Dié reeks het Donderdagaand sy debuut op Via (DStv-kanaal 147) gemaak en in die eerste episode is die storie van die babatjie wat maar 17 uur oud was toe Sonja Combrink haar in 1994 uit ’n Johannesburgse kraamsaal gesteel het, herbesoek. As jy dié episode misgeloop het, kan jy Sondagaand om 20:30 na die heruitsending op Via kyk. In Desember 1996 skryf die babadief ’n roerende brief vanuit haar tronksel wat Huisgenoot eksklusief publiseer.

Lees hier hoe Sonja steeds na die kleine Micaela gesmag het

Sy sit al in hokkie nommer 22, die een in die hoek by die venster, toe hy daar aankom. ’n Bleek jong vrou, sonder grimering, met donker skaduwees onder haar oë. In haar lang, donker hare is die swart haarband waarmee sy al so baie afgeneem is.

Die vreugde spring uit haar gesig toe sy hom sien.

Hulle sit weerskante van die dik glasafskorting, elkeen op ’n houtstoeltjie wat aan die vloer vasgeskroef is. Hulle leun vorentoe, hul koppe naby mekaar. Hulle praat deur die luidsprekers voor hulle met die dringendheid van verliefdes wat weet hul tyd word afgemeet.

Dis ’n Sondagmiddag in die Johannesburgse Gevangenis by Diepkloof.

Sonja Crocker en Jacques Snyman sien mekaar vir die vierde halfuur sedert sy in die tronk is. Nog twaalf uur wag op die mooi, skraal vrou wat Miceala Hunter uit haar ma se arms ontvoer het toe sy ’n dag oud was.

In die lang maande dat die hofsaak voortgesleep het, het die koerante geskryf hoe emosieloos Sonja lyk, hoe sy gedurig met haar ringe sit en speel, so amper of sy verveeld is. Daar was min simpatie vir haar.

Jacques was altyd in die hof, en oor hom het hulle ook geskryf. Dat hy vir Sonja kos geneem het in die polisieselle in Newlands, elke dag van die 10 maande wat sy daar aangehou is. Maar ook vir hom was daar min simpatie. Sonja en Jacques het bekend geword, maar soos ongewilde karakters in ’n sepie.

Nou is daar ’n nuwe drama: sy, die gevangene, hy die minnaar wat jare vir haar sal moet wag.

Sy is nie gelukkig hier in Diepkloof nie, sê sy vir hom. Sy swaai haar bene heen en weer. Hulle is spierwit, sy was omtrent 11 maande laas in die son. Sy het nie vriende nie, sê sy. Sy lees ’n bietjie, maar die meeste van die tyd huil sy net.

'n Uitknipsel in die oorspronklike Huisgenoot-artikel wys Sonja en haar geliefde Jacques.

Hul tyd is om. Net voordat hy gaan, gee sy vir hom ’n brief aan, ’n dikke. Dè, lees, sê sy. Hy lyk verbaas.

Sy het dit in die sel geskryf, verduidelik sy, in die lang, eensaam ure alleen, met niemand om mee te praat nie. Op ’n vreemde manier het dit getroos, om alles weer op papier te sit.

En op dié nege bladsye blokkiespapier vertel Sonja meer as wat sy ooit gesê het. Die meisie wat skynbaar sonder gevoel was, stort eindelik haar hart uit. Haar gevoelens vir Micaela loop sterk en diep.

“Ek ken die klein mensie wat ek grootgemaak het, ek weet sy sal my eendag vind,” skryf sy.

“Ek sal vir daardie dag wag. Ek is so lief vir Micaela, ek bid vir die dag wat sy my sal vind, en ek weet sy sal.  Dan kan ek haar vertel hoe lief ek vir haar is, ek sal nooit ophou om vir haar lief te wees nie.

