Hy is deel van die musiekgroep Dobbelsteun wat in Vredendal aan die Weskus gestig is, maar wyd en syd na feeste en danspartytjies genooi word. Hulle speel hul eie weergawes van rock-treffers, maar skryf ook nou hul eie musiek.

“Ons het die ander dag by ’n troue in Durbanville loop speel,” vertel Marais. “Dis lekker,” sê hy met sy Weskus-bry.

Hy vertel hy het die liedjie Wonder geskryf wat op hul CD sal wees.

“Jy moenie te veel wonder oor jou lewe nie. Wat die lewe ook al na jou gooi, staan op en just do it,” vertel hy.

Hy het net sy matriek voltooi toe hy ’n oproep kry van Johan van der Merwe, hoofsanger en akoestiese kitaarspeler van die groep. Hy het hom gevra of hy nie by hulle wil aansluit nie. Hy het al gehoor hoe geesdriftig dié skoolseun met sy kitaar op die skool se verhoog kan wees.

“Hoekom nie?” het Marais gedink. Hy was verlede jaar aan die Hoërskool Vredenburg en het besluit om ’n oorbruggingsjaar te vat. “Dit het volmaak vir my uitgewerk,” vertel hy.

Hy het begin kitaar speel onder aanvoering van sy stiefpa, Pierre Kershoff, wat hom sy eerste paar drukke gewys het. Nou speel hy baskitaar in die groep. Hy het seker sy aanvoeling vir musiek by sy pa, Worsie, geërf.

“Ja, is seker. Maar gene is niks sonder harde werk nie,” meen hy.

Sy halfsussie Zeree (14) is in gr. 8 op Vredendal. “Ek probeer ’n goeie grootboet wees,” vertel hy. “Sy is meer ’n sportiewe mens; goed in atletiek, gewigstoot en netbal,” vertel hy trots.

Hy oefen ten minste twee keer per week saam met Dobbelsteun, maar voor ’n optrede sal hulle probeer om elke aand te oefen.

“Ek hoor my pa was ’n easy going ou. Dit was vir hom lekker dat jy die musiek wat jy speel geniet. Hy was kalm. Ek luister na sy musiek en dit maak my trots,” vertel Marais.

Hy was agt maande oud toe sy pa in ’n vliegongeluk dood is. Hy sal nie vir almal vertel hy is sy seun nie, maar as mense uitvind, sal hulle gewoonlik kom vertel hulle het hom goed geken.

“Maar dan ken ek die oom en tannie glad nie. Ek dink my pa sou baie trots gewees het op my.”

Marais het beplan om volgende jaar te gaan studeer om ’n paramedikus, tandheelkundige of oogkundige te word. “Maar ek het besluit om my volle gewig agter die band te gooi En daar is genoeg ander werk hier rond. Ek kan op wynplase gaan werk.”

Waar kom sy bynaam, Malletjie, vandaan?

“Musiek is ’n lekker lewe. Ek sal op en af spring op die verhoog soos ’n mal ding, veral as die energie van die gehoor my aanmoedig,” sê hy. Hy is nog jonk en kan later gaan studeer, veral met die universiteite en kolleges wat nou so brand, sê hy.

Johan, ook bestuurder van die groep, vertel hulle skryf nou hul eie liedjies en musiek. Sy meisie, Anja Visser (nie familie van Marais-hulle nie), is ’n digter en hy toonset haar gevleuelde woorde.

Hul droom is om op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en by Oppikoppi op te tree. Dobbelsteun is op 3 Augustus 2013 gestig. Al die lede was van Vredendal. Johan werk by die Volkswagen-agentskap op die dorp. Hul eerste optrede was by die Vredendal-gholfklub. Die meeste van hulle ken mekaar van skooldae af. Lede het gekom en gegaan.

“Ons het gesê: ‘Kom ons gooi ’n dobbelsteentjie en kyk watter groeplid volgende kom,” vertel Johan. Dis waar die naam vandaan gekom het. Hulle het plakkate en plakkers vir die tromme laat druk. ’n Tikfout het ingesluip en dis hoe Dobbelsteun ontstaan het.

Hulle het daaraan gedink om die groep se naam te verander na iets soos Illusie of Persepsie, of om die fout reg te stel, tot hulle ten bate van die Kankervereniging van Suid-Afrika gespeel het. “Dis so oulik dat jul naam vertel van steun aan ons,” het iemand opgemerk. Dit was dit.

Die ander lede van die groep is Zelmari Munnik op tromme en Wimpie Agenbag op ritmiese elektriese kitaar.

Hulle het al by die Huisgenoot Namakwa-fees, die Vleisfees en die Kreeffees opgetree en maak ál meer aanhangers langs die pad bymekaar.

“Ons is opgewonde oor die momentum,” vertel Johan. “Hou ons dop.”

Besoek Dobbelsteun se webtuiste om te sien waar hulle volgende optree.