In Donderdagaand se episode van die splinternuwe televisiereeks, Huisgenoot: Ware Lewensdramas op Via (DStv-kanaal 147), is die onopgeloste moord herbesoek en kykers sien hoe rolspelers steeds kopkrap, grawe en wonder wie die briljante Matie-student in haar woonstel buite Stellenbosch vermoor het.

As jy dié episode misgeloop het, kan jy Sondagaand om 20:30 na die heruitsending op Via kyk.

’n Dekade na haar dood, het Dana Snyman ’n aangrypende artikel vir Huisgenoot geskryf na ’n onderhoud met haar ouers, prof. Jan en Juanitz Lotz:

Hul kind is eintlik twee keer vermoor.

Die eerste keer, die een waarvan almal weet, was toe sy ’n dekade gelede, op 16 Maart 2005, in haar woonstel op Stellenbosch om die lewe gebring is.

Maar, vertel prof. Jan Lotz, vader van die vermoorde student Inge Lotz, dit voel vir hom mense het sy dogter “weer vermoor deur allerhande gerugte en onwaarhede oor haar en haar moord te versprei”.

En dit is hoekom hy en sy vrou, Juanita, Inge se ma, besluit het om vir die eerste keer openhartig te praat oor dit wat hulle as ’n aanslag op hul dogter se reputasie beleef.

Die Lotze meen dié stories – onder meer dat Inge swanger was en ’n aborsie wou kry, en ’n familielid haar vermoor het – word deur ’n mens of mense gefabriseer wat tot elke prys ’n alternatiewe moordenaar wil identifiseer.

“Hoe nader ons aan die waarheid kom, hoe meer besete raak hulle,” sê Jan.

Jan en Juanita Lotz vertel vir Dana Snyman dat mense met vals gerugte hul vermoorde dogter, Inge, se goeie naam probeer vernietig

In die 10 jaar vandat Inge vermoor is, krap talle Suid-Afrikaners steeds kop oor wie vir dié grusame daad verantwoordelik was.

Fred van der Vyver, Inge se destydse aktuaris-kêrel, is wel weens Inge se moord aangekla, maar in 2007 vrygespreek ná ’n opspraakwekkende verhoor.

“Ek is bereid om dit in enige hof te sê: Daar is mense rondom Inge se ware moordenaar wat doelbewus daarop uit is om ons – veral Juanita – sielkundig te breek. Hulle weet om Inge se goeie naam te vernietig is soos om ons ook te vernietig.”

Hoe nader ons aan die waarheid kom, hoe meer besete raak hulle
Jan Lotz

Hy bly vir ’n ruk stil; kies sy woorde mooi. “Hulle soek ’n alternatiewe skuldige. Uiteraard wil hulle ook nie hê ek moet aanhou vrae vra oor die moord nie.”

In ’n sekere opsig voel dit asof Inge steeds hier in die groot huis in Welgemoed teenwoordig is. Oral is foto’s van haar: in die voorportaal, in die gang, in haar pa se studeerkamer, op die vleuelklavier in die sitkamer . . .

Langs die klavier leun Inge se kitaar – sy het die klassieke kitaar bespeel – teen die muur, asof sy dit haastig daar laat staan het en net gou uit die vertrek is.

“Ons het nie al hierdie foto’s ná Inge se dood hier gesit nie,” sê Jan, “dit was al hier toe sy nog geleef het. In ons strandhuis op Witsand is ook ’n klomp foto’s van haar. Sy was net hierdie pragtige kind vir wie ons so bitter lief was.

“Hoe maak ’n mens vrede met so iets?” vra Jan waar hy in die sitkamer van sy huis in die boomryke woonbuurt in Kaapstad se noordelike voorstede sit.

“Hier kom iemand en vermoor jou enigste kind grusaam in die veiligheid van haar eie woonplek, en jy weet die een wat dit gedoen het, gaan voort met die lewe asof niks gebeur het nie.”

Op die stoel oorkant hom sit Juanita, met wie hy al langer as 30 jaar getroud is, ’n stylvolle vrou met ’n helderpienk serp om haar smal skouers. Sy knik en beaam wat Jan sê.

