Ons het ’n paar Superma’s op Facebook gevra of hulle al vir hul kinders gejok het om hulle te beskerm, en wanneer hulle dink dis in die haak. Hier is hul antwoorde . .  . Wat SuperMa’s dink: Chene Sharp – Ek dink nie jy moet jok nie, maar maak net die wrede wêreld so “sag” moontlik om hul onskuld te beskerm. Jou kind is die voorbeeld wat jy stel. As daar ouers is wat sukkel met tieners wat jok, moet hulle terugdink aan alles waaroor hulle al gejok het. Nelmarie Matthee – Ouers jok vir hul kinders oor die tandemuis en groente wat vir jou goeie sig gee. Wat verhoed hulle dan om oor groter dinge te jok? Maryke Symington – Maak nie saak wat nie, ons moenie vir ons kinders jok nie. Denise Edwards Oosthuizen– Ek jok nie vir my kinders nie!

Moet jy soms vir jou kinders jok?

Dis verkeerd om te jok, is natuurlik wat ons ons kinders wil wysmaak. Dis wat ons vir hulle sê. Maar kom ons wees eerlik en erken: Alle ouers jok die een of ander tyd vir hul kinders.

Of jy dit doen om jou kind se onskuldig te beskerm, om hulle sover te kry om iets te doen of om ’n bietjie alleentyd te kry, jy probeer net ouerskap ’n bietjie makliker maak.

Sommige leuens is regverdigbaar; ander nie. Wat ook al die situasie en redes, dit lyk of ’n gejok onder ouers die norm is. Volgens ’n nuwe studie waarvan die bevindings in die International Journal of Psychology gepubliseer is, jok 84 persent van ouers vir hul kinders om hulle te oorreed om hul beter te gedra.

Maar daar is drie redes hoekom jy nie vir jou kinders moet jok nie:

1.     Dis slegte taktiek. Dit skaad vertroue. Hoeveel vertroue dink jy sal jou kinders in jou hê as hulle eers uitvind jy het vir hulle gejok? Dit skeel sommige kinders min, maar talle stel daarna minder vertroue in hul ouers.

2. Dis moreel verkeerd. Net omdat iemand liggelowig is, is nie genoeg rede om vir hulle te jok nie, en kinders het, nes almal, ’n reg om nie mislei te word nie.

3. Dis selfsugtig. Dis die belangrikste rede. Ten spyte daarvan dat ouers die teendeel verklaar, doen hulle dit nie om die kinders te bevoordeel nie, maar hulself.

Hoe om vir jou kind die waarheid te vertel

-        Tydsberekening is alles. Maak seker jou kind het nie ander spanning wat hulle ook moet verwerk nie.

-        Sê dit met liefde. As jy die waarheid praat met liefde en emosie, sal jou kind beter begrip hê en hulle sal geliefd voel. Hulle kan dalk aanvanklik kwaad wees, maar as die woede eers opgeklaar het, het hulle dalk werklik gehoor wat jy wou sê.

-        Kom tot die punt. Moenie doekies omdraai en eers oor ’n klomp ander goed praat nie. Hulle sal agtergekom iets skort.

-        Vra vir hulp. Vra jou man of ’n familielid moet jou help. Dit kan jou dalk makliker help kommunikeer en jou kind die situasie beter laat verstaan.

-        Kry jou feite agtermekaar.Hoe meer feite jy inwin, hoe beter kan jy deur die leuens sien. Hoe meer feite jy het, hoe beter kan jy jou punt staaf.

-        Laat jou kind vrae vra. Dis hoe ons ’n pynlike werklikheid beter verwerk en verstaan. Beantwoord dus elke vraag so goed jy kan.

Verwante artikels:

Wat vertel jy jou kinders oor Kersvader?

Jou kind en die Paashaas

Wat om te doen wanneer jou kinders jok

-        Janine Nel

Bronne: parenting.com, huffingtonpost.com, circleofmoms.com, lifehacker.com