Jy teister iemand wanneer jy op ’n onredelike manier optree en behoort te weet dat jou gedrag daardie mens – of enigiemand na aan hom of haar – geestelik, sielkundig, fisiek of ekonomies kan skade berokken, verduidelik Kathleen Rice, ’n direkteur by die regsfirma DLA Cliffe Dekker Hofmeyr.

Jy kan iemand persoonlik teister deur dié te agtervolg, af te loer, briewe, eposse of SMS’e te stuur of deur wat jy op sosialemedianetwerke bekendmaak.

’n SMS met ’n liefdesverklaring wat jou eks in die nag vir jou stuur, is nie teistering nie, tensy jy daarin gedreig of afgepers word. Seksuele boodskappe wat jou verneder of aanstoot gee, kan teistering wees as dit van iemand kom met wie jy nie ’n verhouding het nie.

Kuberboelies wat vernederende of eksplisiete video’s of foto’s van ander op sosiale netwerke versprei, kan ook kragtens die nuwe wet aangekla word. Dit gaan nie net oor die inhoud nie, sê Kathleen. As boodskappe herhaaldelik en enige tyd van die dag of nag gestuur word, kan dit ook teistering wees.

“As ’n skuldeiser ’n debiteur 20 keer per dag bel, kan dit neerkom op teistering.”

Die hof sal besluit of die gedrag onredelik is deur te kyk of ’n gewone omstander in dieselfde omstandighede op dieselfde manier sou optree.

Die nuwe Wet op Beskerming teen Teistering, wat op 27 April 2013 in werking getree het, kan jou teen enigiemand beskerm wat jou teister – sonder al die moeite en koste. In die Huisgenoot van 23 Mei 2013 verduidelik ons omvattend wat die wet behels en hoe dit jou kan help.