Sibongile Mani, ’n student aan die Walter Sisulu-universiteit, sal haar loopbaan begin deur ’n “studentelening” van R818 000 terug te betaal.

Dit is wat sy na bewering bestee het van die R14,1 miljoen wat verkeerdelik by haar rekening inbetaal is, het die universiteitswoordvoerder, Yonela Tukwayo, Donderdag gesê.

“Sy weet sy moet dit terugbetaal,” het Tukwayo gesê en bygevoeg die universiteit het met Mani gepraat. 

“Sy weet die geld (van die Nasionale Studentefinansieringshulpskema) is lenings; nie geskenke nie. Sy sal dit moet terugbetaal. Sy sal ongelukkig haar loopbaan begin met reuse skuld wat sy sal moet delg,” sê Tukwayo.

Mani het die nuus gehaal nadat sy na bewering op ’n inkopietog gegaan het toe die groot som geld in Junie in haar IntelliCard-rekening inbetaal is. Dit word deur die maatskappy IntelliMali bestuur. 

Balans teruggekry

Sy was veronderstel om R1 400 te ontvang, wat die limiet is wat sy by sekere kruideniers- en boekwinkels mag bestee. 

Pleks daarvan het sy oënskynlik op ’n inkopietog gegaan. Die fout is eers in Augustus ontdek.

Die balans van die geld is teruggekry, maar nou is sy vir die uitstaande bedrag aanspreeklik. 

Tukwayo sê ’n forensiese ondersoek is onderweg om vas te stel hoe Mani die IntelliCard kon gebruik by winkels wat nie deel is van die IntelliCard-netwerk nie. 

Die kaart is blykbaar by winkels gebruik wat klere van luukse handelsmerke verkoop.

Sy word ook deur regstappe in die gesig gestaar in die vorm van ’n siviele of misdaadsaak, maar die besonderhede word nog uitgepluis. 

Kommentaar van Mani was nie dadelik beskikbaar nie, maar die adjunkvoorsitter van die studenteraad, Malungisa Toli, sê sy is in ’n toestand. 

Toli is van die Pan Africanist Students Movement of Azania, waar Mani ook ’n amp beklee.

Ondersoeke

Hy sê hulle probeer haar so goed moontlik ondersteun en sal later Donderdag ’n verklaring uitreik. 

Toli kon nie bevestig of ’n nuwe Facebook-blad wat in Mani se naam opgestel is eg is nie, maar van die plasings op die blad dui daarop dat die betrokke vrou bang is oor hoe die geld terugbetaal sal word. 

Die geld word deur die Nasionale Studentefinansieringshulpskema na die universiteit gestuur as deel van die R15 biljoen wat die departement van hoër onderwys bestee om studente te help wat noustrop trek. 

Tukwayo het verduidelik die universiteit hou ’n deel en IntelliMali administreer die maandelikse toelaes aan studente.

Die geld word inbetaal by ’n IntelliCard-rekening, wat ’n debietkaart bied. 

Die stelsel is soortgelyk aan dié waarmee die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike dienste toelaes betaal. 

Tukwayo sê Mani is nie geskors nie en mag klasse bywoon.

IntelliMali se uitvoerende hoof, Michael Ansell, sê die student het die geld na bewering “wanbestee” toe dit in haar rekening inbetaal is. 

Hy beweer die bedrag is nagegaan voor dit gedeponeer is en die bedoelde bedrag van R1 400 was korrek.

Sy onderneming sal ook ondersoek instel oor waar die ekstra nulle vandaan gekom het.

Die Nasionale Studentefinansieringshulpskema het hom van die herrie gedistansieer en sê dit is tussen die universiteit, die student en IntelliMali.

Bron: News24