Regskenners met wie News24 gepraat het, het uiteenlopende menings hieroor.

Die veroordeelde Paralimpiese atleet sal nie op parool vrygelaat word nie, maar onder korrektiewe toesig geplaas word, wat ook as huisarres bekendstaan.

Adv. Mannie Witz van die Bridge Group sê korrektiewe toesig is allermins maklik.

“Die hele ding is op rehabilitasie en hervorming gegrond . . . Dis ’n uiters streng vonnis,” het hy aan News24 gesê.

“Dis heeltemal anders as parool; dis ’n vonnis, en hulle monitor jou, en as jy die voorwaardes oortree, vat hulle jou terug (tronk toe). Dis ’n baie moeilike vonnis; mense dink blykbaar dis maklik.”

Maar die regskenner David Dadic meen huisarres moet beter wees as om in die tronk te sit, veral in die omgewing waarin Oscar waarskynlik sal woon.

“Ek dink sy korrektiewe toesig, gegewe die huis waarin hy gaan woon, wat waarskynlik (sy) oom Arnold s’n is . . . moet makliker, (en) beter wees,” het David aan News24 gesê.

“Ek raai korrektiewe toesig, ten spyte van die beperkings en druk deurdat jy gemonitor word . . . is beter as om in die tronk te wees.”

Die raad vir korrektiewe toesig en parool het Maandag bevestig Oscar sal die Kgosi Mampuru II-tronk in Pretoria op 21 Augustus onder korrektiewe toesig verlaat.

Mannie en David is dit eens Oscar sal nie die tronk as ’n volkome vry mens verlaat nie en daar sal streng voorwaardes aan sy korrektiewe toesig verbonde wees.

Hy moet gemeenskapsdiens verrig en berading of behandeling kry. “Dis nie vrywillige (gemeenskapsdiens) nie; dis verpligtend,” sê Mannie.

“Jy kry nie advertensievoordele en betalingsvoordele nie . . . hulle kan sien jy gee nou iets aan die gemeenskap terug en dit kom uit jou eie tyd.”

David het gesê al kan hy nie kom en gaan soos hy wil nie, sal Oscar ’n mate van vryheid hê.

“Sy bewegings sal beheer word en daar is beslis monitering, maar in daardie opsig sal hy herintegreer word in die gemeenskap; geleidelik sal hy genooi word om by die een of ander soort werk betrokke te raak; hy sal gevra word om gemeenskapsdiens te doen. Ek veronderstel hy sal met die een of ander behandeling begin.

“Dis moeilik om te sê wat sy subjektiewe voorwaardes sal wees. Hulle kyk onafhanklik deur die aansoekproses en besluit wat by die gevangene pas. Ek kan nie voorspel of hy ’n uur per dag, twee uur per dag of ’n aand per week sal kry nie . . . daar’s geen standaard nie; elke saak word (individueel beoordeel).”

Maar Oscar sal nie middagete saam met sy vriende of selfs vakansies kan geniet nie.

Mannie het gesê hy sal streng gemonitor word in die vorm van foonoproepe en onverwagte besoeke aan sy woonplek. “As enigiemand dopgehou sal word, is dit hy,” het hy gesê.

As Oscar die voorwaardes van sy korrektiewe toesig oortree, kry hy ’n skriftelike waarskuwing. Ná ’n derde waarskuwing gaan hy terug gevangenis toe.

Oor afrigting sê David dit is ’n onduidelike gebied en hy dink nie daar kan aangevoer word dit was deel van sy werk as ’n beroepsatleet nie.

“Ek weet nie of hy kan sê hy is lonend werksaam nie. Ek sien nie dat dit in die werkkategorie val nie.

“Afrigting is nie lonend werksaam nie. Dit val nie in daardie kategorie nie. Of hy kan vra om afrigting te kry ter wille van sy bene en oefening, klink haalbaar. Oefening is deel van ’n mens se integrasie en welstand. Hy kom uit ’n oefeninggerigte agtergrond,” het David gesê.

Hy voorsien nie dat Oscar verbied sal word om ’n paar dae of uur per week afrigting te kry nie.

Mannie sê Oscar sal waarskynlik spesiale toestemming moet kry, maar hy sal nie toegelaat word om aan byeenkomste deel te neem of te reis nie.

“Hulle kan hom nie verbied om ’n beroepsatleet te wees nie. Maar as hy oefen, sal hy spesiale toestemming moet kry. Jy kry nie ekstra ontspantyd om te gaan oefen nie.”

Maar Mannie sê hy twyfel of Oscar steeds as ’n beroepsatleet beskou kan word, want hy word nie betaal nie en het geen borge nie.

Die appèlhof hoor die staat se appèlsaak teen die voormalige atleet se skuldigbevinding in November aan.

As die appèlhof in die staat se guns beslis, kan Oscar teruggaan tronk toe.

Maar hy mag appelleer en om borgtog aansoek doen.

“Ek voorsien dit gaan in die konstitusionele hof draai . . .

“Kom ons aanvaar die appèlhof verander sy skuldigbevinding na dolus eventualis, dan kan hy 15 jaar opgelê word . . . hy sal appelleer, en doen hy dit, is hy daarop geregtig om aansoek te doen om borgtog.

“Hy sal ’n borgtogaansoek saam met die appèlaansoek indien. Ek voorsien nie dat Oscar 10 jaar sal kry en dit nie betwis nie.”

Mannie sê as Oscar nie appelleer of borgtog kry nie, sal hy 48 uur gegun word om sy sake in orde te kry en terug te gaan tronk toe.

Bron: News24