American Hustle (10-12O TS) se regisseur, David O. Russell, is bekend daarvoor dat hy sy akteurs aanspoor tot uitstekende samespel. Hier span hy weer kragte saam met akteurs uit sy vorige Oscar-bekroonde flieks – Amy Adams en Christian Bale van The Fighter (2010), en Bradley Cooper en Jennifer Lawrence van Silver Linings Playbook (2012) – vir ’n misdaad-komediedrama wat in 1978 afspeel.

Irving Rosenfeld (Bale) en Sydney Prosser (Adams) is twee gedugte swendelaars wie se planne altyd seepglad verloop. Hulle is verlief, maar Irving se wispelturige vrou, Rosalyn (Lawrence), weier om te skei. Wanneer die FBI-agent Richie DiMaso (Cooper) Irving en Sydney uitvang, dwing hy hulle om vir hom te werk en nog skurke vas te trek. Maar Rosalyn se wraaksug kan dalk alles laat platval.

Meeste kritici is gaande oor dié fliek. Dit kry 93 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk.

Die konsensus is dat “American Hustle histeries snaaks is met ’n puik rolverdeling. Russell vergoed vir die fliek se paar tekortkominge met hope energie en uitbundige, lewendige regie”. Die Britse rolprenttydskrifte Empire en Total Film gee dit albei vier sterre. Eersgenoemde se Kim Newman beskryf dit as “’n uiters vermaaklike, hoogs afleidende fliek met briljante toneelspel wat, soos alle swendelaars, eindelik minder lewer as wat dit belowe. Maar dis nogtans die moeite werd om so geflous te word”.

Total Film se Matt Maytum sê dis “vrek snaaks, sexy en stylvol. Russell se huldeblyk aan (regisseur) Martin Scorsese kort die woema van Marty se beste flieks, maar vergoed daarvoor met skreeusnaakse dialoog en ’n puik ensemble wat op hul stukke is”.

Dallas Buyers Club

Die ander Oscar-voorloper wat hierdie week begin, is nog ’n historiese drama, Dallas Buyers Club (16 DTNVS). Dié ware verhaal speel af in 1985 en is gegrond op die lewe van Ron Woodroof (Matthew McConaughey van Magic Mike), ’n rassisties, homofobiese losbol-gomtor van Texas wat uitvind hy het vigs en kan binne ’n maand sterf. Eers wil hy dit nie aanvaar nie, maar toe word hy afgedank, sy vriende skryf hom af en die medikasie wat hy kry, maak hom net sieker. Hy weier om te gaan lê en kies koers Meksiko toe om onwettige antiretrovirale middels te bekom. Ten spyte van sy vooroordele raak Ron bevriend met die transseksueel Rayon (Jared Leto van Panic Room), wat ook sterwend is aan vigs, en saam stig hulle die Dallas Buyers Club, wat onwettige medikasie aan vigslyers verskaf.

Resensente is baie beïndruk deur dié fliek. Dit kry 84 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat nes Rotten Tomatoes werk, en 94 persent by laasgenoemde, wie se konsensus is dat “Dallas Buyers Club vierkantig op McConaughey se skraal skouers rus (Matthew en Jared het hulle albei uitgehonger vir dié fliek), en hy dra die las met grasie in wat dalk die beste vertolking van sy loopbaan is”.

Jason Best van Movietalk gee dit vier sterre en loof Matthew sowel as Jared se spel. Empire se Ian Nathan gee dit ook vier sterre. Hy prys die uitbeelding van Rayon en Ron se vriendskap: “Dis roerend, onbeskryfbaar en sou onder geen ander omstandighede gebeur het nie, maar dis sonder sentiment. Albei maak hul omstandighede draagliker en weer wanhoop af deur middel van humor. Dié fliek handel oor die lewe, nie die dood nie.”

The Frozen Ground

The Frozen Ground (16 DTNSG) is ’n riller sonder enige Oscar-amibisie. Dis 1983 in Anchorage, Alaska, en die reeksmoordenaar Robert Hansen (John Cusack van 2012) vermoor al 13 jaar jong vroue. Die polisieman Jack Halcombe (Nicolas Cage van Con Air) probeer hom al lank vergeef vastrek, want sy bewyse was nog altyd onvoldoende. Maar toe kom hy ’n tienerprostituut (Vanessa Hudgens van High School Musical) teë wat uit Hansen se kloue ontsnap het.

