Die Steenkamps se seun, Don is in Augustus 2014 vir 20 jaar gevonnis weens dié moorde. In gisteraand se episode van die televisiereeks, Huisgenoot: Ware Lewensdramas op Via (DStv-kanaal 147) is dié moorde herbesoek.

As jy die episode misgeloop het, kan jy Sondagaand om 20:30 na die heruitsending op Via kyk.

Meer as drie jaar na die moorde het Huisgenoot-joernalis Marelize Potgieter ’n eksklusiewe onderhoud met Don se ouma Bettie Steenkamp gevoer waarin sy vertel hoe sy ondanks alles, steeds in haar kleinseun se onskuld glo. Ouma Bettie is in Maart vanjaar in die ouderdom van 90 jaar oorlede.

Bettie Steenkamp het hart oopgemaak oor die Griekwastad moorde in 2012 waarin sy haar seun, Deon Steenkamp, sy vrou Christel en hul 14-jarige dogter Marthella verloor het. Foto: Argief

Toe Griekwastad se jong gesinsmoordenaar, Don Steenkamp, hoor daar is ’n besoeker vir hom by die Boksburg-jeuggevangenis, het hy niksvermoedend en rustig die besoekerslokaal binnegestap, tot hy sien dis sy geliefde ouma, Bettie Steenkamp, wat aangestap kom.

“Hy het my omtrent omgehardloop en net gesê: ‘My ouma!’ ” vertel sy.

Vir Bettie (89), die matriarg van die Steenkamp-familie, het die kuiertjie dit waarvan sy lankal in haar hart oortuig is, net herbevestig.

“Ek glo steeds hy is onskuldig,” sê sy beslis. “Ek kan nie glo dat hy dit gedoen het nie.”
Bettie Steenkamp

Bettie is nie emosioneel nie en verduidelik glashelder hoekom sy in Don se onskuld glo. 

“Hy was maar wat – 15 jaar oud? Hoe kan ’n kind van 15 soveel skote skiet? Hy het dan ook in die hof vir my gesê: ‘Hoekom sal ek my ma, my pa en my sussie, vir wie ek so lief was, skiet?’

“Wanneer ek by my kinders kuier, dan sal hulle vir my sê: ‘Ma het mos gehoor wat in die hof gesê is?’ Dan sê ek: ja, ek weet, maar ek glo steeds hy het dit nie gedoen nie.”

Bettie praat nie graag oor die tragiese gebeure van Goeie Vrydag 2012 nie. Op dié dag is haar seun, Deon (44), sy vrou, Christel (43), en hul dogter, Marthella (14), vroegaand in hul huis vermoor.

Deon is drie keer geskiet, Christel twee keer en Marthella vier keer. Marthella is ook onsedelik aangerand. Don is later weens die driedubbele moord in hegtenis geneem en is in Augustus 2014 vir 20 jaar tronk toe gestuur weens die moorde, verkragting van sy suster en regsverydeling.

Deon, Christel en Marthella se as word by die NG kerk Kimberley-Vooruitsig gehou.

Bettie skud haar kop saggies. “Dit bly maar ’n moeilike ding.”

Toe sy die vorige nag drieuur wakker skrik omdat sy vergeet het om haar kalmeerpil te drink, het die tragiese gebeure juis soos soveel kere tevore in haar kop afgespeel. Dan oordink sy die hofsaak weer van hoek tot kant en vra haar al die kwelvrae af, soos of iemand anders die plaas kon betree het en waarom die honde nie geblaf het nie, soos Don in die
hofsaak getuig het.

“ ’n Skaaphond is ’n ander ding. Hy blaf nie as hy jou ken nie.”

Lê sy gereeld snags wakker? Ja, so af en toe, erken sy.

Dit (die gedagtes oor die moorde) los jou eintlik nooit. Dis maar altyd by jou.
Bettie Steenkamp

Bettie het haar nuwe tuiste, die Stillerweë-huis vir Bejaardes in Kimberley, in April betrek nadat sy 15 jaar in ’n meenthuiskompleks in die Diamantstad gewoon het.

Haar dogters – Elbeth Vermaak, wat in Pretoria woon, en Marianna Smith, van Stellenbosch – wou nie hê sy moes op haar eie woon nadat haar man, Don sr., in 2013 oorlede is nie.

“Hulle het my gevra by wie ek wil gaan woon. Ek het vir hulle gesê: ‘Nie by een van julle nie.’” 

Sy glo nie dit is goed vir ’n gesin om ’n ouma in te neem nie. “Hulle het mos hul eie lewe.”

Uit Bettie se geselsies blyk dit Don beskou sy ouma as sy enigste familieanker.

