Daar sal Dinsdag wel in die geheim gestem kan word in die wantrouemosie wat teen pres. Jacob Zuma ingestel is.

Die plan is dus dat diegene onder die sowat 400 lede van die Nasionale Vergadering wat wel by die parlement teenwoordig is, sal stem of ons omstrede staatspresident, wat al verskeie sulke mosies oorleef het, moet gly of bly.

Die speaker se aankondiging het weliswaar die wind uit talle se seile geneem omdat daar grootliks daaraan getwyfel is of sy wél die geheime stemproses sal goedkeur.

Die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), Julius Malema, het in die verlede gedreig om haar hof toe te sleep indien sy nie die geheime stem sou toestaan nie.

Die grondwethof het in Junie bepaal Mbete het wel die mag om oor ’n geheime stem te besluit al dan nie.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het in sy uitspraak destyds gesê “daar moet altyd ’n rasionele basis wees vir watter keuse die speaker ook maak in die uitoefening van die grondwetlike reg om die stemprosedure te bepaal.”

Mosie van wantroue: knou vir die ANC, ongeag uitslag

Selfs al skaar genoeg ANC-parlementslede hulle by die opposisie om Zuma uit die kussings te lig, sal die ANC in beheer van die onmiddellike situasie bly omdat hulle die meerderheid in die parlement het en 'n ander ANC-parlementslid gekies sal word om as president te dien, skryf prof Roger Southall, politieke ontleder van die Universiteit van die Witwatersrand, in 'n meningstuk vir theconversation.com.

En tog, hetsy hulle nou die stemmery wen of verloor, bly die gevolge vir die ANC droewig. 

Drie moontlike scenario's staar die party volgens Roger in die gesig:

'n Beduidende meerderheid

  • Die ANC wen die stemmery met 'n beduidende meerderheid, met net 'n handjievol ANC-parlementslede wat saam met die opposisie stem.
  • Al is die veronderstelling dat dít dan 'n groot oorwinning vir die regerende party sal wees, sal dit nie net die parlementêre opposisie teen die bors stuit nie, maar ook grootliks teen openbare mening landwyd indruis.
  • Die ANC sou immer só kies om 'n diep korrupte president in die tuig te hou, met waarskynlik rampspoedige gevolg by die stembus later.
  • Enige interne ANC-"hervormingsprojek" sal dan heel waarskynlik misluk.

'n Klein meerderheid

  • Die ANC skraap deur met 'n klein meerderheid, 'n aanduiding dat 'n beduidende aantal van hul parlementslede vir Zuma se vertrek gestem het: Dit kan groot onstuimigheid in die party veroorsaak.
  • Sal die 'afvalliges' aan party-dissipline onderwerp word? En sê nou hulle sluit party-swaargewigte - en moontlike kandidate vir die partyleierskap by die ANC-verkiesingskonferensie  einde vanjaar - soos Cyril Ramaphosa en Lindiwe Sisulu in?
  • Om hulle aan party-dissipline te onderwerp sal nie net die risiko skep van reuse interne partyverdeeldheid nie, maar selfs 'n skeuring in die party en 'n verdere gevaar dat hulle met die opposisie kan saamspan.

Die tuig neerlê

  • Die ANC verloor die stemmery en Zuma word gedwing om as staatspresident die tuig neer te lê. In dié geval is die ANC openlik verdeeld en bars die hel behoorlik los binne die party in die aanloop tot hul verkiesingskonferensie.
  • 'n ANC-LP, waarskynlik adj-pres Cyril Ramaphosa word as staatspresident verkies, maar Zuma bly vir eers partypresident.
  • Sou hulle Zuma vervolgingsamnestie aanbied, kan hulle 'n hewige openbare teenreaksie verwag.
  • Doen hulle dit nie, kan sy verhoor beteken dat baie van die party se vuil wasgoed in die openbaar gewas word.
Wat ook al gebeur, Zuma sal steeds voluit en gewetenloos daaraan werk om die partypresidentskap vir sy eksvrou en gunstelingkandidaat, Nkosazana Dlamini-Zuma, te verseker, meen Roger.

Top-ekonomiese ontleder se voorspelling

Peter Attard Montalto, 'n internasionaal gerekende ekonoom by die Nomura-groep,  meen die mosie van wantroue in Zuma bly gedoem tot mislukking, hetsy 'n stemmery in die oopte of geheim.

Nomura het vroeër vanjaar beraam daar's 'n 20 persent kans dat Zuma voor begin aanstaande jaar vertrek.

"Ons glo steeds pres. Zuma sal uiteindelik die tuig neerlê, maar uit eie wil, op versoek van sy eie faksie en slegs as sy kant - vir wie Dlamini-Zuma die huidige kandidaat is - in Desember wen.

Twitter se reaksie

Bronne: news24.com theconversation.com, fin24.com