Wat SuperMa’s dink:

Amanda Savvas Saayman Ja. Ek het self een. Ek was 25 jaar oud en wou altyd een hê; dit is klein en het betekenis. Maar ek sal vir hulle sê hulle moet skool voltooi voor hulle ’n tatoe kry. Maar dis elkeen se eie keuse. Sommige mense hou daarvan, ander nie. Ek het altyd gedink mense wat tatoes het, is slegte mense.

Charlene Bruyns Hulle gaan dit elk geval doen wanneer hulle mondig is as hulle wil, of jy nou nee sê of nie. Jy kan nie jou kinders vir ewig beheer nie.

Annatjie Opperman Roets Nee, dis aaklig.

Nicolene White Fourie Nee, al sal dit steeds eendag hul eie besluit wees. Ek en my kinders gesels oor baie dinge. Ek gee my mening en redes, en hulle kan daaroor dink en vrae vra. Hulle het self al klaar gesê hulle wil nie tatoes hê nie, want dit lyk nie vir hulle mooi nie.

Nicky Van Staden Ek het self tatoes en dit is ’n groot taboe by my. Die dag dat ek my laaste asem uitblaas, kan my kinders tatoes kry.

Daleen du Preez Kyk, ek hou nie van ’n tatoe nie; dit is my oupa se skuld. My oupa het een gehad en hy het altyd vir my gesê: “As jy jonk is, lyk jy baie mooi met daai prentjie, dan word jy oud en daardie prentjie word ’n vuil kol.”

Dana Kostalova Van Niekerk Nee. My gewese man het baie; my dogter noem hom ’n inkleurboek. Renette Venter Ek hou niks daarvan nie, maar twee van my kinders het dit gekry terwyl hulle in Engeland gewerk het. Dit is steeds nie vir my mooi nie, maar ek is nog net so lief vir hulle. Natanja Kruger Ja, want ek het een. Maar my dogter kan dit eers kry wanneer sy klaar is met skool. So maak jy as jou kind ’n tatoe wil kry:

1.    Bly kalm. Probeer die volgende geykte uitdrukkings vermy: “Oor my dooie liggaam”, “Is jy van jou trollie af?” en “Solank jy onder my dak woon, sal jy doen soos ek sê”. Dit is oormatig gebruik en werk nie.

2.    Luister na hulle. Jy kan selfs notas neem. Jy ontdek net dalk belangriker insigte as net hoe jou tiener oor liggaamversiering voel. Jy sal ook dan in ’n beter posisie wees om die saak te bespreek.

3.    Sê hoe jy voel. As jy negatief oor tatoes voel, sal jou tiener dalk beter reageer as jy jou gevoelens daaroor deel as wat jy jou waardes op jou kind probeer afdruk.

4.    Bereik ’n ooreenkoms. Kom vorendag met ’n oplossing waarmee julle albei gelukkig is. Dalk kan jy ’n klein tatoe aanvaar wat op ’n versteekte plek is of dalk stem jou kind in tot ’n proeftydperk met ’n tydelike tatoe.

5.    Praat oor gesondheidsgevare. Deel jou bekommernisse maar moet dit nie oordryf nie. Pyn is ’n gegewe, en met elke tatoe is daar ’n risiko vir bloeding, allergiese reaksies of infeksies.

6.    Gee hulle ’n voorbeeld. Wys hulle hoe ’n tatoe lyk op iemand wat ouer is; hoe dit verdof en verkreukel. Dit sal hulle laat besef tatoes bly nie vir ewig mooi en kleurvol nie.

7.    Gee dit tyd. Vra jou tiener om te dink aan ’n tydperk vir oordenking; dalk verander hulle van plan.

8.    Vra ’n tweede mening. Dit is dalk van hulp vir jou en jou tiener om te praat met iemand wat reeds ’n tatoe het sodat julle ’n ander siening van die saak kry.

9.    Praat oor individualiteit. Vra jou tiener om ander maniere te kry om hulle uit te druk, soos skryfwerk, hul klere of haarstyl. Dit help dalk hul individualisme op minder ekstreme maniere uitdruk.

10.   Praat oor tatoeverwydering. Laat jou tiener lees oor die koste en doeltreffendheid oor tatoeverwydering. Dit sal hulle laat nadink oor die lang, pynlike proses om ’n tatoe te verwyder voor hulle finaal besluit.

- Janine Nel

Bronne: kidshealth.org, ruthpeters.com, sheknows.com