“Ek stel amptelik ’n onafhanklike komitee aan om die bewerings teen sekere opvoeders, die gebeure op 26 en 27 Augustus en al die kwessies wat leerders voel grens aan rassisme en alle ander verwante sake te ondersoek,” het Panyaza Maandag aan verslaggewers gesê.

“Ek gee die komitee 21 dae om ’n voorlopige verslag in te dien. Ek sal die verslag met die skool se beheerliggaam bespreek en ooreenkom op die pad vorentoe.”

Die besluit kom ná ’n vergadering tussen die beheerliggaam, sy kantoor, leerders en ouers om die kwessie van rassisme by die skool te bespreek. Leerders het protes aangeteken teen die skool se gedragskode wat die soort haarstyle beperk het wat swart leerders kon hê.

Lees ook: Bekende Pretoriase meisieskool in rasherrie gedompel oor hare

Panyaza het gesê hulle is bewus daarvan dat die omgewing by die skool onmiddellik ingryping verg wat rasseverhoudings, kulturele begrip en maatskaplike samehorigheid betref.

Gedragskode opgeskort

Daar is by die vergadering besluit dat die skool se gedragskode, insluitend die reëls wat haarstyle stipuleer, hersien moet word.

“Ons het ná ’n intense, maar kritieke gesprek gevra dat die reëls in die gedragskode wat haarstyle stipuleer, dadelik opgeskort word en dat geen leerder geviktimiseer sal word oor hul haarstyl totdat die beheerliggaam nie ’n nuwe gedragskode gefinaliseer het wat hierdie kwessie aanspreek nie.”

Hy het gesê daar sal ’n nuwe gedragskode wees wat deur die werkswinkels deur die beheerliggaam, in samewerking met leerders, besluit sal word en dat “die vyandigheid gestaak moet word. Die mini-oorlog wat hier geheers het, is dus onmiddelik opgeskort.”

Panyaza het gesê dis belangrik dat van die kwessies in werkswinkels bespreek en onder onderwysers en van die leerders se aandag gebring word. Hy het bygevoeg dat die departement sielkundige bystand sal verskaf.

Die kwessies by die skool het ook die weg gebaan vir die departement om alle gedragskodes by skole in die provinsie te bekyk. Panyaza het gesê hy soek nie ’n herhaling van wat by die skool gebeur het nie.

“Ek’s oortuig daarvan ons moet hierdie resolusie na ander skole in die provinsie uitbrei. Ek glo van die kwessies wat hier uitgelig is, is nie tot hierdie skool beperk nie. Ek gaan manier vind om dit regoor die provinsie aan te spreek. Dit beteken alle gedragskodes by skole regoor die provinsie sal onmiddellik bekyk word sodat ons nie ’n soortgelyke situasie by ’n ander skool het nie.”

James Tubb, lid van die skoolbeheerliggaam, het gesê hulle sal nou met alle belanghebbendes saamwerk om te verseker almal in die skool voel ingesluit.

“Dis hartseer vir my om te besef dat ons bewustheid oor hierdie kwessies nie is wat dit moet wees nie en ons sal met die LUR werk om dit reg te stel en om die skool die veilige omgewing, wat ons geglo het dit is, vir almal te maak.”

Bron: News24