“Ek weet ook dat sy eendag haar ander ‘broer en suster’ sal wil ontmoet. Dit mag dalk die Hunters seermaak, maar hulle sal dit moet aanvaar, sy is ’n vasbeslote klein meisietjie. Amber en Tyrell het ook hul klein sussie verloor.

“Ek verlang so na Micaela, ons was so na aan mekaar. Ek het alles gedoen wat ek kon om vir haar die beste ma moontlik te wees. Micaela was lief vir my en ek was lief vir haar.”

'n Blik in die verlede.


“Ons het ’n band gehad wat nooit gebreek sal word nie, anders as wat Renée Potgieter (Micaela se terapeut) in die hof gesê het. Die dinge wat sy gesê het, was so eenvoudig en wreed. Die mense wat hul bevooroordeelde, eensydige gevolgtrekkings maak, ken my nie, weet nie hoe ek voel nie. Dis jammer Renée het nie met my kom praat nie.

“Die eerste keer dat ek haar vasgehou het, was Micaela al my kind en nie ’n vreemde nie. Ek sal nooit ophou om vir haar lief te wees nie. Sy is ’n baie spesiale klein meisietjie, my klein meisietjie.

“Ek sal nooit ophou om daardie pragtige gesiggie voor my te sien nie. Ek was altyd seker sy het ’n strale kransie bokant haar kop. God, ek verlang so baie!

“Sy is die enigste perfekte kind in die wêreld, sy is gewoond aan baie drukkies en liefde van my. Ek het haar nooit geslaan nie, sy was nooit stout nie.

“Toe ek Micaela ontvoer het, was dit vir sekuriteit, maar sy het gou die belangrikste ding in my lewe geword.

“Ek voel baie jammer vir die Hunters. Al wat ek vir hulle kan sê , is ’n baie patetiese ‘jammer’, wat natuurlik nooit die pyn sal kan uitwis wat ek hulle aangedoen het nie. Maar ek weet God sal my gebede beantwoord en sal met tyd help om van daardie pyn uit te vee.

Ek het geweet ek kon nie omdraai nie. Ek het klere in my baaikostuum gedruk, maar ek was nie seker dat ek almal oortuig het nie.
Sonja Crocker

“Die twee keer dat ek die Hunters op die TV gesien het, het dit te veel seergemaak. Ek het uit die kamer uitgehardloop. Ek kon dit nie verdra om die pyn te sien wat ek hulle aangedoen het nie.

“Maar ek was toe al te lief vir Micaela om haar terug te gee. Ek was ook bang dat ek gearresteer en weggeneem sal word van my klein Amber en Tyrell.

“Ek het saam met Alison Hunter gehuil toe sy getuig het. Ek weet hoe dit voel om Micaela te verloor, sy was eens op ’n tyd my baba ook!

“Ek was bly om te hoor dat die Hunters Micaela op my verjaardag gedoop het (ek is op 16 Mei 1970 gebore), hoewel ek seker is hulle het dit nie besef nie.

“Ek hoop net al die lewens wat in stukkies gebreek is, kan nou weer opgetel en herbou word. Ek voel so jammer vir al die mense wat ek seergemaak het. As ek maar net kon teruggaan en al die skade wat ek aangerig het, kon ongedaan maak.

“Ek bid elke aand dat God al die skade wat ek aan Micaela gedoen het, ongedaan sal maak. En ek weet sy sál eendag verstaan!

Sonja beskryf ook opnuut wat haar daartoe gedryf het om Micaela te ontvoer.

“Voordat ek Micaela gekry het, het ek deur hel gegaan. Charles (Macdonald, haar minnaar destyds) het baie met my gebaklei en gesê hy wil ’n baba hê. Ek het hom vertel ek is gesteriliseer omdat ek nie meer kinders wou hê nie, maar dit het nie gelyk of hy verstaan nie. Dit was so moeilik, hy het ook baie gedrink. Ek was altyd bang vir Charles.

