Die fliek met die grootste begroting en bekendste ensemble akteurs is die biografiese oorlogsdrama Lone Survivor (16TG). Dit handel oor vier Amerikaanse Navy Seals wat in Afghanistan op ’n geheime sending gestuur word. Maar hulle word deur die Taliban in ’n hinderlaag gelei en moet veg vir oorlewing. Mark Wahlberg (The Fighter), Taylor Kitsch (Battleship), Emile Hirsch (Into the Wild) en Ben Foster (The Mechanic) vertolk die hoofrolle. Die meeste kritici is beïndruk met die fliek. Dit kry 75 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, waar die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaargetel en ’n gemiddelde uitgewerk word. Hulle bevind: “Al dra dit die boodskap van patriotisme, moed en opoffering ietwat onsubtiel oor, het die fliek genoeg emosionele krag om baie van sy effense bevooroordeeldheid teen nie-Amerikaners te versag.” Die Britse filmtydskrifte Empire en Total Film gee dit albei drie sterre. Eersgenoemde se James Dyer beskryf die fliek as “ ’n strak uitbeelding van moed onder uiterste druk, maar eensydige politiek doen ietwat daaraan afbreuk.” Total Film se Kevin Harley is effens teleurgestel met die film. “Die regie moker jou en die rolverdeling is indrukwekkend, maar (die regisseur Peter) Berg se oorlogsdrama voldoen nie aan sy belofte nie,” skryf hy. “Die geveg in die berge hou aan en aan . . . tot waar jy effens uitgeput is en smag na nuanse.”  

Die Christelike drama Heaven Is for Real (O) is gegrond op die ware verhaal van ’n vierjarige Amerikaanse seuntjie, Colton Burpo (Connor Corum), wat beweer hy het tydens ’n noodoperasie sy liggaam verlaat en die hemel besoek. Sy ouers, Sonja (Kelly Reilly van Sherlock Holmes) en die pastoor Todd (Little Miss Sunshine se Greg Kinnear), toets hom, maar kom eindelik tot die gevolgtrekking dat hy die waarheid vertel. Maar dan kry hulle teenkanting uit alle oorde.

Die meeste resensente dink die fliek is gemiddeld. Dit kry 49 persent op Rotten Tomatoes, waar die konsensus is: “Heaven Is for Real het ’n goedgeskrewe draaiboek en ’n talentvolle rolverdeling, maar neem dinge te ver. Daar is tonele wat konsepte uitbeeld wat eerder aan die gehoor se verbeelding oorgelaat moes word.” Lisa Kennedy van die Denver Post voel tog dis ’n goeie fliek. “Een van die regisseur Randall Wallace se grootste prestasies met hierdie slim gesinsdrama is die manier waarop Todd Burpo die verhaal se mees gedrewe en opregte twyfelaar word,” skryf sy. “Wallace verwag nie dat die gehoor hul verstand by die deur los nie. Colton het dalk die hemel gevind, maar hierdie fliek gaan oor die soeke daarna.” Adam Markovitz van Entertainment Weekly gee dit ’n C en skryf: “(Die fliek) bevat heelwat oulike, heilsame uitbeeldings van die lewe op ’n klein dorpie en die doen en late van ’n gesin. Wat dit nie het nie, is dramatiese spanning. Daar is geen antagonis, geen oplossing en geen ware klimaks – net ’n reeks ietwat innemende tonele.” Die kunssinnige Kanadese regisseur Atom Egoyan span weer kragte saam met Colin Firth, die ster van sy 2005-drama, Where the Truth Lies, om nog ’n misdaad met sy kil blik te beskou in Devil’s Knot (13G). Dis ’n biografiese drama gegrond op die saak van die Wes-Memphis-drie. Drie tienerseuns is in 1993 verkeerdelik skuldig bevind op die moord op drie agtjarige seuns in Wes-Memphis in die VSA, en is lewenslange tronkstraf opgelê. Colin speel ’n privaat ondersoeker wat aan die tieners se skuld twyfel en Reese Witherspoon (Sweet Home Alabama) is ook te sien as een van die slagoffers se ma. Die fliek is nog nie wyd geresenseer nie, maar die meeste kritici dink dis swak. Gebaseer op 12 resensies kry dit 42 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk. Catherine Shoard van The Guardian gee dit een ster en sê die film “verminder ’n komplekse, buitengewone saak tot ’n sepie. Hoe harder die regisseur probeer, hoe minder gee jy om.” Sy meen ook Reese en Colin se rolle kon deur enigeen vertolk word en vermors dié Oscar-wenners se talent. Maar Adam Markovitz can Entertainment Weekly is baie positiewer en gee dit ’n B. “Die film is nie emosioneel aangrypend nie, maar Atom ontbloot die saak se details op ’n meedoënloos fassinerende wyse,” skryf hy. Dit blyk Nicolas Cage boer ál meer agteruit. In ’n stadium is dié Oscar-bekroonde akteur beskou as ’n veelsydige, talentvolle ster wat in sowel ernstige drama’s as lokettreffers kon uitblink. Maar in die laaste tyd maak hy die een verbeeldinglose aksieriller ná die ander. Ten minste probeer Liam Neeson nog aksieflieks kies wat ’n vars invalshoek het. In Tokarev (16G), ook bekend as Rage, speel Nicolas ’n misdadiger, Paul Maguire, wat een aand saam met sy bende ’n lid van die Russiese Mafia beroof van ’n tas vol geld en ’n Russiese pistool genaamd ’n Tokarev. Paul besluit om misdaad agter te laat en ’n nuwe lewe te begin. Jare later haal sy verlede hom in toe die Russiese Mafia sy tienerdogter (Aubrey Peeples) ontvoer. Voor jy mes kan sê, maak Paul sy bende bymekaar om haar te red.

