Hulle is nog te klein om die alfabet te ken; tog kan kinders selfs al op vyf jaar op skool van masturbasie leer. Dis ’n aanbeveling in die konsepverslag van die Verenigde Nasie se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) oor omstrede nuwe riglyne vir seksopvoeding wat na regerings en onderwysinstellings wêreldwyd gestuur word.

Die honderd bladsy lange verslag doen aanbevelings oor wat onderwysers moet insluit in seksopvoedingsklasse en wanneer. Talle behoudende groepe is daarteen gekant, en sommige ouers het op internetblogs daaroor gekla.

Volgens die verslag moet kinders selfs al tussen vyf en agt geleer word hul “lyf kan lekker voel wanneer daaraan gevat word”, “’n mens noem dit masturbasie wanneer jou geslagsdele gevryf word” en “volwassenes betoon op verskillende maniere hul liefde aan ander mense, onder meer deur seks”. Die verslag beveel ook aan dat kinders in dié ouderdomsgroep eenvoudige onderrig kry in bevrugting, swangerskap en geboorte.

Kinders tussen nege en 12 moet leer van “die verhouding tussen opwinding en vaginale smering”, “dat mans sowel as vroue seksuele genot kan gee en ontvang” en oor “toegang tot veilige aborsies en die gebruik van noodvoorbehoedmiddels”.

Ondanks die teenkanting, hou Unesco voet by stuk, en sê dit kan lewensgevaarlik wees as kinders onkundig oor geslagsake is. Volgens hulle word te min jong mense wêreldwyd behoorlik op hul sekslewe voorberei, wat hul kwesbaar maak vir mishandeling, onbeplande swangerskap en seksueel oordraagbare siektes, onder meer MIV/Vigs.

Maar Cristine Scolari, ’n Johannesburgse kindersielkundige, beveel aan ouers vertrou hul instink. “Gewoonlik is die beste tyd om daaroor te gesels sodra ’n kind ’n vraag oor seks vra.”

’n Driejarige vra dalk waar babas vandaan kom. So knoop jy die gesprek aan en gesels soos wat dit geskik is vir jou kind se ouderdom. “Jy hoef nie daaroor uit te wei nie. Jy kan byvoorbeeld antwoord: ‘Die pappa plant ’n saadjie in die mamma se maag.’ Jou antwoorde sal meer besonderhede moet bevat namate die kind ouer word,” sê Cristine.

Volgens die Internasionale Federasie vir Beplande Ouerskap is daar jaarliks 100 miljoen nuwe gevalle van geneesbare seksueel oordraagbare siektes (SOS’e) onder kinders vanaf 10-jarige ouderdom, en elke jaar kry vyf miljoen meisies van 15 en ouer ’n aborsie.

Navorsers het, volgens die verslag, bevind as kinders oor hul lyf en sekssake opgevoed word voor hulle seksueel aktief raak, neem die voorkoms van SOS’e en aborsies af.

Benader die saak so:

  • Bly kalm sodat die kind nie dink hulle het iets verkeerd gedoen of gesê nie.
  • Dis normaal dat ouers verleë voel wanneer hulle oor seks praat, maar dis uiters belangrik. Hoe meer jy met jou kind oor seks praat, hoe minder geneig sal jou kinders wees om by problematiese of onvanpaste seksuele gedrag betrokke te raak wanneer hulle ouer is.
  • Kinders leer gewoonlik baie op skool; luister wanneer hulle praat. Wees ontvanklik om oor seks te praat en moenie die boodskap oordra dat seks taboe is nie.
  • Gebruik wenke uit hul omgewing. Byvoorbeeld, wanneer ’n ouer kind op die nuus hoor van seksuele mishandeling, sal dit voordelig wees om oor seks te praat, oor wat dit is en nie is nie.
  • Dit help om boeke oor seksopvoeding te hê; daar is ’n paar uitstekende boeke wat die onderwerp op ’n geskikte wyse behandel.

-Koketso Mashika

Ekstra bronne: un.org, dailymail.co.uk