Wat SuperMa’s dink:

Desiree Kroukamp My dogter het op twee jaar alleen geswem, selfs sonder vlerkies. Sy het op ses maande swemlesse begin kry. Maar my seun was so bang, hy het eers op sewe self begin swem.

Sonja Buitendag My kinders het feitlik in die swembad grootgeword. Hulle swem al van vierjarige ouderdom al alleen.

Daniellé Le Grange Ek wil my seuntjies graag lesse laat loop; hulle is volgende jaar April drie jaar oud.

Dana Kostalova Van Niekerk Op drie. Ek is omtrent paranoïes oor ’n kind wat nie kan swem nie en ’n swembad.

Chereés Ysel Ek het my dogter al op ’n jaar en ’n half laat leer. Vandag swem sy al baie goed; altans goed genoeg dat ek weet sy sal regkom en nie verdrink nie as sy in water beland. Sy is nou twee. Dit is definitief die moeite werd.

Maryke Symington My seun het op vierjarige ouderdom swemlesse gekry en my dogter op driejarige ouderdom.

Francia Fran Boucher Op twee. Dit het my seun se lewe gered: Ons huis se agterdeur was oop en niemand het dit besef nie. Hy het in die swembad geval en kon self uitklim.

Riët Leipoldt Van ongeveer twee jaar af. Ek sou dit vroeër wou begin, maar het gesukkel om ’n plekkie te kry. Maritsa van Zyl Ons seuntjie word nou twee en kry al van September swemlesse. Carina Mc Intyre Wiese Ek wil my seun graag hierdie somer nog leer; hy word in Maart drie. Wanneer moet jy jou kinders leer swem?

“Bad saam met jou kind, laat hulle plat lê en laat die water aan hul ore raak. Vat jou kind saam stort toe en laat hulle met water vertroud raak. Dit is belangrik dat jou kind gewoond raak aan water op hul gesig,” sê Nona Keet, ’n swemafrigter met 37 jaar ondervinding. Sy sê kinders moet so vroeg moontlik leer swem.

Nona bestuur die Stanmore Aquatics-sentrum in Oos-Londen, waar 250 kinders ingeskryf is. “Op sowat ses maande bring ons die kinders saam met hul ma of pa in die swembad. Dit is belangrik dat die ouer nie bang is vir die water nie, anders sal die kind daardie vrees aanvoel.”

Sy benadruk die belangrikheid dat kinders met water vertroud raak sodat hulle nie verbaas is wanneer hulle terug in die swembad is nie. Caryn Reeves, wat ’n graad in menslike bewegingskunde en ergonomie van die Rhodes-universiteit agter haar naam het, verstaan hoe belangrik dit is om kinders van ’n jong ouderdom te leer swem.

Caryn, wat ook by die Stanmore Aquatics-sentrum afgerig het, sê dit stel ouers altyd gerus wanneer die ouers weet die kind is gemaklik in die water. “Ons maak seker hulle kan dryf en tot by die rand van die swembad kom.” Caryn sê ouers of ’n toesighouer moet tydens ’n verdrinking die kind dadelik uit die water haal en dan vasstel of die kind reageer of nie. “As die kind reageer, plaas hom in die herstelposisie. Dit sal dalk nodig wees om braking te veroorsaak om water uit die longe te verwyder. Begin met mond-tot-mond-asemhaling as die kind nie reageer nie, en ontbied so gou moontlik ’n ambulans.” -  Saamgestel deur Janine Nel en Megan Bursey Verwante artikels:

Wat is sekondêre verdrinking?  

Speel veilig hierdie somer