Al resensie wat daar vir dié fliek te bespeur is, is in Die Burger. Rozanne Els gee dit een ster. “Die vertelling is desondanks ’n paar statige kinkels doodgewoon, terwyl die draaiboek jou eweneens met weersin vul,” skryf sy. Sy voel Nicolas behoort teen dié tyd te “weet wat werk en wat nie. Dus is dit moeilik om hom hiervoor te vergewe.” A Haunted House 2 (16DTNVSG) is die opvolg waarvoor niemand gevra het nie. Weereens skeer Marlon Wayans en kie die gek met allerhande bangmaakflieks, van Paranormal Activity tot Insidious, en ook met enige popkultuurfiguur of -gebeurtenis wat in die laaste jaar in Amerika aandag getrek het, soos Honey Boo Boo en die Kardashians. Kritici skeur die fliek uitmekaar. Dit kry slegs nege persent op Rotten Tomatoes en 17 uit 100 by Metacritic. Eersgenoemde beskryf dit as “slordig, vulgêr en manies. A Haunted House 2 is dalk ’n giggel of twee werd, maar meestal is dit net ’n rits popkultuur-verwysings en platvloerse grappies wat hulle teikens mis.” Andrew Barker van Variety sê die fliek is so kinderagtig en onbekwaan soos sy voorganger. “Maar dis moeilik om nie gefassineer te wees deur Marlon Wayans se opregte gebrek aan selfbewustheid nie,” skryf hy. “Die meeste naam-akteurs, selfs die sterre van banale komedies, sou in die een of ander stadium ’n sweempie skaamte of teensinnigheid laat deurglip, maar Marlon is totaal toegewyd, amper op die vlak van ’n vertoonkunstenaar.” Sherilyn Connelly van die Village Voice dink selfs dis ’n verbetering op die eerste fliek. “Al is dit steeds ’n mengelmoes, is dit ’n fyner verstelde mengelmoes, asof Marlon en die vervaardigers meer selektief was terwyl hulle die ure se improvisasie geredigeer het. Al vind hy nie by almal byval nie, is daar iets bewonderingswaardigs aan sy gewilligheid om enigiets te doen om jou te laat lag. Hy herinner dikwels aan (die legendariese komediant) Jerry Lewis op sy waansinnigste. En ek bedoel dit as ’n kompliment.” - Sandra Visser