Ford het aangekondig hy gaan sy 1.6 liter Kuga-model herroep nadat talle van dié voertuie aan die brand geslaan het.

Die maatskappy – wat gereeld onder kritiek deurgeloop het weens hul swye oor die kwessie – het Maandag in Pretoria ’n mediakonferensie saam met die nasionale verbruikerskommissie gehou.

Reshall Jimmy is in Desember 2015 dood nadat sy Ford Kuga aan die brand geslaan het terwyl hy dit bestuur. Ford SA-grootbaas, Jeff Nemeth, het sy medelye betuig met Reshall se naasbestaandes, wat ook by die mediakonferensie was. Jeff sê daar is nog nie klaarheid oor die oorsaak van Reshall se geval nie, maar die brand het volgens hom glo nie by die enjin ontstaan nie.

“Ons sal voortgaan om met die Jimmy-familie en wetstoepassers hieroor te kommunikeer deur die kanale wat nou gevestig is. Ons nooi ook enigiemand, asook die familie, wat met inligting vorendag kom wat relevant is tot hierdie unieke en onverwante saak en moedig hulle aan om dit met wetstoepassers te deel."

Jeff sê die onlangse brandvoorvalle van die 1.6 liter Ford Kugas was nie goed vir Ford en sy kliënte nie.

“By Ford is die veiligheid van ons kliënte ons eerste prioriteit,” sê Jeff.

Hy sê data wat tydens hul ondersoek ingesamel is en onderhoudtoetse sedert Desember het die maatskappy gehelp om agter die kap van die byl te kom. Die voertuig koel glo nie genoeg af nie en dít lei tot krake in die silinders, gevolglik kan olie lek en só veroorsaak dat die kar aan die brand slaan.

Ford het bevestig daar is altesaam 39 voorvalle by die maatskappy aangemeld, maar daar is dalk nog voorvalle wat nie by hulle aangemeld is nie. Hulle moedig Kuga-eienaars met soortgelyke ervarings aan om Ford se kliëntediensspan in verband hiermee te kontak.

Die vrywillige veiligheidsherroeping is beperk tot die 1.6 liter Ford Kuga wat tussen Desember 2012 en Februarie 2014 vervaardig is.

Die maatskappy onderneem hy sal alles in sy vermoë doen om die ongerief te beperk.

“Ons is daartoe verbind om ons kliënte mobiel te hou. Sou hulle enige oorverhitting met hulle 1.6 liter Kuga ervaar, sal reëlings deur hul Ford-handelaar getref word om ’n leenmotor aan hulle te verskaf terwyl die voertuig herstel word.”

- Khatija Nxedlana