Jou kleinding is skaars gebore, toe staan geliefdes tou om die pienkvoet te ontmoet. Nie net moet jy hulle almal onthaal nie; jy moet ook jou baba versorg, die huishouding aan die gang hou en aandag gee aan die res van jou gesin. Kort ná die geboorte van ’n baba kan die druk dreig om te veel te raak. Hier’s raad oor nageboortelike depressie.

Wat is nageboortelike depressie?

Dit is depressie wat ná geboorte toeslaan. Moederskap is vir die meeste vroue ’n groot aanpassing en party ma’s word deur angstigheid oorweldig en raak terneergedruk, sê Nicole Roux, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad. “Dit begin gewoonlik met oorweldigende moegheid. Daarna voel ma’s dikwels huilerig en neerslagtig.”

Die simptome ontwikkel gewoonlik in die eerste drie maande ná die geboorte, sê Pam Gillingham, direkteur van die Family Life Centre, maar dit kan tot ’n jaar ná die geboorte voortduur.

Van die simptome is:

  • terneergedruktheid en hartseer;
  • huilerigheid sonder rede;
  • moedeloosheid en gevoelens dat jy ’n slegte of onbekwame ma is;
  • swak slaappatrone en gedurige moegheid;
  • kwynende eetlus;
  • geen belangstelling in intimiteit nie; en
  • selfdoodgedagtes of gedagtes om jouself of jou baba seer te maak.

Depressie of net ’n moeilike aanpassing?

Vir die meeste ma’s is te min slaap, die verantwoordelikheid van ma-wees en die aanpassing by ’n nuwe roetine ’n uitdaging. Dis dus normaal as jy aan die begin buite jou gemaksone en moeg voel. Maar as jy die gemelde simptome lank en in ’n ernstige graad ondervind en dit verbeter nie mettertyd nie, moet jy by ’n kenner om hulp aanklop.

Hoe raak depressie my baba?

  • Kommer oor die uitwerking van jou depressie op jou baba kan jou nog meer gespanne maak; dis dus belangrik dat jy hulp kry.
  • Ma’s met nageboortelike depressie sukkel dikwels om ’n band met hul baba te smee of gehaltetyd saam met hulle deur te bring.
  • Depressiewe ma’s wat borsvoed, sukkel dikwels met voedings.

Hoe word dit behandel?

  • As jy die simptome daarvan by jouself of ’n vriendin herken, is dit verstandig om professionele hulp te kry, sê Nicole.
  • Spreek ’n sielkundige of psigiater of vra jou huisdokter om jou na een te verwys. Hulle sal ’n diagnose maak en behandeling aanbeveel.
  • ’n Psigiater kan vir jou medikasie voorskryf as dit nodig is.
  • Sluit by ’n steungroep aan. Dit kan terapeuties wees om oor jou ervaring te praat en ander ma’s te ontmoet wat in dieselfde boot is.
  • Raadpleeg organisasies wat inligting oor nageboortelike depressie versprei en mense hieroor bewus maak. Hoe beter jy daaroor ingelig is, hoe makliker kan jy dit hanteer.

Hoe help ek ’n depressiewe vriendin?

Geliefdes met wie die ma ’n hegte verhouding het, sal dikwels eerste simptome van depressie by haar raaksien, sê Pam. So ’n ma kan huiwerig wees om te erken sy het hulp nodig, sê Nicole. “Neem die leiding en praat met haar.”

Wees sensitief; vra of sy daaroor wil praat.

  • As sy huiwerig is om haar hart teenoor jou uit te praat, raai haar aan om haar huisdokter, ’n sielkundige of psigiater te spreek.
  • Stel dit duidelik dat jy nie dink sy’s ’n onbekwame ma nie, en dat haar stryd normaal is.
  • Bied aan om haar baba ’n rukkie op te pas.
  • Bied aan om haar met huishoudelike take soos kos maak en skoonmaak te help.
  • Luister sonder om raad uit te deel.

Wat kan pa’s doen?

Die situasie kan ook vir die pa van die baba ’n uitdaging wees, sê Pam. So kan hy help:

  • “Die pa se steun is belangrik. Hy moet aanvaar nageboortelike depressie is nie ongewoon nie en ook nie ’n teken van ’n gebrek aan ouerskapsvaardighede nie,” sê Pam.
  • Hy moet besef die ma kon nie dié toestand verhoed nie en kan haar nie net regruk nie.
  • Pa’s kan hand bysit met huishoudelike take. Te min slaap, te min tyd vir haarself en om haar verantwoordelikhede te balanseer dra alles by tot ’n nuwe ma se depressie.

Hier’s hulp

Die Postnatal Depression Support Association of South Africa help ma’s wat met nageboortelike depressie sukkel. Bel hulle by 021-823-7333 of gaan na www.pndsa.org.za vir inligting oor simptome, spesialiste en steungroepe in jou omgewing.

- Mieke Vlok

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.