“Ek het uiteindelik besef die enigste manier om Charles gelukkig te maak  oor ’n baba is om swanger te raak. Op daardie manier sou my ander twee kinders se toekoms veilig wees, kon ek hulle die lewe gee wat hulle verdien. Ek wou so graag ’n baba hê dat ek uiteindelik self geglo het ek is swanger. Ek het twee tuis-swangerskaptoetse gedoen, en albei was positief.

“In my agterkop het ek geweet dis medies onmoontlik, maar ek was desperaat. Ek was te bang om na ’n dokter toe te gaan, want ek wou nie hoor ek was nie swanger nie. Ek het aangehou om myself te oortuig ek is swanger. Charles was uiteindelik gelukkig.

“Toe ek ’n paar weke later begin bloei, was ek baie ontsteld.

“Maar ek het geweet ek kon nie omdraai nie. Ek het klere in my baaikostuum gedruk, maar ek was nie seker dat ek almal oortuig het nie.

“Charles het vertel dat ek rekmerke met sy suster in die sitkamer vergelyk het, maar dis ’n leuen. Ek is ’n private en skaam mens, ek sal nooit my lief aan iemand wys nie, veral nie op so ’n manier nie.

“Charles se ma en suster was agterdogtig oor die ‘swangerskap’. Dis snaaks hoe almal nou onskuldig is en ek is die enigste skuldige!

“Gedurende die dag, wanneer ek my liggaam met klere opgestop het, was dit baie ongemaklik. Snaaks genoeg, Charles wou nooit sy ‘baba’ voel beweeg nie. Hy wou nooit aan my maag vat nie. Toe sy ma en suster Jane gesê het die swangerskap duur te lank, het hy gesê hulle moet sy sake uitlos.

“Saans het ek in die bed geklim soos ek regtig gelyk het. Ons het gemeenskap gehad terwyl my maag so plat soos ’n pannekoek was. Tog het hy niks gesê nie. Hy wou nooit eens saam met my dokter toe gaan nie.

“Toe ek ‘vyftien maande’ swanger was, het hy besluit hy wil ’n baba hê. Dit was toe ek desperaat was dat ek klein Shannon gaan steel het.

“Die oggend toe ek Micaela gaan vat het, was ek baie bang en senuweeagtig. Charles het my die vorige nag vertel dat hy nie omgee waar ek ’n baba kry nie, ek kan een bedel, koop, leen of steel, solank hy net die volgende dag ’n baba het.

“Hy het gesê sy familie het vrae begin vra, sy ouers wou weet wanneer hulle kleinkind aankom. Charles het altyd na sy ouers geluister.

“Ongeveer vier dae nadat ek Micaela ontvoer het, het Charles se suster gesê ek lyk soos die vrou op die identikit. Ek het Charles vertel en hy het gesê ek moet stilbly, wat sal hy vir sy familie sê? Sy ouers sal vernietig wees.

“Dis waarom ek so geskok was toe hy navraag doen oor ’n geboortesertifikaat. Hy moes geweet het ek het nie een nie.”

Sy vertel ook waarom sy Micaela by hom gelos het.

“Charles het my dikwels geslaan. Twee keer moes my suster hom van my aftrek. Ek weet nie wat sou gebeur het as sy dit nie gedoen het nie. Charles het my ook voor my kinders geslaan soos die dag toe ek Micaela by hom gelos het.

“Hy het my in die straat in die gesig geslaan. Toe ek hom volg huis toe, het hy my voor die kinders in die kamer rondgegooi.

“Dit was die dag wat hy gesê het hy wil nooit weer een van die drie kinders sien nie. Ek het toe gesê ek kon nie na al drie kinders kyk nie, ek het nie geld nie. Hy moet na Micaela kyk totdat ek haar kon kom haal.

“Ek kon nie vir haar gaan kuier nie, want hy het die huishulp aangesê om my nie by die huis te laat ingaan nie. Een dag het ek soontoe gegaan en die huishulp was jammer vir my en het Micaela by my in die motor laat sit.

