’n Skokkende foto van ’n seuntjie het dit egter verander. Die kind van net vyf jaar oud is vol stof en bloed waar hy met glasige oë op ’n helder ambulanssitplek sit.

Volgens die Telegraph is die geskokte seuntjie Omran Daqneesh een van vyf kinders wat in ’n lugaanval in Aleppo, Syrië, beseer is. ’n Vrou en twee jong mans is ook beseer.

Die ontstellende foto van klein Omran is duisende keer op sosiale media gedeel nadat Raf Sanchez, ’n joernalis in die Midde-Ooste, dit getwiet het. Nuusagentskappe wêreldwyd noem die seuntjie nou “die gesig van Aleppo”. ’n Video wys hoe hy uit die puin gehaal word van wat dalk eens sy huis in die buurt Qaterji was.

Agter in die ambulans lyk hy onbewus van die bloed wat uit sy voorkop sypel. Ná ’n ruk lig sy hand asof hy stof uit sy oog wil vee en sy handpalm raak vol bloed. Hy bekyk sy hand verstom en probeer dan die bloed aan die sitplek afvee. Die video van die aanvalle Woensdagaand toon op die oog af hoe reddingswerkers Omran uit die puin trek. Die seuntjie is die hele tyd ysingwekkend stil.
Hy is gehaas na die M10-hospitaal, waar dokters sy kopbesering behandel het. Hy is ’n paar uur later ontslaan. Dit is onduidelik of sy ouers onder die slagoffers was.

Raf berig dit was ’n lugaanval deur die Russe of Basjar al-Assad se regime.

Volgens CNN is duisende mense in die stad in die noorde van Sirië al tydens die burgeroorlog in die land dood.

Maar bomaanvalle het die afgelope weke verskerp in die buurt Qaterji in die ooste van Aleppo, wat onder rebelle se beheer is.

Omran se gesiggie vol stof en bloed het harte oral in die wêreld geroer, maar Raf stel dit in perspektief: Duisende kinders het al Omran se beproewing ervaar.

En erger. “Môre sal daar ongetwyfeld nog aanvalle wees en nog kinders soos Omran sal seerkry.”

Bronne: Telegraph, Time, CNN, The Guardian