Die Steenkamps se seun, Don is in Augustus 2014 vir 20 jaar gevonnis weens dié moorde. Foto: Argief

“Hy het my op my verjaardag gebel,” sê sy waar sy statig in haar stoel in die leefvertrek sit. Haar hare is netjies versorg en haar denim en ligbruin bloes rond haar voorkoms baie mooi af. “Hy het net vinnig gepraat. Hy het gesê: ‘Geluk met jou verjaardag.’ ”

Dan onthou sy skielik ’n vorige oproep van Don. 

“Hy het my gebel en gesê: ‘Ouma moet asseblief nie doodgaan nie, want dan het ek niemand oor nie.’ ”

Bettie het gereeld vir Don gaan kuier toe hy nog in die Kimberley-gevangenis was en vir hom kos geneem, maar dis vir haar moeiliker vandat hy in Boksburg aangehou word.

“Hy sê hy bly lekker,” sê sy terwyl sy die teesakkies in die koppies roer. “So lekker soos wat dit maar in ’n tronk kan wees. Ek sal jou sê: daai arme mannetjie. Hy wil nie voor mense huil nie.”

Don het vir sy ouma vertel dat hy in ’n stadium ’n sel met 24 mense gedeel het. “Ek vra toe vir hom: ‘Hoe slaap julle?’ Toe sê hy hulle slaap op stapelbeddens. Ek vra toe vir hom: ‘Waar slaap jy?’ En hy sê toe hy slaap bo.”

Hy is glo steeds besig om sy matriek te voltooi, maar het vir sy ouma gesê hy sal dit nie vanjaar klaarmaak nie. “Hy sê daar is nie altyd onderwysers wat hom kan help nie. Hy moet maar op sy eie aangaan."

Ai, ’n mens kry die arme kind jammer, maar wat kan jy nou doen? Jou hande is afgekap.
Bettie Steenkamp

Bettie sê sy sal eers glo Don is skuldig as hy dit self aan haar erken. Maar dan noem sy iets: 

“ ’n Mens kry mos ook die slimkoppe wat iets van ’n karakter-insinking gesê het. Wel, as dit nou die geval is, sal hy seker nooit sê nie.”

Sy onthou goed hoe sy nog self die aand van die moorde met haar seun, Deon, gesels het.

“Hy het nog gesê Christel is voor die rekenaar ; Marthella maak kos. Ek vra toe: ‘Wat maak Don?’ en hy sê: ‘Hy doen maar wat hy doen wanneer hy verveeld is. Hy is in die stoor.’

“Toe sê hy nog hy moet gaan, want die kos is amper klaar.”

Bettie sê die nadoodse ondersoek het gewys Deon het onverteerde kos in sy maag gehad.

“Wat beteken hy het toe daai aand geëet.”

Dis amper asof dit vir haar vertroosting bring. Don het haar dieselfde aand ná die moorde gebel. “Hy het so gehuil, ek kon nie hoor wat hy sê nie. Ek sê toe vir hom: huil net ’n bietjie minder, dan vertel jy my wat gebeur het. Hy sê toe sy ma en pa en sussie is geskiet.

“Ek kon dit nie glo nie, want ek het dan net ’n ruk vroeër met Deon gepraat.” Nou is daar nog die onsekerheid oor die proses wat aan die gang is om teen sy skuldigbevinding te appelleer.

Bettie weet nie waar die geld daarvoor vandaan gaan kom nie, want al die geld uit die boedel is aan regskoste bestee en Don sr. het reeds voor sy dood R1,5 miljoen daarop uitgegee.

Sy weet ook nie wanneer die saak voorkom nie, maar volgens Don moet dit binnekort wees.

“Hy het nou die dag vir my gesê hy is Kersfees terug by die huis. Ek weet nie waar die kind hieraan kom nie.” Toe die koeksisters, lepelsteeltjies en tee klaar geëet en gedrink is, groet ons om die pad Griekwastad toe te vat. Bettie waarsku ons moet versigtig ry.

“Die pad is sleg.”

Sy wys na haar Mercedes en sê selfs met dié agtermekaar motor sukkel sy om die pad na Naauwhoek, die plaas waar Deon en sy gesin gewoon het, te ry. 

“Die mans (Deon en Don) het my altyd met die bakkie op die dorp kom haal.”

Ek komplimenteer haar op haar tuin. “Dankie,” sê sy. “Hy was mooi, maar dit is nou bietjie verby.” Toe ons al by die motor is, vra sy: “Het jy al ooit ’n swart petunia gesien?”

Ek volg haar vinger. En daar tussen die ander plante sien ek die fluweelagtige blom waarna sy trots wys. So spesiaal soos ouma Bettie wat op haar stil manier blom ten spyte van die voortslepende familietragedie.