Dit is nuttig as jou maat tydens jou kraam jou skouers of rug gaan masseer. Laventel- en roos- of malva-olie kan gemeng word met amandel-, druiwepit- of olyfolie vir ’n aangename reuk.
  4. Iets wat jou tydens jou vroeë kraam gaan besig hou: ’n Tydskrif of iPod met musiek kan nuttig wees.
  5. Peuselhappies vir jou en jou maat: Kraam kan meer as ’n dag duur en jy wil nie hê jou maat moet jou verlaat om iets te ete te gaan soek nie. Joann stel voor dat jy drie bottels water vries om aan te sluk terwyl jy kraam; dit kan jou help koel hou. Helder vrugtesap is ook nuttig.
  6. ’n Kamera, met die batterye vol gelaai!
  7. Jou ID-dokument en mediese inligting.

As jy ’n keisersnit beplan, gaan jy nie noodwendig so baie water of peuselhappies nodig het nie; dit gaan gewoonlik baie gouer as ’n natuurlike geboorte. Jy kan ook die masseerolie los.

En onthou, jy gaan ’n nuwe mensie saam met jou huis toe vat; hulle gaan ook ’n plekkie in jou sak opneem!

Bring dit vir jou baba:

  1. ’n Toiletsakkie vir jou baba: Bring boudjieroom, weggooidoeke, brandspiritus om die naelstring skoon te hou, wattebolletjies en babaseep.
  2. Klere: Pak ’n frokkie, eenstukpakkie en kombers.
  3. En laaste maar nie die minste nie (iets wat mense nogal vergeet): ’n Karsitplek!

Checkers baba

Hierdie produkte en nog baie meer is natuurlik beskikbaar by Checkers. Klik hier vir meer inligting.

- Dalena Theron

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.