Wat SuperMa’s dink:

Aletta Mans 'n Pakslae op sy tyd is soos brood en konfyt! Voordat 'n goeie pakslae 'lyfstraf' geword het, het kinders baie beter maniere gehad.

Madelein Jansen Elke kind verskil my een kind was ‘n pakkry kind en die ander een moes ek eerder straf, maar ek glo ook ‘n pakslae op sy tyd is reg. Daar is n groot verskil tussen doodslaan en n pak slae.

Michelle van der Merwe Om Pak te gee of nie Pak te gee nie, hang nie van die ouer af nie, Maar word deur die kind bepaal. Maar een ding staan soos ’n paal Bo water: ’n Pak vervang nie kommunikasie nie. Wanneer jy ’n kind ’n Pak gee moet jy baie duidelik jou kind laat verstaan dat sy gedrag of optrede die probleem is, en nie hy/sy nie. Die mees effektiewe manier om enige vorme van dissipline te laat vaal is om ’n  kind af te skeep. As ’n  kind nie Liefde ervaar nie, gaan hy/sy hulle beswaarlik aan gesag onderwerp.

Sonja Buitendag Ja, ’n pakslae wanneer dit nodig is en op die regte manier ( LET WEL DIE REGTE MANIER) is die beste medisyne.

Juanita van Zyl 'n Pak op sy tyd is soos brood en konfyt.

Elsa Greeff Nee. Ek straf my kinders deur hul gunsteling goed van hul af te vat bv. selfone laptops ens. Slaan maak hulle net erger en hul luister nie. Vat weg waarvan hulle hou vir so week of twee en jy sal sien hoe vinnig verander hulle houding.

Chantel Mostert Ja, ek is so groot gemaak en het al die basiese maniere en standaarde wat regtig ontbreek in vandag se jong samelewing bv. respek vir ouer mense en authority.

Sunet Oosthuizen Verseker!

Charlene Bruyns Ja, wanneer dit nodig is.

Lucinda Du Toit Pakslae by die huis deur ons as ouers - Ja. Pakslae by skool of deur iemand anders, dan nee.

Amelia van Droogenbroeck Elke mens doen wat hulle dink is die regte manier en wat vir hulle werk, ek glo ook ’n  pakslae op die boude doen wonders om die duiwel van die oor af laat skiet, maar ook straf soos om goed weg te vat.

Hester van Schalkwyk NEE! Kweek opstandigheid, rebelsheid en verwerping. Glo, daar moet grense wens, wat nie oorskry mag word nie. Daar is egter ander maniere van straf. Elke kind uniek en behoort daarvolgens gestraf te word. Kommunikasie: ’n  besliste ja. Kinders moet besef elke optrede/keuse het ’n gevolg, maar pakslae gaan dit nie noodwendig regstel nie en verbreek net die vertrouensverhouding. My tienerseun se voorregte word weggeneem en ’n  gesprek met hom oor keuses wat hy gemaak het en hoe om dit reg te stel, werk uitstekend. My ADHD seuna, weet ’n nee bly nee en gaan nie verander nie. Sy sakgeld is weer op die spel.

Daleen Booysen Ek stem, ’n goeie pakslae verrig wondere. Ons is almal groot gemaak met pakslae en ons het geweet wat is reg en verkeerd. Eks ’n enkel ouer want my man werk baie weg en ek het net 3 seuns waarvan die oudste 14 is. En glo my hy kan lekker hand uitruk as hy die dag lus het. Hulle weet ek praat tot op ’n punt dan brand hul gatte. As ek hoor hoe party kinders praat met hul ouers. In ons dae sou ons een helse klap op die mond gekry het as ons so met ons ouers gepraat het. Bitter min kinders het vandag maniere en respek vir ouer mense. Chantel Bougard Walberer As jy my twee jaar terug gevra het sou dit ja gewees het maar deesdae glo ek geweld kweek geweld en voel ek daar is beter maniere om n kind te straf. Anneke Le Roux Jip, ’n pak op sy tyd het nog nooit kwaad gedoen nie! Lyfstraf by die huis: Wat sê die wet?

Dit bly ’n teer sakie: Wat is die rol van lyfstraf in dissipline? Die tye verander het en rottangs is lankal nie meer deel van dissipline by die skool nie. Maar by die huis is dié besluit op die oomblik nog in jou hande. Elke ma het haar eie (sterk!) opinie oor die saak. Ons het gaan uitvind wat die wet tans oor lyfstraf by die huis sê. Ons gee ook raad vir ma’s wat alternatiewe tot lyfstraf wil probeer.

Wat sê die wet?

Lyfstraf is tans verbode in alle plekke behalwe die huis. Dit sluit die regstelsel (as ’n vonnis en as ’n straf vir gevangenes) en die onderwysstelsel in.

Die eerste Wysiging op die Kinderwet het nie daarin geslaag om lyfstraf by die huis te verbied nie. “Toe dié Wysiging (in 2007) goedgekeur is, is daar ooreengekom dat dié kwessie weer aangeroer sou word wanneer die Kinderwet weer gewysig word. Dit is waar ons nou is,” sê Carol Bower, ’n Noord-Kaapse konsultant oor kinderregte wat spesifiek fokus op liggaamlike mishandeling.

Carol verduidelik dat die nuwe konsepwetsontwerp vir die wysiging van die Kinderwet einde verlede jaar voltooi is, waarna dit aan die departement van sosiale ontwikkeling oorhandig is. Dit sluit ’n klousule in wat onder meer die volgende sê (hier net opgesom):

Iemand wat vir ’n kind sorg, insluitend iemand met ouerverantwoordelikheide en -regte, moet die kind se fisieke en sielkundige integriteit respekteer, bevorder en beskerm tot die volle moontlike omvang. Geen kind, insluitende ’n kind by ’n jeugsorgsentrum, gedeeldesorg-fasiliteit en skuiling, mag blootgestel word aan lyfstraf of gestraf word op ’n wrede, onmenslike of afbrekende manier nie.