HEEL BO: Juanita en Jan in die hof tydens die verhoor. Sy is net so lief vir kleurryke serpe soos Inge destyds was. BO: Ma en dogter. REGS: Inge by haar pa op haar gradeplegtigheid in 2004. Hy is ’n professor by Maties. Foto: Argief

Die vals gerugte wat versprei word, is moeilik om te verwerk, sê Jan.

In ’n stadium was daar selfs ’n man wat Juanita laat saans van Tarkastad in die Oos-Kaap af gebel en SMS’e gestuur het, meer as een keer, en onder meer beweer het hy het bewyse dat Inge nie Jan se kind is nie, maar wel die kind van Juanita en ’n familielid van Juanita.

“Die mense wat hierdie bewerings maak, leef in die skaduwee,” sê Jan.

“Hulle  gebruik innuendo’s en versprei gerugte waarteen geen mens hom kan verdedig nie. Hoe veg jy daarteen? Sê my?”

Party media het destyds oor die gerugte bespiegel, ook oor Inge se beweerde swangerskap en aborsie. Dit het Jan en Juanita so ontstel dat Jan met adv. Dup de Bruyn, die leier van Fred se regspan, daaroor gaan praat het.

Op die ou end het Jan uitgevind die gerug van Inge se aborsie was net gegrond op ’n inkopielysie wat die dag ná die moord in Inge se motor gevind is. Fred se regspan het ook ’n afskrif van die inkopielys gehad.

Jan gaan haal ’n afskrif van die inkopielys.

Inge was lief daarvoor om lysies te maak, nes haar ma nou nog is. Die lysie sê ook iets van Inge se noukeurigheid. “Sap,” staan daar. “Kaas. Bioplus. Bubblegum.”

Dan staan daar ook “D en K”.

Jan druk met sy vinger op die lysie.

“Die hele gerug oor Inge se sogenaamde aborsie berus slegs op hierdie ‘D en K’ wat hier staan. Ek sal dit in enige hof sê. Dup het vir my gesê ’n leek wat voorgegee het dat sy ’n mediese agtergrond het, het aan hulle verduidelik ‘D en K’ staan vir ‘dilatasie’ en ‘kurettasie’, mediese terme wat op ’n aborsie kan dui.”

Jan skud sy kop. “Kan enigiemand glo dat ’n jong vrou op ’n inkopielysie ’n aantekening sal maak om haarself te herinner om vir ’n aborsie te gaan?”

Die kwessie van Inge se moontlike swangerskap en aborsie het nooit werklik in die hof ter sprake gekom nie, want daar was geen grondige bewyse daarvoor nie.

Juanita het die inkopielysie geïdentifiseer as een wat Inge vroeg in Desember 2004 gemaak het.

Die Lotze vertel in daardie tyd sou Inge saam met Fred sy broer Dawie en dié se verloofde, Karla, se troue op Amersfoort in Mpumalanga bygewoon het.

Die “D en K” was om haar te herinner om ’n geskenk vir Dawie en Karla te koop, sê Jan.

Die volgende inskrywing was “silwer skoene”, wat sy vir die troue wou koop.

Onlangs het talle berigte in koerante en op die internet verskyn nadat die skrywer Alan D. Elsdon tydens ’n openbare vraesessie op die Woordfees op Stellenbosch beweer het ’n “donker familiegeheim” was die motief vir Inge se moord.

Die vraesessie was by die bekendstelling van Bloody Lies, ’n nuwe boek oor die Lotz-moord wat die ondersoekers Thomas en Calvin Mollett geskryf het.

“Dit was asof Inge genoeg was vir ons. Die dag toe sy gebore is, toe sê ek vir Juanita: ‘Jy moet ophou werk. Jy moet ons kind grootmaak.’”
Jan Lotz

Jan het dadelik sy prokureur opdrag gegee om ’n brief aan Alan te skryf waarin hy beveel is om die bewering oor die sogenaamde familiegeheim terug te trek, so nie moet hy die inligting aan die vervolgingsgesag gee.

Alan is glo ’n selferkende vriend en oudkollega van die privaat speurder Daryl Els.

Daryl was van die begin van die moordsaak af by die verdediging se span betrokke.

“Els het oor ’n lang tydperk talle dokumente en verklarings geproduseer wat die skokkendste aantygings en bewerings oor die saak bevat,” sê Jan.

