oscar-shrien

Annette Vergeer, die proefbeampte wat vir Oscar getuig, was ook Jaco Steyn, die sogenaamde Sondagverkragter, se proefbeampte nadat hy die eerste keer skuldig bevind is aan die seksuele misbruik van kinders. Nadat sy voorgestel het Steyn word op korrektiewe toesig vrygelaat, het hy die misdade gepleeg waarvoor hy vandag lewenslange tronkstraf uitdien.

Toe adv. Gerrie Nel, die staatsaanklaer, Annette vra of sy Dewani se saak volg, het sy saggies “God” gesê. In die Dewani-moordverhoor word ook aangevoer hy kan nie in ’n Suid-Afrikaanse tronk aangehou word nie, sou hy skuldig bevind word.

Gerrie het Annette gebraai oor haar “skokkend onvanpaste” aanbeveling van drie jaar huisarres vir Oscar.

Een van die redes wat sy aangevoer het dat Oscar nie tronk toe moet gaan nie, is die seks wat in gevangenisse tussen mans plaasvind. Omdat die tronk oorbevolk is, is daar nie eintlik privaatheid nie. Dit lei daartoe dat ander gevangenes ook aan die seks blootgestel word.

Annette het bygevoeg as Oscar tronk toe gaan, kan hy nie voortgaan met die sielkundige behandeling wat hy tans kry nie. Hierop het Gerrie gesê die wet maak voorsiening daarvoor dat gevangenes op hul eie onkoste hul eie sielkundiges kan sien. As hulle nie die geld het daarvoor nie, kan die tronk vir hulle sielkundige kry.

“So eintlik sal die hof hom ’n guns doen om hom tronk toe te stuur. Sielkundiges is daar gratis beskikbaar,” het Gerrie gesê.

Ná meer as ’n dag in die getuiebank is Annette net voor ’n vervroegde middagete verskoon. Gerrie sal ná ete sy eerste getuie roep.

– Hilda van Dyk