Ál meer Facebook-liefhebbers het begin oplet van hul inskrywings op dié sosiale netwerk verskyn skielik in groter letters as tevore.

Dit gebeur nie met almal nie; sommige inskrywings lyk nog presies dieselfde. So wat gaan aan? Is daar dalk ’n kwaadwillige virus op jou rekenaar wat moles wil veroorsaak?

Nee, nee, jy kan ontspan. Dis net ’n nuwe funksie wat Facebook stelselmatig begin implementeer het om korter plasings te laat uitstaan.

Dis hoe dit werk:

Wanneer jou Facebook-inskrywing korter as 35 karakters is en jy nie ’n aanhangsel daarby aanheg nie, vergroot Facebook outomaties die teksgrootte na 24. Die normale grootte is 14.

Quartz-joernalis Joon Ian Wong illustreer dit hier:

facebookgroot

Facebook het geen amptelike verklaring oor die nuutste aanpassing uitgereik nie, maar die doel daarvan is oënskynlik kort inskrywings lekker te laat uitstaan.

Maar hoe gemaak as jy nie van dié nuwe Facebook-truuk hou nie?

Facebook gee jou nie juis ’n keuse om die funksie af te skakel nie, maar vanselfsprekend is daar ’n maklike manier om dit te omseil: Maak seker jou inskrywing is langer as 35 karakters of heg altyd ’n aanhangsel – soos ’n foto of ’n prentjie – aan.

Terloops, as jy sukkel om die teks op jou Facebook-muur te lees, is dit nie nodig om jou vergrootglas nader te trek nie. Verstel eenvoudig net die teksgrootte.

Doen dit so:

  • Druk en hou Ctrl (rekenaar) of cmd (Mac) op jou sleutelbord in.
  • Druk die “+”-knoppie om die teks groter te maak en “–” om dit te verklein.

En siedaar, jy kan beter sien, my kind!

Bronne: Reddit, Nasilemaktech, Usro, Quartz