Jan het verskeie afskrifte van dokumente aan Huisgenoot gegee waarin Daryl die bewerings oor die moord maak.

“Ons het niks om weg te steek nie en ons vrees ook nie hierdie mense nie.”

Jan kyk jou weer reguit in die oë. “As hulle iets het om te sê, dan moet hulle dit in die openbaar sê of aan die vervolgingsgesag oorhandig. As hulle dit nie doen nie, dan moet hulle hierdie bewerings terugtrek.”

Jan soek ’n handdoek wat ná die moord in Inge se woonstel gevind is.

Hy sê op die handdoek is verskeie bloedafdrukke van wat lyk na ’n hamer soortgelyk aan die een wat ná die moord in Fred se bakkie gevind is.

Daar is wel foto’s van die handdoek in die polisiedossier, maar nóg die polisie nóg die vervolgingsgesag kan vir Jan sê waar diehanddoek is.

Jan glo die bebloede handdoek kan ’n nuwe sleutel tot die oplossing van die moord wees, hoewel regter Deon van Zyl in 2007 in sy hofuitspraak gesê het daar is nie genoeg bewyse dat Inge met die hamer vermoor is nie.

Daar was 47 wonde aan Inge se liggaam.

“Besef jy my frustrasie?” Jan se oë is weer vol vuur.

“Nou is die handdoek skielik weg – ’n gedeelte van die dossier! Wat moet ’n mens daarvan dink? Is iemand omgekoop om dit te laat wegraak? Jy kan nie anders as om sulke dinge te dink nie.”

In die afgelope 10 jaar het Jan en Juanita gehuiwer om te veel in die openbaar oor Fred en hul dogter en die moord te sê. Hulle is privaat mense wat versoek dat daar nie foto’s in hul huis geneem word nie.

Hul vleuelklavier staan in die hoek van die sitkamer. Teen die mure hang skilderye van Otto Klar en Gregoire Boonzaier; op ’n rak is boeke van goeie skrywers en filosowe.

Jan is al jare hoogleraar in radiologie aan die Universiteit Stellenbosch en Juanita was tot met Inge se geboorte ’n fisioterapeut.

Jan het reeds sowat R5 miljoen aan ondersoekers en ander kundiges bestee om uit te vind wie Inge op die middag van 16 Maart 2005 vermoor het, en hoekom.

Die Lotze en Fred en sy Oos-Kaapse familie het al meer as agt jaar geen regstreekse kontak met mekaar nie. Hulle het tydens die hofsaak ophou praat met mekaar.

Mense vra ons soms: Hoekom het julle nie nog kinders gehad nie? Ek weet nie,” vertel Jan.

“Dit was asof Inge genoeg was vir ons. Die dag toe sy gebore is, toe sê ek vir Juanita: ‘Jy moet ophou werk. Jy moet ons kind grootmaak.’”

Oorkant Jan sit Juanita met haar pienk serp. Inge was ook lief daarvoor om sulke helderkleurige serpe te dra. Hulle het graag saam helderkleurige serpe gekoop, ma en dogter.

Tydens Fred se verhoor het Juanita soms van Inge se serpe hof toe gedra.

Jan vertel hoeveel keer hulle saam oorsee was, pa, ma en dogter: Spanje toe, Parys toe, Disneyland toe. Ook toe Inge op ’n keer saam met die Tygerberg-kinderkoor in Europa getoer het, het hy en Juanita saam getoer.

Juanita staan op en stap by die vertrek uit.

Hier is letterlik honderde foto’s van Inge in die huis, want Juanita het tydens Inge se lewe elke jaar ’n afsonderlike fotoalbum van haar gemaak, 22 jaar lank.

“Soms weet ek nie meer watter kant toe nie. Jy gaan slaap met Inge in jou kop en word wakker met haar in jou kop,” praat Jan voort.

“Ek weet net daar is baie mense wat simpatie het met ons. Daarvoor is ek baie dankbaar.”

Dis asof Jan se emosies knaend tussen hoop en wanhoop pendel, want, ja, hy glo steeds die dag kan kom dat almal sal weet wie sy kind se moordenaar is, al het die direktoraat van openbare vervolging die saak amptelik afgesluit. Die saak kan net heropen word as daar genoeg nuwe bewyse is, iets wat Jan glo daar is.

