Die aanklaer, Gerrie Nel, sal vandag sy ondervraging van Kim afhandel. Sy getuig ter strafverswaring van Oscar, wat skuldig bevind is van strafbare manslag nadat hy Reeva, sy meisie, doodgeskiet het.

Barry Roux, vir die verdediging, het Woensdag aan die hof gesê hy sou Kim net twee “kort” vrae vra.

“Ek sal haar nie kruisondervra nie.”

Regt. Thokozile Masipa het die prokureurs reeds herinner dat die verrigtinge gou afgehandel moet word omdat sy van volgende week af nie beskikbaar sou wees nie.

Woensdag het die trane in die hof gevloei toe Kim praat oor hoe dit soos die “einde van die wêreld” gevoel het toe sy hoor Reeva is dood.

Dit was die eerste keer dat die hof getuienis van een van Reeva se familielede hoor en Kim het gesê sy voel sy het ’n verpligting om Reeva se “stem” te wees.

“Ek moes dit vir Reeva doen; ek is dit aan haar verskuldig,” het Kim aan die hof gesê.

Oscar het Reeva op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria doodgeskiet. Hy het deurentyd beweer dat hy haar vir ’n inbreker aangesien het.

Hy is in verband met ’n afsonderlike voorval ook skuldig bevind aan die afvuur van ’n vuurwapen in die openbaar.

- Sapa