“Charles het onverwags huis toe gekom, haar weggevat en vir my gesê om nooit weer naby haar te kom nie. Hy het gesê hy sal die huishulp afdank as sy dit weer toelaat.

Oor haar eie kinders skryf sy ook. “Op 29 November was Tyrell se verjaardag, ek het hom so gemis. Ek wonder die hele tyd wat my kinders doen. Ek verlang baie na hulle. Amber het so ’n sagte hartjie. Daar is nou twee klein kindertjies sonder hul ma, en dit breek my hart.

“Ek het nog nie die moed om my kinders te sien nie. Ek sal hulle deur glas moet sien en dit sal hulle en my hart breek. Ek is nog nie gereed om in daardie seergemaakte klein ogies te kyk nie, ek het al klaar genoeg skade gedoen.”

Dis haar en Jacques se liefde wat haar aan die gang hou, skryf sy.

“Ek sal myself nooit kan vergewe vir die pyn wat ek so baie mense aangedoen het nie. Maar ek weet, Jacques, dat jy wat die regte ek ken, my vergewe het. As dit nie vir jou liefde en begrip was nie, sou ek dit nie so ver kon maak nie.

“Al waaraan ek dink, is jy. Ek wonder wat jy doen, of jy so alleen en vol seer is soos ek. Ek mis jou so baie!

“Almal sê ek is Suid-Afrika se mees gehate vrou. Hulle is verkeerd. Met jou nimmereindigende liefde, is ek Suid-Afrika se mees geliefde vrou.

“Al waarvan ek nou seker is, is jou liefde en die wete dat ek dit altyd sal hê. Jy is een van die mees spesiale, onselfsugtigste mense wat ek ken. Almal wat ons geken het, het gesê ons liefde sal nie hou nie. Maar ons het hulle verkeerd bewys en ek weet ons sal dit aanhou doen.

“Terwyl ek in my sel sit, kan ek net dink aan die waardevolle tyd wat ek van jou en my kinders weggehou word.

“Die bietjie tyd wat ons het om mekaar te sien, breek my hart. Ek het jou nou so nodig, ek kan jou nie eens aanraak nie. Ons sal eendag in die toekoms weer saam wees. Ek bid vir daardie dag.

“Ek weet ons liefde sal seëvier en ons sal dit maak tot aan die ander kant van hierdie donker tonnel.”

Agter op die bruin koevert het sy geteken: S. Snyman.

Jacques sit in die sitkamer van sy ouers se huis in Johannesburg. Vir die eerste keer is hy bereid om reguit te praat oor die liefde tussen hom en Sonja, of die dag toe Sonja hom vertel het van Micaela, oor haar inhegtenisneming, oor hul hartseer, oor hul toekoms, eendag as Sonja vrygelaat word.

Jacques by Sonja se briewe.


“Ek weet wat hartseer is,” sê Jacques. “Dis nie lekker om huis toe te kom na niks nie.”

Hy sal vir Sonja wag, sê hy.

“Ek sal nie huiwer om met Sonja te trou nie. Die dag dat sy by daardie hekke uitstap, sal dit ek wees wat saam met haar loop.”

Jacques steek ’n sigaret op. “Ek sal my gedra terwyl sy daar binne is. Ek wil nie eens ander meisies ontmoet nie. Ek is besig om vir ’n saak te veg. Ek is op my eie manier besig om vir haar misdaad te boet.”

’n Mens moet die misdaad en die mens wat dit gepleeg het, skei, sê hy. “Iets het skeefgeloop. Ek ken Sonja. Ek het Sonja so lief. Ek het eers by haar geleer wat liefde is.”

Op ’n tafeltjie staan ’n foto van Jacques en Sonja in outydse klere. Dis by Gold Reef City geneem, ’n paar dae voor Sonja se inhegtenisneming.