Soms weet ek nie meer watter kant toe nie. Jy gaan slaap met Inge in jou kop en word wakker met haar in jou kop.
Jan Lotz

Juanita gaan haal die afskrif van ’n paar foliovelle wat sy ná Inge se dood op ’n dag gesit en skryf het. Dis ’n aangrypende vertelling van Inge se laaste naweek by die huis.

Dit vertel soveel van die hegte band tussen ’n besorgde ma en ’n dogter, ’n gelukkige jong mens. In alles wat Inge voor haar dood geskryf het, is daar geen aanduiding van die een of ander onverwerkte probleem of “geheim” nie.

“Vrydag 11 Maart 2005,” staan boaan in Juanita se netjiese handskrif. “Oggend begin met missed call van Inge. Ons reëling vanaf haar eerste jaar om seker te maak sy is wakker.
Ek het haar gewoonlik teruggebel om dag te bespreek.”

Juanita skryf hoe Inge omstreeks twaalfuur die middag by die huis gekom het.

“En ELKE Vrydag ’n bos blomme vir Ma . . .”

Sy skryf ook: “Inge was geklee in pienk streephempie met baie kort moutjies en denimrompie.”

Juanita skryf ook hoe Inge en hul hondjie Gabby in die swembad by die huis geswem en hoe sy en Inge in die kombuis gesit en gesels het.

“Inge en ek het BAIE gepraat en mekaar in die rede geval,” skryf Juanita.

“Sy was besig om iets te vertel toe ek haar in die rede val en vra: ‘Waarom is jy so vol blou kolle?’”

Dan beskryf Juanita die blou kolle aan Inge se arms, en vervolg: “Sy het geantwoord: ‘Waarvan praat Ma nou?’ Omgedraai na gang en ’n rukkie later uit haar kamer gekom met jeans en ’n driekwartmou-hempie aan.”

Juanita skryf hoe Fred die Sondagoggend vir Inge gebel en gevra het of hy kan kom kuier en hoe Inge hom nie regtig daar wou hê nie. Jan was nie die naweek tuis nie. Hy was weg vir werksake. Later die Sondag het Fred net daar aangekom.

“Ná vieruur het Inge haar blou tassie gaan pak in haar kamer,” skryf Juanita.

“Fred het op bed gelê en toegekyk hoe Inge pak en ook hoe sy my vra hoe warm dit komende week sou wees. Ek sê báie warm en haal spesifieke kort rokkie met bandjies uit haar kas.

“Sy vou dit, sit dit in tas. Fred kom regop, trek rokkie uit tas en sê: ‘Hierdie rokkie dra jy net as ek by jou is.’ Hy was ernstig, hoewel ek en Inge gelag het.”

Juanita skryf ook hoe Inge later die middag, net voor sy terug Stellenbosch toe is, vir Fred gesê het sy gaan nie weer saam met hom na sy kerk, His People, op Stellenbosch nie.

Fred het later in die hof ontken dat Inge dit daardie middag vir hom gesê het.

Naby die einde van die vertelling skryf Juanita: “Ek het vir haar in die pad staan en waai tot sy om die hoek verdwyn het. Laaste keer dat ek haar gesien het . . .”

Dit gaan nie oor wraak nie. Dit gaan oor die waarheid.

“Ek sal nie ophou voor ek die waarheid weet nie, hoe ek dit ook al moet uitvind,” sê Jan en vat jou weer met sy oë vas.

“Ek het al wraakgedagtes gehad, maar ek het gou besef dis verkeerd. Dit sal Inge se naam oneer aandoen as ek iets doms doen. Inge het gestaan vir vrede en liefde en die waarheid.”

Ds. Heerden van Niekerk, Jan en Juanita se predikant in die NG gemeente Welgemoed, help hulle al die volle 10 jaar om Inge se dood te verwerk.

’n Paar weke tevore, op 16 Maart, die dag waarop Inge ’n dekade tevore vermoor is, het Heerden vir Jan en Juanita vroegoggend by die gedenkmuur by die kerk ontmoet, soos op elke 16 Maart die voorafgaande nege jaar.

