Dit is heeltemal verstaanbaar dat ouers verward is oor wanneer (en of) hulle hul seuns moet laat besny. Daar is tallose redes om te oorweeg, insluitend geloof, kultuur, higiëne en sosiale oorwegings. Ons kenners gee raad.

Volgens die departement van gesondheid is sowat 1 miljoen mans besny sedert die nasionale besnydingsprogram twee jaar gelede van stapel gestuur is. Die algemene konsensus onder die meeste mediese praktisyns is kinders wat voor eenjarige ouderdom besny word se kans om urienweginfeksies op te doen amper 10 keer minder is. Dit verminder ook die risiko vir penisinfeksies, -irritasie en -inflammasie.

Ten spyte van die nasionale program is sommige ouers egter steeds gekant teen die prosedure. “Daar is ’n groeiende stemming dat die verwydering van ’n kind se gesonde weefsel, wat gevolglik hul liggaam permanent verander, moreel onaanvaarbaar is,” sê dr. Leigh Holloway van die plaaslike TV-program Hello Doctor.

Dit is altyd ’n goeie idee om ’n dokter te sien en die saak te bespreek voor jy ’n besluit maak. As jy egter wel besluit om jou kind te laat besny, moet jy hierop let:

Wanneer moet jy dit doen?

Die uroloog dr. Shangai Motambirwa sê enige ouderdom bo agt dae is relatief veilig. Dr. Holloway stem saam en verduidelik: “Die meeste kinders gaan nie by geboorte ’n ten volle intrekbare voorhuid nie, maar teen die vroeë puberteitsjare kan hulle dit hê.” Dit beteken hoe vroeër die prosedure gedoen word, hoe beter.

Wat behels dit?

Dr. Motambirwa sê die prosedure duur sowat 15 minute, maar kan verskil van dokter tot dokter. “Oor die algemeen is die data oor die ‘sny en stik’- en ‘sny en gom’-proses gunstiger as dié met insnoeringstoestelle, wat gewoonlik meer komplikasies het,” voeg hy by. Bespreek die voorgenome metode met jou mediese praktisyn en laat hulle voor die prosedure aan jou verduidelik hoekom hulle dit gebruik, sowel as die moontlike risiko’s en gevolge. Jy het die reg op alle inligting voor jy ’n besluit maak.

Is dit seer?

Die pyn wat ná die prosedure ervaar word, verskil nie volgens ouderdom nie, sê die meeste dokters. “Wanneer die verdowing uittrek, sal daar ’n paar dae ’n effense kloppyn wees, soos met enige snyplek,” verduidelik dr. Motambirwa. “Die enigste tyd dat pyn by die snyplek erger kan raak, is wanneer die pasiënt ’n ereksie kry – insluitend kinders wat minstens twee tot drie ereksies per nag kry.” ’n Gewone pynpil of -stroop kan die week ná die prosedure toegedien word.

Wanneer moet dit nie gedoen word nie?

Dr. Holloway waarsku dat kinders met die seldsame toestand hipospadias (waar die opening van die uretra aan die basis van die penis sit) of ’n bloeisiekte nie besny moet word nie.

Dr. Motambirwa se topwenke:

Met besnyding se voordele met betrekking tot die voorkoming van MIV in gedagte, moet die prosedure gedoen word voor die pasiënt seksueel aktief is.

’n Man of kind wat ’n tradisionele besnydenis (inisiasie) wil ondergaan, moet eerder die besnyding self by ’n dokter laat doen en dan net die “opleiding” ondergaan.

- Koketso Mashika

Ekstra bron: kidshealth.org