Resensente se reaksie is maar louwarm. Metacritic gee dit 37 uit 100 en Rotten Tomatoes is ’n bietjie meer ingenome met 59 persent. Die konsensus is, “al is die verhaal redelik eenvoudig, bied The Frozen Ground ’n welkome terugkeer vir Cage, wat ’n goeie vertolking lewer”. Total Film se Josh Winning gee dit drie sterre. “Die skrywer en regisseur Scott Walker val terug op betroubare misdaadriller-cliché’s, maar die fotografie is pragtig en toe Cage en Cusack eindelik teen mekaar te staan kom, het die hare behoorlik gewaai,” skryf Josh. Stephen Holden van The New York Times is minder beïndruk. “Al wat vars is aan dié fliek, is die wintermilieu, wat alles in ’n moeë fatalisme omhul. Andersins is dit dieselfde ou storie, doeltreffend uitgevoer maar uiters vergeetbaar,” skryf hy.

Hoekom word die arme Colin Farrell kort-kort opgesaal met ’n aaklige haarstyl? Eers moes hy probeer toneelspeel onder ’n krullebol in Saving Mr. Banks en nou het hy weer ’n lelike poedingbak-kapsel in Winter’s Tale (10-12O SG). En dan praat ons nie eers van sy blonde lokke in Alexander (2004) nie!

Winter’s Tale

Die fantasiedrama Winter’s Tale speel in 1916 af in New York. Colin speel die dief Peter Lake wat inbreek by die herehuis van ’n sterwende jong pianis (Jessica Brown Findlay, Sybil in Downton Abbey). Hulle raak dolverlief en Peter besluit om sy misdadige lewe te laat vaar. Maar Pearly Soames (Russell Crowe van Gladiator), die demoon wat Peter grootgemaak het en hom as ’n bendeleier vermom, gaan Peter nie so maklik laat gaan nie. Verder is daar ook ’n pratende, vlieënde wit perd wat as Peter se beskermengel optree.

Die meeste resensente het die fliek uitmekaargeskeur. Dit kry ’n skamele 13 persent op Rotten Tomatoes en die konsensus is, “Winter’s Tale probeer die epiese gevoel van sy bronteks (die gelyknamige boek deur Mark Helprin) behou, maar slaag nie daarin om dié uitgebreide verhaal in te kleur met karakters waarvoor ’n mens omgee of ’n sinvolle intrige nie”. Emma Dibdin van Total Film gee dit twee sterre.

“Die fliek het ’n verwarrende identiteitskrisis: Dis deels ’n romantiese melodrama, deels ’n gewelddadige, bonatuurlike fantasie, en deels ’n tydreisende morele fabel. Dit misluk met soveel absolute opregtheid dat dit gemeen voel om die fliek se onbeholpenheid uit te wys. Maar Farrell en Brown Findlay is so sjarmant dat hulle hierdie nonsens kykbaar maak,” skryf Emma. “En Crowe lyk asof hy iets lanklaas so baie geniet het.” Aan die ander kant moedig die bekroonde fantasieskrywer Neil Gaiman (Stardust, Coraline) kykers aan om die fliek te gaan kyk. “Ek het dit regtig, regtig geniet,” skryf Neil. “As jy van fantasie of New York of magiese realisme hou, behoort jy dit te sien. Die gehoor was mal daaroor. Dit het my baie aan Terry Gilliam se The Fisher King (1991) herinner.”

The Perfect Wave

Die legendariese akteur en regisseur Clint Eastwood se seun Scott speel die hoofrol in The Perfect Wave (OT), ’n drama met ’n Christelike boodskap gegrond op die ervarings van die Nieu-Seelandse pastoor Ian McCormack. As jong man is Ian die pad byster en al wat vir hom saak maak, is branderplankry.

Een nag gaan duik hy toe ’n boksjellievis hom vyf keer steek. By die hospitaal word hy dood verklaar, maar die Here verskyn aan hom en stel hom voor die keuse om te sterf of terug te keer. Ian besluit om aan te gaan met sy lewe en sy lewe reg te ruk. Die fliek is nie wyd geresenseer nie, maar die gehoor waarop dit gemik is, behoort dit sinvol te vind.

- Sandra Visser