Inge se as is in ’n nissie in die gedenkmuur gebêre.

Nou is hulle emosioneel vasgevang iewers tussen Psalm 37 en die eindelose verlange na hul kind.

Vanjaar het Heerden vir hulle uit Psalm 37 gelees.

“Ek hou veral van vers 6,” sê Jan. “In my kop verander ek die woord ‘jou’ net met ‘haar’. “Hy sal ‘haar’ onskuld laat deurbreek soos die son, ‘haar’ reg soos die helder lig van die middag.”

Jan het ná die hofuitspraak met ’nsiviele saak teen Fred begin, ’n saak wat hom byna R3 miljoen gekos het.

Juanita en Jan in die hof tydens die verhoor. Foto: Argief

In hierdie tyd is Jan in die Mediclinic Panorama in Parow in die noordelike voorstede opgeneem en behandel vir hipertensie, ernstige depressie en posttraumatiese stressteuring.

“Dit is vir my duidelik dat prof. Lotz sukkel om die stres te hanteer wat die voortslepende regsgeding op hom plaas,” skryf Jan se psigiater in ’n verslag.

“Dit is my professionele mening dat verdere blootstelling aan sulke stres ernstige en selfs fatale mediese gevolge kan inhou.”

Jan sak terug in sy stoel en kyk met sagte oë na Juanita. “Dis waar ek agtergekom het van watter staal my vrou is – klein soos sy is. Sy het sterk gebly en my weer help opstaan.”

Hy bly vir ’n ruk stil. “Hierdie hele ding het ons twee baie nader aan mekaar gebring.”

Hy het om sekere regstegniese redes ook die siviele eis teen Fred laat vaar.

Jan wil nie te veel uitwei oor die motief vir die moord nie. Dis inligting wat hy nog nie bekend wil maak nie.

“Ek kan wel vir jou sê my dogter was daardie laaste dag soos ’n vreesbevange klein voëltjie vasgekeer in ’n kou.”

Jan is al verby aftreeouderdom. Hy beklee ’n leerstoel aan die universiteit wat deur die privaat sektor geborg word. “Dit laat my toe om met jong en gemotiveerde mense te werk,” sê hy.
“Dis wat my aan die gang hou.”

Jan kom orent van die stoel af. Hy wil jou die huis wys, amper asof hy jou in Inge se hart wil innooi. Alles is skoon en netjies.

Ons stap gangaf, in die rigting van die kombuis, verby nog foto’s van Inge. Juanita stap voor.

“Ons het ALTYD/GEDURIG vir haar gesê hoe spesiaal sy vir ons was,” skryf Juanita in haar herinneringe van hul laaste naweek saam.

“Ek het vir almal wat Inge kom uitneem het, ook vir Fred, by die deur gesê: ‘Pas my kind mooi op, sy is AL wat ons het.’ ”
Op die tafel in die kombuis is ook geraamde foto’s van Inge.

Die volgende oomblik staan ons in ’n kleinerige slaapkamer – Inge s’n.

Teen die muur hang twee geblokte fliekplakkate, albei van flieks waarin Anthony Hopkins gespeel het: August en Surviving Picasso. Inge het dit daar gehang.

Juanita wys na die woorde op die een plakkaat: You can do a whole lifetime in a single weekend.

Dis vir Juanita spesiale woorde.

Hier het Inge as klein meisietjie met vetkryt in ’n inkleurboek sit en krap. By hierd lessenaar het sy later naweke sit en leer vir haar honneursgraad in wiskundige statistiek.

Hier het Inge een Sondagmiddag 10 jaar gelede haar blou tassie vir die laaste keer gepak voor sy terug Stellenbosch toe is.

“Baie van Inge se vriende hou kontak met ons,” sê Jan.

“Hulle kom kuier soms hier. Party het al kinders. Jy kyk so na hulle en dink: Ons kon ook al kleinkinders gehad het. Ons kon al oupa en ouma gewees het, gelukkig afgetree in ons strandhuis op Witsand.”

Nou is hulle emosioneel vasgevang iewers tussen Psalm 37 en die eindelose verlange na hul kind.

Langs Jan staan Juanita en kyk stil by die venster uit in die rigting van die blinkskoon swembad waarin iemand baie lank laas geswem het.