Jacques het toe al geweet iets pla Sonja, maar hy sou nooit kon raai wat dit was nie. Haar gesig lyk strak onder haar hoedjie.

“Ons het twee jaar saamgewerk voordat ons ’n verhouding aangeknoop het,” sê Jacques. “In daardie tyd het ek gesien dis soms asof Sonja so diep in haar gedagtes wegraak, dis amper asof sy in ’n beswyming gaan. Ek het dikwels gewonder wat pla haar.”

Jacques speel met die agt goue ringe wat Sonja tydens die verhoor gedra het. Sy het hulle vir hom gegee om te berê die dag toe sy gevonnis is.

Jacques het vroeg in hul verhouding sy ma gebel. “Ek sal nou vir die eerste keer in my lewe ’n vrou se kinders aanvaar,” het hy gesê.

“Ek kon sien Micaela lyk anders as Amber en Tyrell, maar dit was duidelik dat sy baie lief was vir Sonja,” vertel hy. “Sy het baie op Sonja se skoot gelê en met haar hare gespeel.”

Hulle was net drie maande saam toe Sonja in hegtenis geneem is. Die oggend tevore het sy Jacques gebel en gereël om hom te ontmoet.

“Sy het gesê sy wil my iets vertel, maar sy is bang dit sal ons verhouding verbreek. Sy het iets gesê soos ‘Shannon is nie my kind nie. Ook nie Charles s’n nie. Dis iemand anders s’n.”

“Ek het dit eers nie mooi verstaan nie. Toe tref dit my. ‘Is dit Micaela?’ Sy het haar kop geknik en begin huil.

“Ek het yskoud geword. Ek was nog altyd jammer vir die Hunters. Ek weet hoe dit voel om iemand te verloor. Albei my susters is binne sewe maande oorlede.

“Ek het gesê: ‘Wat gaan ons doen’ Ons moet haar teruggee.’ Ons het daaraan gedink om Micaela anoniem terug te gee. Maar Sonja wou haar nie net iewers gaan aflaai nie. Sy was bang Micaela kom iets oor.

“Sonja is terug na Charles, en hulle het gereël om die aand ’n prokureur te spreek. Ek was ook daar. Ek het gesê ek sal Sonja polisiestasie toe neem. Maar dit het laat geword en ons het almal saam besluit om Micaela nog ’n dag te hou.”

Die volgende middag het Jacques vir Sonja by haar suster gaan aflaai en werk toe gegaan. Die polisie het hom daar ingewag. Daarna het hy hulle na Sonja geneem.

“Sy het by hulle in ’n rooi polisiemotor geklim. Ek wou hulle volg, maar hulle het vir my weggery. Ek het soos ’n kind gehuil terwyl ek na haar gesoek het. Toe het ek huis toe gegaan en verder gehuil.”

Uiteindelik het hy haar opgespoor in die polisieselle in Newlands, Sonja was so vreesbevange dat sy hom deur die tralies vasgegryp het. Later is sy na ’n sekuriteitsel oorgeplaas.

Op 22 November, die dag nadat Sonja opgesluit is, het sy vir Jacques geskryf: “Dit voel asof hulle my hart uitgeskeur het en daarop gespring het. Ek is so eensaam. Elke keer as ek na jou foto kyk, begin ek bewe en huil. Ek weet nie hoe ek hierdeur gaan kom nie. Ek sal dit net maak as jy by my is.

“Ek mis jou so baie. My hart is so seer. Ek is ’n senuweewrak. Ek wens ek kan saam met jou huis toe gaan. Ek hou aan om myself te knyp en ek dink ek sal enige oomblik wakker word en dan sal jy langs my wees.

“Ek gaan nou slaap sodat môre gou kan kom, en ek jou kan sien. Moet asseblief nie vergeet hoeveel ek jou liefhet nie.”

In ’n groot wit kou in die hoek van die sitkamer wip ’n grys papegaai rond. Dis Sonja s’n, wat Jacques vir haar oppas. Skielik roep hy: “Jacques!”

