Wat SuperMa’s dink:

Yolanda Spies Moenie toelaat dat ander jou laat sleg voel as jy nie borsvoed nie. ’n Mens moet altyd probeer, maar nie elke mamma is so gelukkig nie!

Felicia Fourie Geen boek, dokter of mens kan jou regtig voorberei nie. Gebruik die raad slegs as maatstaf, maar volg jou eie moederinstink.

BennieKarin van der Watt Maak jou kind gewoond aan geraas wanneer hulle slaap, anders gaan jy slapelose nagte hê met die tweede baba en wanneer jy byvoorbeeld gaste kry. En met ons lieflike Eskom se inmengery sal dit ’n baie wyse besluit wees om jou kind aan melk teen kamertemperatuur gewoond te maak.

Leandri Hamman Jy gaan foute maak, en dis oukei.

Vessenza Marais As jy wil borsvoed, hou uit. Ná drie weke sal jy nooit kon dink borsvoeding is seer of moeilik nie. Dit is regtig die moeite werd om so lank moontlik te borsvoed. Hou net moed.

Marisa Hendricks Daar bestaan nie so iets soos om ’n kind te bederf deur hulle op te tel nie.

Deidre Sharp Van Eck Volg jou eie kop. Moenie na al die ouvroustories luister nie. En elke kind is anders; moet jou nie steur aan ma’s wat jou wil voorsê nie.

BennieKarin van der Watt Probeer so lank moontlik borsvoed. Dit is die heel beste vir jou kind. Dis soms moeilik, maar hou moed en hou uit.

Melissa Meyer Maak maar vrede met min slaap en geniet elke oomblik met die baba; dit gaan baie vinnig verby.

Annette Kasselman Woon elke moontlike wedstryd, funksie en geleentheid by. Dit is die beste belegging ooit in hul toekoms. Eendag sal jy terugkyk en hulle sal dit saam met jou waardeer.

Adel Kruger Slaap terwyl jou baba slaap, ongeag hoe deurmekaar jou huis is – slaap.

Chantel Langeveldt Geniet dit; hulle word so vinnig groot. Vir my is niks moeite nie, nie siekte of vuil doeke nie. Dit is vir my die grootste plesier wat die Liewe Heer my kon gee. En bring elke moontlike oomblik saam met jou kind deur; jy weet nooit wanneer dit van jou ontneem kan word nie. As iemand hulp aanbied, gryp dit met albei hande. En slaap wanneer baba slaap.

Vessenza Marais Slaap wanneer jou baba slaap; los die wasgoed en skottelgoed.

Adel Van Den Berg Probeer van die begin af jou baba aan ander mense gewoond maak sodat dit nie ’n probleem is wanneer jy dalk ’n babaoppasser nodig kry nie.

Hanlie Groenewald Botes Slaap saam met die baba. Vergeet van die huis en wees rustig. Vertrou jou instink. Luister na die raad wat almal so goed uitruil en besluit dan of jy dit kan gaan gebruik of nie – dit is jou baba en jy weet wat die beste is.

Sonja Vermaak Moet nooit jou kinders met mekaar vergelyk nie; niks gaan dieselfde wees nie.

Denise Lamprecht Vertrou jou intuïsie. Jy gaan foute maak en dis heel normaal. Niemand is perfek nie; geniet jou tyd saam met die kleinding.

Sunet Oosthuizen Moenie jou kind volgens die boeke grootmaak nie.

Rohan En Martilize Claassens Moenie ’n enkele oomblik verbywens nie. Die tyd vlieg ongelooflik vinnig verby.

Wanda Fourie Kweek van die begin af goeie slaapgewoontes aan. Moenie die baba aan die slaap sus nie. Leer hulle om van die begin af self aan die slaap te raak.

Bets Bothma Roetine, dissipline en gehaltetyd is die belangrikste.

Anneke Kruger Al taal wat n baba verstaan, is liefde. Moenie te veel voorbedagte wense hê nie. Wees net lief vir jou baba en dan sal jy die beste mamma moontlik vir hulle wees.

Joanita Walstrand Volg jou hart. Daar is nie reg of verkeerd nie.

Erica Vermaak Ontspan en vertrou jou instink.

Riaan En Lizaan Smit Moenie jou ore uitleen nie; doen wat jou gesonde verstand vir jou sê en vra jou pediater as jy onseker is.

Madeleine du Plessis Volg jou eie raad.

Monica Alberts Nel Bly so lank moontlik by die huis, borsvoed, hou by ’n roetine en laat jou baba van die begin af in hul eie kamer slaap.

Janine Ferreira Neem baie foto’s.

Kitty Keyser Vertrou jou instink. Lindie Van Zyl Loock Kies ’n betroubare persoon by wie jy raad vra en aanvaar. Selfs familielede het snaakse en soms gevaarlike boererate. Cathie Peters Geniet elke oomblik. Topwenke vir nuwe ma’s

1.    Luister na jou hart – As ’n nuwe ma sal jy oorgenoeg raad kry oor hoe om jou kind groot te maak! Neem dit alles met ’n knippie sout en vertrou jou instink.

2.    Kry genoeg slaap – ’n Gebrek aan slaap is dalk een van die moeilikste dele van moederskap. Rus dus wanneer jou baba slaap. Al slaap jy nie, sal die rustyd jou verfris.

3.    Bly kalm – Neem ’n ruskans as jy gefrustreer voel. Sit jou baba in hul bedjie of ’n ander veilige plek en neem ’n ruskans van 10 minute. Jou baba sal jou spanning aanvoel.

4.    Vra hulp – Dit is ’n moeilike werk om ’n baba groot te maak. Daar is niks fout daarmee om jou man, ouers of vriende om ’n bietjie hulp te vra nie.

5.    Kry ’n dokter van wie jy hou – ’n Goeie verhouding met jou dokter is belangrik. Moenie skroom om ’n nuwe een te vind as jy nie gemaklik is met jou huidige huisdokter of pediater nie. Dit is ’n stresvolle tyd en jy het iemand nodig op wie jy kan steun.

6.    Moenie van jou maat vergeet nie – Moenie van manlief vergeet nie; en as jy tyd vir jouself neem, sal julle albei beter ouers wees.

7.    Neem foto’s – Alles gaan so vinnig verby. Ons weet nuwe ma’s wil nie dit hoor terwyl hulle midde-in ellelange dae en nagte is nie, maar ons belowe jy sal bly wees om herinneringe van daardie spesiale tyd te hê.

8.    Kom aan die beweeg en kom elke dag uit die huis – Babas hou daarvan om te beweeg. Sit hulle in ’n babadrasak, sit hulle in ’n stootwaentjie of swaai hulle in jou arms. Dit sal jou kleintjie ’n bietjie vrede gee en jy kry ’n bietjie oefening.

9.    Stel ’n roetine vas – Kry ’n roetine wat vir jou en jou gesin werk en hou daarby. Almal sal daarby baat vind en jy sal ’n ruskans kan neem omdat jy jou baba se roetine ken.

10.   Geniet jou tyd saam met jou baba – Dit is die een wenk wat jy moet volg. Dit is die herinneringe wat tel.

-        Saamgestel deur Janine Nel

Bronne: popsugar.com, childrensmd.org, powerofmoms.com, parenting.com