In Mei verlede jaar het Christoff Becker (31) en sy beminde in ’n YouTube-video oor trou gepraat en skaars drie maande later het hy weer op Facebook berig oor die liefde in sy lewe.

[caption id="attachment_153333" align="alignnone" width="600"]Die spiertier Christoff Becker. Foto's: Facebook Die spiertier Christoff Becker. Foto's: Facebook[/caption]

Daar was net een klein verskil – die modelmooi meisie het nou ’n ander naam gehad.

En nee, dit was nie ’n nuwe meisie nie. Dit was eintlik ’n “oue”, sy eksmeisie Veronika Geyer (19).

’n Bron het aan Huisgenoot bevestig Christoff Becker en Saskia du Preez (22), ’n naeltegnikus van Kempton Park, is al ’n paar maande uitmekaar en Christoff is terug by sy eks. Hoekom Christoff en Saskia uitgemaak het, kon die bron nie sê nie.

Christoff en Saskia het in Mei verlede jaar ’n video op YouTube geplaas waar hulle in die see baljaar en hul liefde vir mekaar verklaar.

Op 3 Julie het Saskia nog op Facebook geskryf “soooo verlief”, met ’n hartjie daarby. Op 22 Julie het Saskia nog ’n foto van haar en Christoff op dié sosiale netwerk geplaas.

Maar op 30 Julie het Saskia ’n sexy foto van haar geplaas met die boodskap “send my love to your new lover”. Dit is dieselfde dag dat Christoff sy verhoudingstatus op Facebook verander het sodat dit nou lui “in ’n verhouding met Veronika Geyer”.

Veronika het weer skaars twee weke later in ’n kommentaar op ’n plasing van Christoff geskryf “liefjo”.

Nog ’n bron het aan Huisgenoot gesê dié twee koer gedurig op Facebook en plaas gereeld foto’s waar hulle saam verskyn. Hulle het die afgelope Desember ’n hele paar foto’s gedeel waarop hulle oral, onder meer op Richardsbaai in die noorde van KwaZulu-Natal, saam vakansie hou.

Die afgelope Desember was Christoff se tweede Kersfeesmaand op vrye voet nadat hy in Desember 2014 op parool vrygelaat is.

Christoff het as een van die sogenaamde Waterkloof-vier in 2001, toe hulle nog op skool was, ’n hawelose man om die lewe gebring. Die ander drie, Frikkie du Preez, Reinach Tiedt en Gert van Schalkwyk, is ook almal uit op parool.

Sedert Christoff terug in die samelewing is, word hy selde sonder ’n mooi vrou aan sy sy gewaar.

Veronika kom van Kempton Park af, nes Saskia en Cindy Comley, aan wie Christoff verloof was voordat hy in 2008 tronk toe is.

[caption id="attachment_153331" align="alignnone" width="600"]Christoff en Veronika. Foto: Instagram Christoff en Veronika Geyer. Foto: Instagram[/caption]

Kyk ’n mens na dié drie vroue, is dit duidelik: Christoff het ’n oog vir ’n mooi vrou. Nog elke vrou wat hy aan sy sy gehad het, is beeldskoon.

Saskia spog gereeld op Facebook met haar lyf en plat magie. Veronika verklap op haar Facebook-profiel sy het al modelwerk vir die agentskap Steele in Johannesburg gedoen. Ook Cindy is ’n model.

Toe Huisgenoot in Augustus 2015 oor Christoff en Veronika se verhouding berig, was Veronika nog ’n 19-jarige somatologie-student. Sy was toe ook nie skaam om aan die wêreld uit te basuin hoe verlief sy op Christoff is nie.

Kyk ’n mens so na Christoff se Facebook-profiel, kan jy sien Veronika en Christoff is sowaar twee mooi mense bymekaar.

Want nes Veronika nie skaam is om mooi foto’s van haarself op Facebook te plaas nie, hou Christoff ook daarvan om lyf te wys.