Dit is nog nie duidelik wanneer die Spier-moord slagoffer, Susan Rohde, se man in die Stellenbosse landdroshof gaan verskyn nie.

Jason Rohde, die grootbaas van Sotheby’s in Suid Afrika, is Dinsdag by sy huis in Bryanston, Johannesburg, voor sy drie dogters deur agt gewapende polisiemanne in hegtenis geneem.

Susan se lyk is sowat ’n maand gelede in ’n hotelkamer by die spoglandgoed Spier buite Stellenbosch gevind. Ná daar aanvanklik vermoed is sy het selfdood gepleeg, het die polisie later bevind sy is vermoor.

Jason is egter nog nie formeel vir moord aangekla nie.

Sy eerste hofverskyning sou by die landdroshof in Randburg wees, maar dit is intussen na Stellenbosch verskuif omdat dit nader is aan die misdaadstoneel is waar sy vrou gevind is.

Kyk hier hoe word Jason Rohde deur polisie na die misdaadstoneel verskuif

Stellenbosch se landdroshof kon by navraag nie aan Huisgenoot bevestig wanneer Jason gaan daar verskyn nie, want papierwerk moet nog afgehandel word.

Ook Jason se prokureur, Daniel Witz, wou nie by navraag kommentaar lewer nie en het gesê daar heers nog onsekerheid. Sy regspan sal na verwagting môre aansoek doen om borgtog.

Daniel het Dinsdag aan Huisgenoot gesê Jason “staan sterk”.