Die muskiet is klein, maar dodelik. Daar is min dinge wat so irriterend kan wees as ’n vasberade muskiet wat landings- en bytplek soek terwyl jy hard probeer om ’n goeie nagrus in te pas.

mosquito

As jy nie ’n muskietnet of muskietweerder byderhand het nie, kan jy maar weet jy gaan opstaan met ’n suwwe kop en jeukerige bytplekke wat die spreekwoordelike goud in die oggendstond se mond na gekkegoud laat lyk.

Die Spanjaarde het die klein duiweltjie glo vroeg in die 16de eeu sy naam gegee – ‘mosquito’ wat klein vlieg beteken.

Lees ook: 'Pestaurant’ sit insekte voor

Min het hulle destyds geweet dat die einste klein vlieg eendag in die dodelikste van dodelike skepsels sou ontaard. Daar word gereken dat muskiete jaarliks bykans 700 miljoen mense met een of ander siekte besmet. Twee tot drie miljoen mense sterf aan hierdie infeksies.

Een van die dodelikste muskietspesies is die Anopheles-muskiet wat malaria oordra. Meer as ’n miljoen mense, veral in Afrika, sterf jaarliks daaraan. Terloops, daar word beweer dat Alexander die Grote in 323 vC aan malaria beswyk het.

Hul fyn-ontwerpte ‘radar’ stel hulle in staat om koolstofdioksied van so ver as byna 35 meter te ruik en hulle span jou liggaamsreuke en –temperatuur in om ’n slagoffer te kies.

Mannetjiesmuskiete bly ver weg van die bytery. Net die wyfie beskik oor monddele wat bloed kan suig.

Eenvoudig opgesom?

Die wyfiemuskiet steek twee pypies deur jou vel. Die een spuit ’n ensiem in wat verhoed dat jou bloed stol, die ander een suig jou bloed in haar liggaam op. Dié bloed dien as proteïene vir haar eiers. Muskietmannetjies en wyfies verkies nektar en ander plantsuikers as hul eie voedingsbron.

Hoe word malaria oorgedra??

Parasiete heg hul aan die wyfiemuskiet se ingewande en gaan jou liggaam binne terwyl sy haar aan jou bloed help.

Een van die 3 500 verskillende muskietspesies is die Aedes egypti-muskiet. Dié spesie is een van die dodelikstes. Geelkoors en denguekoors (ook bekend as beenbreek-koors) word oorgedra deur die wyfie se speeksel wanneer sy van ’n besmette mens na haar volgende slagoffer gaan.

Die nuutste onwelkome bydrae van die dodelikste dier op aarde is Zika, wat veral vir swanger vroue ’n geweldige hoë risiko inhou.

Lees ook: Dit is wat jy oor die Zikavirus moet weet

“Geen dier op ons planeet het meer mense doodgemaak as ’n muskiet nie,” sê Gordon Patterson, ’n omgewingsgeskiedkundige aan die Florida Instituut van Tegnologie. “Dit is ’n antieke sage van bloed, suiker en seks.”

Die regering van El Salvador waarsku vroue om te minste vir die volgende twee jaar nie swanger te word nie. In ’n land waar geboortebeperking baie duur en aborsies onwettig is, beloof dit ’n taai stryd te wees.

Lees ook: Zikavirus versprei na Europa

Hoe gaan jy van muskiete ontslae raak? ?Trek na die enigste plek op aarde waar hulle nog nie hulself tuisgemaak het nie: Antarktika.

Kitsfeite oor muskiete:

    • Die rooi, jeukerige bulte wat jy van musietbyte kry, is ’n allergiese reaksie op die wyfie se speeksel.
    • Dit is onwaar dat muskiete MIV versprei. Die virus wat Vigs veroorsaak word deur die wyfie se maag verteer. Dit word so afgebreek voor dit kan versprei.
    • Donker kleure behou hitte langer, wat dit ook aantreklik maak vir muskiete omdat hulle op hitte reageer.
    • Muskiete is nie baie hoog op vlermuise se ranglys van versnaperinge nie. Muskiete beslaan hoogstens 1% van vlermuise se voedsel.
    • ’n Muskiet se vlerke beweeg 300 tot 600 keer per sekonde! Nou weet jy hoekom daardie gezoem so ekstra-irriterend kan wees.
    • Die dodelikste insek is in alle waarskynlikheid een van die stadigste met ’n topspoed van 24 km/h.
    • Klein botteltjie groot gif! ’n Muskiet weeg gemiddeld 2,5 mg.

Bronne: Megacatch.com, animals, nationalgeographic.com, miamiherald.com, insects.about.com, mosquito.org

– Saamgestel deur Annelene Oberholzer

Ander stories op Huisgenoot.com

Kakkerlakke agtjarige se troeteldiere

Beskermende Amerikaanse veghond red agtjarige seun van byeswerm

Aarde! Kyk net die vreemde uitrusting waarmee dié man perdry

Hoe om te verseker jou testament sê presies wat jy wil hê dit moet sê

Plaaslike man deur nagadder gepik

Kyk: Mowgli keer terug in nuwe aflewering van The Jungle Book