Dis elke ouer se nagmerrie. Hoe hanteer jy die situasie wanneer jy besef jou kind jok en steel? Ons kenner gee breedvoerige raad.

’n Ma het ons op Facebook gevra oor hulp vir haar 15-jarige seun nadat sy besef het hy steel.

Sy sê: “Ek het dringend hulp nodig. Ek is ’n ma van drie kinders – twee seuns en ’n dogter. My oudste het ’n groot probleem. Hy raak binnekort 15 en sy gedrag is heeltemal buite beheer. Hy steel en jok daaroor. Hy ervaar al lank epileptiese aanvalle, maar ons het eers besef hy steel toe hy in gr. 6 kom. Dit het sedertdien net erger geraak. As ek vra hoekom hy dit doen, sê hy net hy weet nie. Is dit aandagafleibaarheid of ’n gevolg van die epilepsie? Nou die dag was die ergste: Hy het tydens ’n besoek aan sy ouma se huis oor die muur gespring, by die bure ingebreek en ’n skootrekenaar en selfoon gesteel. Ek probeer hom help, maar ek weet nie of dit ’n verskil maak nie. Help asseblief.”

Marisa van Niekerk is ’n opvoedkundige sielkundige en praktiseer in Pretoria, Centurion en Midrand. Sy sê dit is nie ongewoon vir party kinders om deur sulke fases te gaan nie. “Daar is verskeie redes daaragter. Baie jong kinders doet dit omdat hulle nie besef dit behoort aan iemand anders nie of dat dit in ’n winkel eers betaal moet word nie. Ouer kinders het ander redes. Dit is moontlik weens groepsdruk, ’n hulpkreet of net vir die pret – party mense put plesier daaruit om iets verkeerds te doen.”

Marisa verduidelik as die gedrag nie êrens stop nie, kan dit ’n teken wees van dieper sielkundige probleme. In hierdie spesifieke geval stel sy voor die ma besoek ’n kliniese of opvoedkundige sielkundige om die kind te assesseer. “Dit blyk sy stelery en jokkery duur al jare en neem nou groter dimensies aan. Dit is belangrik dat die sielkundige sy gedrag uit alle oogpunte bestudeer, soos sy akademiese vermoë en prestasie, selfbeeld, emosionele ontwikkeling (hoe hy sy emosies hanteer), omstandighede by die huis en wie sy vriende is en wat hulle saam doen. ’n Kombinasie van daardie sake kan lei tot gesdragsprobleme soos steel en jok.”

Sy sê epileptiese aanvalle kan nie lei tot steel nie, maar die kombinasie van simptome en die manier waarop ouers en familie dit hanteer, kan sy gedrag beïnvloed. “ ’n Afspraak met ’n terapeut kan die ouers ook help om die ouers die nodige ondersteuning te gee en die probleme aan te roer terwyl hulle hul seun ondersteun.”

Sy sê die seun kan tydens die terapiesessies homself leer waardeer, hy kan die positiewe dinge erken wat hy doen en iets positiefs vind wat hom opgewonde maak.

Wat ouers kan doen

Marisa sê ouers wat bekommerd is oor hul kind se gedrag, moet ook spesiale aandag aan hul eie dade skenk.

Maak dit duidelik steel en jok is nie net verkeerd nie, maar ook onwettig; jy kan daarvan aangekla word.

  • Stel ’n goeie voorbeeld. Moenie ander, skynbaar kleiner, misdade pleeg nie, soos om skryfbehoeftes van die werk huis toe te bring, jou selfoon gebruik terwyl jy bestuur of wit leuens vertel. Dit gaan dit moeiliker maak om te verduidelik wanneer jou kind iets verkeerd doen.
  • Plaas die klem op vertroue. Laat hulle verstaan wat dit beteken, en verduidelik hulle verbreek vertroue wanneer hulle iets vat wat nie aan hulle behoort nie.
  • Moenie regverdigings van die diefstal aanvaar nie, soos “Die ander persoon het meer” of “Die winkel het genoeg, hulle sal nie dit mis nie.”
  • Moenie vrees en skuldgevoelens gebruik om die gedrag te voorkom nie.
  • Wees streng oor die reëls en bly kalm wanneer jy dit toepas.
  • Moet nooit jou kind beskerm deur te maak of hy niks gesteel het nie.
  • Laat hy persoonlik verantwoordelikheid vir sy dade ervaar; hy moet die items terugneem en verskoning vra. Hy moet betaal vir dit wat hy nie kan terugneem nie.
  • Vra jou kind hoe hy sal voel as iemand iets van hom sal neem

- Dalena Theron