Dit kan vir ma’s sowel as babas traumaties wees, maar benader dit reg, en die tyd vlieg. Kenners gee raad.

Babas

“Vergeleke met ander soogdiere word babas baie onvolwasse gebore,” sê Meg Faure, ’n Kaapse arbeidsterapeut wat veral met babas werk. Jou baba is op elke manier van jou afhanklik – vir oorlewing en om basiese vaardighede aan te leer. “Al wat pasgebore babas self doen, is asemhaal en hul hartklop volhou. Die res moet hulle nog leer.”

Veral in die eerste drie maande ná geboorte kommunikeer babas deur te huil, verduidelik Nandi Sibiya, ’n Johannesburgse pediater. “Ma’s sal vroeg al die verskil ken tussen huilerigheid oor ’n nat doek, honger, moegheid of ongemak.

“Maar pasop wanneer jou baba ontroosbaar huil,” waarsku sy. As jy alles probeer het om jou kleintjie te troos, maar niks werk nie, is iets fout.

Help jou baba so 

Pasgeborenes kan maklik oorweldig voel deur al die nuwe sensoriese ervarings van hul eerste dae uit die baarmoeder, sê Meg. Jy kan dit vir jou kleinding makliker maak as jy dié goue reëls in gedagte hou:

  • Pasop vir oorstimulering. “Jou kind het nog nie die kapasiteit vir hoëvlak-interaksie nie,” verduidelik sy. Voedingstyd, badtyd en doeke omruil is klaar baie stimulerend, en te veel kan jou baba huilerig maak.
  • Jou baba moet baie slaap. Moenie jou baba probeer wakker hou omdat jy bang is hulle slaap nie in die nag nie. Wanneer hulle wakker word, behoort hulle binne ’n uur weer te gaan slaap.
  • Vermy parfuum en geparfumeerde sepe. Jou baba is gewoond aan die ongegeurde reuk van jou vel. Parfuums en ander vreemde reuke kan hulle oorweldig.
  • Wikkel jou baba in ’n kombersie toe of gebruik ’n baba-draagdoek wat jy aan jou lyf vasmaak om jou kleinding teenaan jou lyf te dra. Dit na-aap die baarmoeder-gevoel.

Dis nie ongewoon dat ma’s angstig voel ná hul kind se koms nie, veral met ’n eersteling. Trouens, dis normaal tot die eerste drie maande ná jou baba se geboorte, sê kenners, hoewel jy binne drie weke jou voete sal vind.

“Sowat 80 persent van nuwe ma’s ervaar baba-blues,” sê Alneré Turck van die Nageboortelike-depressie-ondersteunersgenootskap van Suid-Afrika (NDOGSA).

“Tranerigheid en angstigheid is normaal,” sê sy. “Die meeste nuwe ma’s slaap ook min en sukkel om aan te pas by hul ‘nuwe lyf ’ en roetine. Boonop moet jou hormone ná geboorte weer na normaal terugkeer. As ma’s ná die eerste drie weke net ál erger voel en dit ná drie maande nie beter raak nie, kan dit ’n teken wees van nageboortelike depressie.”

Help jouself so

Probeer soveel moontlik rus, is Meg se raad. “Probeer minstens een keer deur die dag ’n slapie inkry wanneer jou baba ook slaap.” Moenie swig voor onnodige druk om gou weer sosiaal te verkeer en “aan te gaan” met jou lewe nie. “Jy het tyd nodig om aan te pas.”

Mariana Symington, ’n verloskundige van die Paarl, sê dis belangrik om in dié tyd ondersteuning te hê. Sy stel die volgende voor:

  • Reël met ’n familielid of vriendin om so drie nagte by jou te kom slaap. Hulle kan die baba help oppas wanneer jy ’n lang bad nodig het of ’n paar uur ongesteurd wil slaap.
  • Hou jou klinieksuster, dokter of pediater se telefoonnommer byderhand ingeval jy dringend raad nodig het.
  • Raak baie aan jou baba; dis goed vir jou en jou baba. Probeer byvoorbeeld saam bad of laat jou baba op jou bors lê en slaap.
  • Sodra jy gemaklik is, probeer uit die huis kom. Reël met vriendinne om saam tee te drink en vat jou baba sommer saam.
  • As jy ná drie maande steeds angstig voel, gaan sien jou huisdokter, ’n klinieksuster, jou ginekoloog of vroedvrou, of bel NDOGSA se nasionale hulplyn by 082-882-0072.

- Shané Barnard