Die titel dui nie op ’n spesifieke datum nie; dit is ’n metaforiese tydperk in die verre toekoms.

Die vervaardigers van die reeks herinner die kyker gereeld hieraan.

Die reeks begin met ’n gevallestudie.

“Verbeel jou jy was in ’n motorongeluk. Jou dogter is dood,” sê die verteller, Laurence Fishburne van The Matrix-faam. 

’n Sfeervormige robot dryf oor die lyk, skandeer dit en kondig aan: “Die brein is ongeskonde.”

In Year Million sal jy kan kies om ’n digitale kopie van haar brein te maak en dit op die web te laai. Kort voor lank sal sy in ’n nuwe, anorganiese liggaam voor jou staan.

In hierdie metaforiese tydperk sal “never say die” meer as net ’n spreekwoord word.

Hoewel wetenskapsfiksieliefhebbers hierdie tydperk dalk met ope arms sal verwelkom, kan dit vir ander vreesaanjaend wees. 

Volgens hierdie reeks klink dit of die wêreld soos die een in The Matrix kan word. 

“Dit kan gevaarlik wees,” het die Amerikaanse fisikus en futuris prof. Michio Kaku tydens een van sy gereelde verskynings op die program gesê. 

“Mense is klaar lief vir die virtuele realiteit; wat as hulle dit nie wil verlaat nie? Dit kan ’n verslawing word.”

Die vervaardigers van die reeks beloof dit sal jou skok, in verwondering laat en jou asem wegslaan.

Wie weet: Binnekort kyk jy dalk met ’n kontaklens so ’n reeks as ’n geskiedenisdokkie?

Kyk hier na die lokprent: