Wat SuperMa’s dink:

Ancabé Piek Engelbrecht Ek pak self elke dag in. Ek het verlede jaar ’n spyskaart vir vyf dae opgestel met ’n verskeidenheid kos en snoepgoed. Soggens hoef ek nie eens te wonder nie – ek kyk na die spyskaart, gryp die goedjies en pak dit in die kosblikke. Ek koop die week se goedjies vooruit. Hulle kry net een keer per week geld vir die snoepie.

Annalie Eloff Ek pak vir my vyfjarige kos in. My twee tienerdogters pak self hul kos in. Hulle besoek die snoepie sowat een keer per week.

Nelma Von Wielligh Ek soek asseblief ook gesonde kosblik-idees vir ’n sesjarige. My idees is al regtig op.

Mandie Meyer Ek pak ook ’n kosblik in.

Jolene Cordier Ek pak in!

Sarika Jonker Engelbrecht My seun hou baie van inpakkos; hy kry elke dag gesonde kos. Hy besoek glad nie die snoepie nie.

Ericka Du Plessis Cory Ek pak in, want my kind is allergies vir gluten en dit is baie goedkoper so. Sonja Buitendag Ek pak self in en dan kry hulle een maal per week snoepiegeld. Ilse Barnard Heath Ek pak self in. Melinda Strydom Ek pak elke dag self in: ’n broodjie, iets kleins en lekkers soos een blokkie sjokolade of vyf Astro’s, vrugte – of vrugterol of droëvrugte as ek nie vrugte het nie – en ’n soutigheidjie soos biltong, droëwors of soutbeskuitjies.   Jackie Hesse Ek pak kos in. Ons ondersteun nie die snoepie nie; my kinders kry naweke lekkergoed.  

Daleen Jansen van Rensburg Ek pak self in; hulle besoek net Vrydae die snoepie.

Marga Laubscher Ek pak kos in. Lekkergoed is vir naweke.

Cherryl Taylor Ek pak in.

Tersia Meyer Ek pak elke oggend my kind se kosblik in en kry Vrydae is daar geld vir die snoepie.

Monica Herselman Ek bedryf ’n snoepie by ’n skool, en dink persoonlik om jou kind een keer per week vir hul lang, harde week te vergoed, beteken vir hulle baie.

Ilze Coetzer Ek pak vir hulle kos in en een keer per week kry hulle geld vir die snoepie.

Lohanna Swart- Le Roux Nooit; ek pak twee vrugte, een groente, ’n broodjie en ’n peuselhappie.

Ilze Strydom Ek pak in en een keer per week kry hulle geld vir die snoepie.

Liezl van Niekerk Ek pak in.

Hannelie van Deventer Ek pak in, maar af en toe is die snoepie ook aanvaarbaar. Die groot vyf van ’n gesonde kosblik Kinders se kos moet gebalanseerd wees met bestanddele uit elk van die vyf voedselgroepe, en kosblikke is geen uitsondering nie. Ons gee lekker idees oor wat om in te pak: Proteïene – twee per dag

  • ’n Vleisporsie is so groot soos die kind se handpalm en so dun soos hul pinkie.
  • 30 g vleis of 1 eier of 125 ml (½ k) gekookte peulgroente (byvoorbeeld droë bone of lensies) of 30 ml (2 e) grondboontjiebotter.
Suiwel – twee per dag
  • 1 porsie = 250 ml (1 k) melk of 180 ml jogurt of 45 g kaas
Stysel – ses tot nege per dag
  • 1 porsie = 1 sny brood of ’n halwe koppie gekookte pap of 30-40 g ontbytgraan of 125 ml (½ k) gaar pasta, rys of koring
Vrugte – 2 tot 3 per dag
  • 1 porsie = ’n vrug so groot soos ’n tennisbal of 125 ml (½ k) sap
Groente – 2 tot 3 per dag
  • 1 porsie = 250 ml (1 k) rou blaargroente, 125 ml (½ k) rou of gaar ander groente
Vet – gebruik spaarsaam
  • ’n Kind benodig ongeveer 60-80 g vet per dag, insluitend die vet wat natuurlik in kos voorkom. Kies maer vleissnitte, gebruik laevet-gaarmaakmetodes en voeg 3-5 porsies gesonde vet by.
  • 1 porsie = 5 ml (1 t) olie of sagte margarien of 15 ml (1 e) neute of sade of ¼ avokado
Peuselkos vir kleuters en peuters

Kinders moet gereeld eet. Maak seker hulle peusel tussen maaltye aan goed beplande happies pleks van skyfies en lekkers.

Peuters hou van roosterbrood – gebruik bruinbrood, smeer dit met ’n dun lagie Marmite en sny dit in vingers of gebruik ’n koekiedrukker en druk verskillende vorms uit.

Sit ’n saggekookte eier in die dop daarmee voor, dan kan die kleuter hul broodjie in die sagte geel druk. Groter kinders sal selfs gebakte bone in tamatiesous daarby geniet. Ryskoekies is gewoonlik ’n wenner; gee dit net so skoon of smeer dit met ’n bietjie Marmite, grondboontjiebotter of kaaswiggies. Laat hulle knibbel aan droëwors en biltong (dit help veral wanneer hulle tande sny), repies droë mango of ander droëvrugte, vars stukkies appel, wortel en piesang. Kosblikidees

  • Klein houertjies drinkjogurt en klein bakkies jogurt
  • Klein houertjies ongegeurde springmielies
  • Kaaswiggies met volkoringbeskuitjies
  • Repies wortel, komkommer en klein mielies
  • Klein vruggies soos appeltjies, piesangs en nartjies (reeds geskil)
  • Koue pastaslaai met tuna en groente deurgemeng
  • Hardgekookte eiers, reeds afgedop
Wenke

  • Wees versigtig om van die vorige aand se oorskietvleis (veral hoender) in die kospakkie te sit, veral as dit warm is, want jy weet nie of die kosblik dalk lank in die son gelê het voor daar by eet uitgekom is nie – dit kan tot voedselvergiftiging lei.
  • Kleuters hou daarvan om te knibbel aan vleis wat nog aan die been is. Hoenderboudjies of lamtjoppies is ideaal; maak net doodseker dat jy enige los stukkies been, byvoorbeeld die knobbel van die hoenderboudjies, verwyder, anders kan dit in hul keel beland.
  • Leer jou kinders om water te drink pleks van koeldrank of vrugtesap (wat baie suiker bevat). Verdun vrugtesap met water. In die somer kan die water vooraf gevries word.