Ons het onlangs vir jou vertel wat jou kind se onderwyser wil hê jy moet weet. (Lees daardie artikel hier.) Toe sit Olga Channing, ’n adjunkhoof en Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Tuine in Pretoria, saam met jou kinders en vind uit wat hulle wil hê jy en hul onderwysers moet weet. Dis tog net regverdig. En dit kan baie insiggewend wees.

Wat leerders wil hê hul ouers moet weet

  • Ons dink skoolwerk is vandag moeiliker as in die tyd toe julle op skool was.
  • Verstaan asseblief hoe baie druk ons moet hanteer.
  • Wiskunde is nie vir almal nie!
  • Ons praat nie terug nie, ons wil net graag hê julle moet na ons opinies ook luister. Moet nie ons menings minag nie.
  • Ons word ook groot en is nie almal meer klein kindertjies nie.
  • Ons probeer ons bes om goed te vaar.
  • Vertrou ons meer en gun ons ’n bietjie meer vryheid. Ons sal ons foute raaksien en daaruit leer.
  • Wees betrokke by ons en ons skool en ondersteun ons.
  • Wees asseblief realisties oor die sport en akademiese prestasies wat van ons verwag word.
  • Die lewe is nie dieselfde as toe julle kinders was nie.
  • Ons wil graag meer selfstandig wees, laat ons asseblief toe.
  • Jou kind is nie so soet as wat jy dink nie . . .
  • Ons het ook stres! Ja, ons is jonk, maar ons het!
  • Vertrou ons keuses asseblief!
  • Respekteer ons privaatheid. Dis vir ons baie belangrik!
  • Moet ons nie met ander vergelyk nie.
  • Hou op inmeng met ons verhoudings.
  • Vergeet die verlede.
  • Jy is oud, moenie jonk probeer optree nie.
  • Moenie ons vriende slegsê nie.
  • Glo ons as ons sê ons het nie huiswerk nie!
  • Ons is soms ook moeg en geïrriteerd as ons ná ’n lang dag van die skool af kom.
  • BBM is nie ons grootste probleem nie.
  • Partykeer is ons regtig te siek om skool toe te gaan.
  • Ons probeer hard om julle trots te maak!

Wat leerders wil hê onnies moet weet

  • Behandel ons met respek, dan sal u as onderwyser respek ontvang.
  • Toon begrip vir ons verskillende omstandighede en probeer verstaan hoe party van ons tuis behandel word en waarom daar soms regtig ’n geldige rede is waarom huiswerk of take nie gedoen is nie.
  • Onthou asseblief dat ons baie ander vakke ook het! Baie toetse en take kry ons onder. En dan kry ons nog huiswerk ook!
  • Gee asseblief meer aandag aan dié van ons wat met die moeilike werk sukkel. Moenie net aanneem ons verstaan alles nie.
  • Moet asseblief nie u slegte bui op ons in die klas kom uithaal nie.
  • ’n Onderwyser wat vriendelik is, maak die klas lekkerder.
  • Behandel almal asseblief regverdig, ons hou nie van onnies wat witbroodjies het nie.
  • Moet ons nie verskree nie, ons is ook net mense.
  • Ons hou van interessante lesse met prentjies, grappies, ens. Moenie net ernstig wees nie; maak soms ’n grappie met ons.
  • Ons wil ook graag ’n sosiale lewe hê. Ons lewe bestaan meestal uit huiswerk, huiswerk, huiswerk, leer, bad en slaap.
  • Moenie met ons voor die hele klas raas nie, dit verneder ons.
  • Ons hou baie van julle, moet ons asseblief nie afkraak nie.

- Olga Channing