“Luister, dit klink net soos Sonja,” sê Jacques. “Hy maak haar stem presies na.”

Hy glimlag. “Sonja is die vrou vir my. Dis my bokkie daardie.”

Sonja Crocker, die vrou wat Micaela Hunter uit die hospitaal ontvoer em die land twee jaar laat gis het oor waar die baba haar bevind. Foto: Huisgenoot-argief


Wie praat die waarheid? Charles Macdonald of Sonja?

“Ek het haar net twee keer geslaan,” sê Charles. “Die een keer was in die motor in die straat, die dag toe sy Micaela by my gelos het.”

Hy erken wel dat hy drink.

“Ek drink wel naweke, en soms word ek dronk, ja.”

Hy vertel dat hy eers gedink het Sonja is gesteriliseer, maar voordat sy by hom ingetrek het, het sy gesê sy is swanger.

“Ek het aanvaar sy is swanger, ek het gedink sy het dalk die sterilisasie laat herstel. Ek was nie juis bly oor die swangerskap nie, hoewel ek dit later aanvaar het. Ek het nooit vir haar gesê ek wil graag ’n baba hê nie.”

'n Knipsel uit die oorspronklike artikel wat in Huisgenoot verskyn het.


Charles hou vol dat Sonja haar rekmerk aan sy suster en aan hul huishulp gewys het.

Hy dink sy suster het vir hom gesê sy is agterdogtig omdat Sonja so lank swanger was, sê hy. “Ek het aan haar verduidelik dat sy ’n miskraam gehad het en weer swanger geraak het.”

Ja, dis waar dat hy nooit die baba wou voel beweeg of aan Sonja se maag wou vat nie, sê Charles. “Ek is net nie so ’n soort mens nie. En ek het gedink haar maag is groot toe ons in die bed was. Ek kon nooit saam met haar dokter toe gaan nie, omdat ek gewerk het.”

Op Sonja se aantyging dat hy gesê het sy moet iewers ’n baba kry, al steel, bedel, leen of koop sy een, sê hy: “Ek het nooit daardie woorde gesê nie. Sonja het omtrent ’n week voor die tyd gesê sy gaan daardie dag ’n keisersnee kry.”

Dis waar dat iemand in sy familie gesê het Sonja lyk soos die vrou op die identikit, sê hy. “Hulle het net grappies gemaak. Ek het nooit gedink sy lyk soos die vrou op die identikit nie, en ek dink nou ook nie so nie. As ek gedink het die baba is Micaela, sou ek haar teruggegee het.”

Dis nie waar dat hy geweet het Micaela het nie ’n geboortesertifikaat nie, sê hy ook. “Ek was twee weke ná die kind se geboorte in Durban, en Sonja het gesê sy het in dié tyd die baba geregistreer.”

Hy het gesê sy moet die kinders neem, want hy wou Sonja nie meer in sy lewe hê nie. “Maar sy het gesê ek moet Micaela hou, sy is my kind. Ek het haar belet om Micaela te sien, want as sy weg was, het Micaela gehuil en ek moes haar troos.

“Sy het nooit gesê sy sal Micaela kom haal nie. Sy het dan ’n brief geskryf waarin sy my volle toesig oor die kind gee.”

  • In die nuutste uitgawe van jou gunstelingtydskrif praat Amber Botha, Sonja Combrink se dogter, vir die eerste keer openhartig oor haar kinderjare saam met klein Micaela en hoe sy as 28-jarige steeds antwoorde by haar ontvoerder-ma soek. “Ek wil weet of dit die moeite werd was vir haar om haar eie kinders se hele lewe weg te gooi. Ek wil weet waarom was ons nie goed genoeg vir haar nie, waarom sy gevoel het sy moes ’n ander kind steel,” vertel Amber – vandag self ’n ma van twee – in ’n roerende onderhoud met Huisgenoot se Joanie Bergh.