Al kon die konsepwetsontwerp al begin vanjaar vir die parlementêre proses reg gewees het, veroorsaak die verkiesing dat geen verdere werk binnekort daaraan gedoen sal word nie, verduidelik Carol. Die wetsontwerp sal na verwagting eers in 2015 (ná verdere oorwegings en openbare verhore deur verskillende parlementêre komitees) aan die parlement voorgelê word vir goedkeuring.

Wat sê die kenners?

Ouerskap is ’n baie sensitiewe saak. Die meeste ouers het self pak gekry toe hulle kinders was en wil nie sleg dink of praat van hul eie ouers nie. Mense sê: “Daar is dan niks fout met my nie, en ek het pak gekry.” Maar hoe weet jy wat die alternatief sou wees?

Alfred du Plessis, ’n Pretoriase opvoedkundige sielkundige, beskou lyfstraf as ’n absolute laaste uitweg. “Dit is belangrik om te besef dat lyfstraf en aanranding in party kringe baie na aan mekaar voorkom, en in party gesinne daar nie eers behoorlik onderskei kan word nie. Die belangrikste verkil is dat lyfstraf binne ’n verhouding van liefde en omgee voorkom.”

Die doel van lyfstraf is dus nie pyn nie, maar die herstel van ’n verhouding. “Die gevolge van misbruikte lyfstraf is ’n volgende generasie ‘aanranders’, ’n kind en later ook volwassene met ’n swak selfbeeld, angs, aggressie en in baie gevalle depressie as ’n simptoom van ingeslukte woede.”

“Lyfstraf leer kinders geweld is die enigste manier om probleme op te los,” sê Carol. “Dit is baie problematies in ’n uiters gewelddadige samelewing soos ons s’n. As ek as volwassene nie aan jou mag slaan nie, hoekom mag ek dit aan kinders doen? Kinders het juis meer beskerming as volwassenes nodig; hulle is weerloser.”

Die enigste goeie gevolg van lyfstraf is onmiddellike inskiklikheid, sê sy. “Kinders weet: Jy gaan gestraf word as die mense wat jou straf jou kan sien wanneer jy iets verkeerds doen. Maar dit leer hulle nie langtermyn-selfdissipline nie. Kinders leer nie om goeie besluite te neem nie.”

Anne Cawood, ’n maatskaplike werker en ouerskap-kenner van Kaapstad, stem saam: “Kinders leer hoe om straf te vermy, maar leer nooit self besluite neem nie. Sodra hulle weg is van die volwassenes wat hulle in toom hou, is hulle dan dikwels buite beheer.

“Jy is ook nie besig om ’n goeie rolmodel te wees nie. Jy leer kinders as jy sterker as iemand is en iets wil hê, kan jy krag gebruik om dit te kry.

“Die probleem met lyfstraf kom veral wanneer ’n kind uitdagender is. Met maklike kinders hoef jy net een houtjie te gee en hulle verstaan. Maar met uitdagender kinders begin jy dalk met ’n hou en moet dit dan vermeerder, want dit is nie meer effektief nie. Dit vererger, en dan gaan ouers te ver. Dit gebeur gereelder as wat ’n mens dink.”

Baie ouers gebruik lyfstraf omdat hulle nie weet wat anders om te doen nie. “Hulle raak raadop; die lewe is moeilik en vol uitdagings, finansieel en andersins. Maar dit is nie jou kind se skuld nie,” sê Carol.

“En ouers moenie sê hulle doen dit om hul kind te beskerm nie. ’n Kind van 18 maande is nuuskierig. Wanneer hy sy vinger in die muurprop druk, is hy nie stout nie; dit help nie jy slaan hom nie. Dit is jou werk om hom veilig te hou en seker te maak die muurprop is toegemaak.”

Wat is die alternatief?

“Daar is gewoonlik alternatiewe tot lyfstraf,” sê Alfred. “Lyfstraf is eintlik nie ’n baie kreatiewe manier van dissipline handhaaf nie; dis eerder reaktief. Vir ’n moeë ouer is dit ’n opsie tot vinnige gehoorsaamheid, maar kan nie noodwendig oor die lang termyn aanhou werk nie.”

Daar is ’n verskil tussen dissiplineer en straf, verduidelik Anne. “Dissiplineer gaan oor keuses en gevolge. Vir kleiner kinders kan dit so eenvoudig wees om te sê: ‘As jy aanhou met jou maatjie baklei, gaan jy vir ’n paar minute hier by mamma moet kom sit.’

“Vir ouer kinders kan jy ’n waarskuwing gee: ‘As jy nie op hierdie tyd op die afgespreekte plek wag nie, word jy gehok of hierdie voorreg word van jou weggeneem.’ Maar dan moet jy ’n waarskuwing gee, en daarna optree. Ouers kla en sê hul kinders probeer heeltyd die grense verskuif. Maar dis omdat ouers nie konsekwent is nie!”

Dit is dus baie belangrik dat jy vroeg in die proses ferm en konsekwent optree. “Kinders moet weet: As ek hierdie keuse maak, gaan dit met my gebeur, geen uitsonderings nie.”

Die sleutel lê in kommunikasie, sê Alfred. “Deur effektiewe kommunikasie kan ons ons verhouding met ons kind bevorder tot op die vlak waar ons nie meer lyfstraf nodig het nie. Kinders se onaanvaarbare gedrag is dikwels ’n poging om gehoor te word en ’n manier om met die ouer te kommunikeer.”

-        Saamgestel deur Janine Nel en Suzaan Hauman