Dié oudsangeres van The Pussycat Dolls het die tonge laat klap dat sy dronk op Saterdag se X Factor-program verskyn het nadat sy ’n foto getwiet het van haarself met ’n leë bottel vonkelwyn en ’n vol glas rooiwyn, berig die Daily Mail.

Volgens dié webtuiste het die sangeres ’n foto van vier wynglase en ’n halwe bottel vonkelwyn en ’n halwe glas rooi wyn getwiet. Maar ’n verteenwoordiger van X Factor het aan MailOnline gesê: “Nicole het nie gisteraand voor, tydens of ná die program gedrink nie. Die drankies op die foto was ander mense s’n wat in haar kleedkamer was.”

Dis nie die eerste keer dat die sangeres daarvan beskuldig word dat sy besope is op die program nie. Kykers het haar glo vroeër vandeesmaand daarvan beskuldig dat sy getrek was nadat sy oordrewe gelukkig gelyk het. Sy het selfs vergeet om een van haar sangers bekend te stel.

Nicole het ontken dat sy beskonke was tydens die program met sy disko-tema. “Sy was net meegevoer deur die disko-atmosfeer,” sê haar woordvoerder.

Bron: Dailymail.co.uk

-Katlego Mkhwanazi (@Mkatlie)