[caption id="attachment_56941" align="alignnone" width="600"]Pravin Gordhan (Foto: Dino Codevilla) Pravin Gordhan (Foto: Dino Codevilla)[/caption]>/center>

Dit is die strekking van ’n aankondiging deur adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), dat ’n span vervolgers reken daar is genoeg getuienis om Gordhan te vervolg. Die Valke het die kwessie ondersoek.

Hy word saam met twee voormalige kollegas van hom, Ivan Pillay en Oupa Magahsula, aangekla.

Die klagte hou verband met ’n besluit in 2010 om Pillay – op daardie stadium adjunkkommissaris van inkomste by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) – vroeg te laat aftree en weer op kontrakbasis aan te stel. Gordhan was toe minister van finansies en Magashula kommissaris van inkomste.

Abrahams het tydens ’n nuuskonferensie by die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se hoofkantoor in Pretoria gesê daar was geen politieke inmengery by die besluit gewees nie en dat daar niks vreemds aan sy besluit is nie. “Die gereg moet toegelaat word om sy gang te gaan,” het hy bygevoeg.

Die NDOV het ook breedvoerig uitgewei oor ’n ondersoek na die SAID se koverte ondersoekeenheid, die sogenaamde “rogue unit”, en gesê die ondersoek daarna is nog nie afgehandel nie.

Gordhan is vroeër in 2016 deur die Valke oor dié eenheid ondervra. Sy regsverteenwoordigers hou vol daar is geen gronde in wetgewing om Gordhan daaroor te vervolg nie. Hy is ook nie in verband daarmee aangekla nie.

Gordhan het in reaksie volgens News24 by ’n geleentheid in Johannesburg gesê die tyd het gekom waar Suid-Afrikaners moet vra in wie se belang die Valke en die NVG optree.

Hy en ’n klomp sakeleiers was verlede week in New York en Washington waar hulle probeer het om sakevertroue in Suid-Afrika se ekonomie te herstel.